‘n Sewentigmeter pypsteel

Wie sou nou kon dink dat ‘n sewentigmeter pypsteel só ‘n redding kan wees! Veral in ‘n tyd van afsondering.

Iemand het een keer gesê dat ‘n mens nie ‘n pypsteelerf moet koop nie. Hoekom, kan ek nou nie onthou nie, dit was seker die persoon se persoonlike voorkeur.

Hier waar ek tans bly, is ‘n pypsteel. Die pypsteel gee eintlik vir die erf baie privaatheid. Hier is ook baie bome op die erf, wat dit goed afsonder.

Maar Toortsie moet oefening kry. En Toortsie het nie regtig die persoonlikheid om ‘n ding te doen wat homself herhaal en herhaal en herhaal nie. Dus, om op en af te loop in ‘n pypsteel is nogal ‘n uitdaging.

Maar wie het gesê ‘n mens is nie ‘n aanpasbare wese nie? En wie het gesê ‘n mens kan nie iets nuuts aanleer nie, selfs teen daardie mens se persoonlikheidstipe?

Oor jare het ek my persoonlikheid al op baie maniere getroef. Ek het twee boeke uitgegee, van die begin tot die einde self gedoen of self bestuur, ek doen ook die bemarking self. Dis heeltemal teen my persoonlikheid om iets wat só lank vat, te voltooi. Ek daag myself baie uit en brei, hekel, borduur ‘n groot projek wat oor ‘n lang tyd gedoen word en voltooi dit.

Maar om op en af en op en af en op en af oor dieselfde 70 m te stap is ‘n ander storie. Selfs my honde dink dis malligheid en ‘sit op die pawiljoen’ terwyl ek die een lengte na die ander stap. Hulle lê of staan of sit maar eenkant en hou my dop om te sien of ek veilig is.

Christa van Staden het ons almal uitgedaag om in hierdie 21 dae iets nuuts aan te leer of af te leer. Ja, ek het ook al heelwat sulke uitdagings gedoen. 40 dae uitdagings. Of 10 dae van positiwiteit wat ek dan, sommer om my persoonlikheid te troef, uitrek tot 200 dae, tot almal se frustrasie.

In haar bloginskrywing oor introverte en ekstroverte en hoe hulle die inperking verskillend sal hanteer, vertel Blafwoef dat sy elke dag om die huis draf. Sy het begin met 5 keer en beplan om elke dag nog ‘n rondte by te voeg. Op die vraag oor die verskillende hantering van die inperking deur introverte en ekstroverte antwoord ek haar dat ek ‘n goeie mengsel van beide is. Ek kan myself goed besig hou op my eie, maar ek het ook mense om my nodig. Wanneer my seun werksvergaderings oor die internet het, spits ek my ore, net om die geskerts wat soms tussen hulle gebeur, te hoor, van die werksdinge verstaan ek net mooi niks. In my stappery in die pypsteel het ek al een motor, twee koskopers, een veiligheidswag en twee manne van ‘n sekuriteitsfirma gesien. Sjoe! Daar is sowaar nog lewe daar buite! Jey!

Gister het ek 6,3 km gestap in daardie pypsteel, net vir die rekord. Jy kan maar self uitwerk hoeveel keer se op en af dit is. Christa, ek leer mooi dat pypsteelstap moontlik is en is terselfdertyd so dankbaar vir ‘n pypsteel! Sjoe, ek kon dit nie gehad het nie, en dan?

Toortsie

21 thoughts on “‘n Sewentigmeter pypsteel

  1. Dis ‘n groot rede tot dankbaarheid dat ons nog ‘n huis het om in rond te loop (op en af met die houttrappe in my geval) en ‘n tuintjie buite waar ons kan loop. Ek het ‘n video gesien van die gehuggies in Alexandria, niks groter as die portaal bo my trappe nie, waar tot ses mense woon. In die hitte of koue met mure en dak van sink. Hoe sterk moet jy wees om lockdown in so ‘n plek te oorleef?

    Liked by 2 people

    1. Ek het dit vandag gou gewaag buite die hekke. Wat ‘n vreemde ervaring! Ek was na die naaste Spar. Daar was min mense, maar jy kan ‘n heilige respek tussen die mense sien. Niemand praat ‘n woord nie. Hulle ontsmet die waentjie voor jy dit kan kry. Daar is ook ‘n perspex afskeiding tussen my en die kassiere.

      Liked by 1 person

  2. My Pa het so om die ouetehuis gestap, agter die gerages om, langs die Murray-grafte en die Moederkerk verby, agterom die pastorie, verby die roostuin tot teen Baringstraat, dan weer op tot by Tulbachstraat en dan weer agterom tot teen die Sem se koshuise, weer verby die garages ………en toe trek die Bestuur sy handbriek op, so twee, drie jaar gelede sodat hy hom in sy ouetehuis-shack kan sit en dood verlang na die myle en myle se stap in die natuur, in die Sandveld, dan weer van die Eilamdhuisie af verby die Klein Gruis en die Groot Gruis af Pearly Beach toe, of van Nuwejaarsfontein tot by Klipfontein, op al Rooipoort se drieduisend morge. Om lankal so ingeperk te wees, is regtig erg. Ek ken dit self goed, vir ander redes. Nee, nie een van ons was in die tronk nie. 😀 Ek leer gereeld van nuwe Linux-bedryfstelsels en toets verskeie per dag. En ons leer om te oorleef op snackwiches en wat die Bybel beskryf as “fornicatious food.” Dis allesbehalwe Banting……. Eintlik het ons lewe min verander; ek stap net nie af see toe nie en sy gaan doen nie haar aflewerings bedags en kollekteer ‘n oulap nie. Ons leer hoe min Kapenaars vir mekaar omgee in sulke tye; mens leer nie net mooi goed nie. In hierdie stad is jy op jou eie.

    Liked by 1 person

      1. Dankie! Ons het al erger as dit oorl;eef, maar toe kon ons uitgaan en plan maak. Nou is ons ingeperk en sonder opsies en ek is diabeties, kan nie eiers eet of peulgroente nie, en koolhidrate is gif. Eergisteraand gedink my voetsole brand van my lyf af nadat osn pasta gehad het.

        Liked by 1 person

  3. Sodra dit ophou reën gaan ek ook daai ding doen, stap. Ek sal ongelukkig net deur en weer deur en om my plekkie stap en dit gaan baie gou gaan. Dalk begin met ‘n 100 keer?

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s