Sal die ware Toortsie opstaan?

Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is https://fresh.inlinkz.com/p/e3dfca20e90c4ae09d7312695a15b7f3

Blykbaar is ons nie meer te ver van die oomblik wat ons sal sien wat almal se ware kleure is nie. Ek bedoel, haarkleur. 😁

Ek het my pa se grys gene geërf en was nog op skool toe ek al my eerste gryshare uitgepluk het. Darem net so een-een. In my laat twintigerjare het die gryshare al sommer ernstig begin kop uitsteek. Vroeg in my dertigerjare was ek dus al verplig om my hare te begin kleur.

My eerste waagstuk was toe ‘n haarkapster helder kleure op my kuif gespuit het. Ek was mal daaroor. Dit was egter van korte duur.

Op ‘n stadium het ek by ‘n haarkapster uitgekom wat ‘n meesterskwalifikasie in haarkleur gehad het. Ons het net gekliek, tot die stille ontsteltenis van my gesin. Niemand het durf waag om iets te sê nie, maar almal het wel met ‘n knop op die maag gewag vir my om terug te keer van die salon af.

Esther het gewaag om interessante kleure in my kuif te sit. Soos in rooi. Bloedrooi. Net ‘n veertjie, het ek altyd gesê. Subtiel. Enige kleure van die reënboog.

Een keer het sy redelik waaghalsig geraak met my kop. In die salon het dit reg gelyk, maar toe die son daarop skyn, trek ek kleinkoppie. My hele kop was redelik rooi. 😳 Toe tref die realiteit my: My oom word daardie Vrydag begrawe. Ek kan nie met so ‘n kop begrafnis toe gaan nie! Op pad terug huis toe koop ek ‘n boksie donkerbruin haarkleursel en by die huis aangekom, kleur ek my kop oor. Dit was fataal!

Toe ek hoor my man kom by die huis aan, roep ek van ver af: ‘Hier is ‘n groot #%^*+!’ Wat ‘n gemors! My hele kop was oranje! 😳 Hare wil nie twee keer op een dag sulke ernstige chemiese behandeling hê nie.

Ek het al met ‘n kop wat blou skyn in die son, daar uitgeloop. Dit was nogal ‘n bietjie erg, maar ek sien mos nie my eie hare nie! My seun sê ewe versigtig dat my hare blou is, waarop ek geantwoord het dat dit wel so is. Dis muf. Dat ‘n mens se hare so raak as jy die mens min gebruik.

Soms, as ek baie moeg was aan die einde van die jaar en my gryshare baie dof en grys, het ons weer ‘n slag gewaag met ‘n cerise pienk veertjie of so iets. Die laaste strooi was egter een keer wat ek gevra het vir ‘n behoorlike pienk kuif. That was too much. Ek het die grense te ver getoets. 😳 Ek moes inderhaas na iemand ry om dit uit te haal, dit was ‘n Saterdagmiddag en die oorspronklike haarkapster was nie beskikbaar nie. Toe alles heeltemal klaar was, het ons geskree soos ons lag!

Deesdae sit ek net soms my ou, natuurlike swart strepies in om die grys net ‘n bietjie minder te maak. Ek wonder darem of ‘n ou pienk kuifie nie tog weer die ding sal doen nie? Dit doen wondere aan die gees! Ek mis my kleur-partner in crime!

🤣

Esther, waar’s jy!?

Toortsie.

20 thoughts on “Sal die ware Toortsie opstaan?

  1. Daardie strepies verrig wondere. Dit gee jou net die sekerheid dat jou hare mooi lyk. Gelukkig is my hare blond en ek het nooit n wortel kleur gekry nie. Daar was wel heelwat vriendinne wat die rooi en oranje kleur beleef het. (Ek kry nie gelike nie. Dink daar kort n skakeltjie wat ek nie geaktiveer het nie.)

    Liked by 1 person

  2. My kop was ook oranje toe ek in Bangkok was…..die kinders het gedink ek is n winkelpop. Ek het so doodstil gestaan buite n winkel dan kom trek hulle aan my hande of klere….en dan beweeg ek net om te sien hoe kinders in alle windrigtings spat.

    Liked by 3 people

Gesels saam, asseblief!