Inderhaas

Ek dink die volgende drie dae gaan in baie huishoudings holderstebolder gaan. Soveel dinge wat vinnig in ‘n kort tydjie afgehandel moet word voor ons land behoorlik toe maak vir minstens drie weke.

Ek wil nie aan al die moontlike negatiewe dinge dink wat kan gebeur nie. Ek wil regtig glo dat dinge redelik ordelik sal gebeur, dat hier nie onrus sal wees nie. My fokus is eerder om dit wat nou moet klaarkom, betyds kan gebeur.

Die algehele toemaak beïnvloed ons pendelry. Ek twyfel sterk of ons toegelaat sal word om tussen die huis en die plaas, wat distrikte uit mekaar is, te pendel. Daarom moet hier groot en dringende beplanning gedien word, ook wat betref die loonuitbetalings. Klokke moet voortydig gelees word.

Ons moet ook inderhaas die kleinkinders terug op hulle plek kry. Nie dat ons sal omgee as hulle die heeltyd by ons kuier nie, maar kleine kinderhartjies kan dalk swaar trek as hulle te lank weg van hulle pappa en mamma is.

‘n Pragtige familiebegrafnis wat ‘n hele naweek sou duur, moet nou betyds iewers vinnig afgehandel word.

Intussen werk Toortsie se kop oortyd. Het sy genoeg wol en hekelgare en ander handwerkies om haar besig te hou? Genoeg boeke om te lees? (Ek moet net noem dat ‘n jaar dalk nie genoeg gaan wees om alles te doen wat Toortsie beplan vir hierdie drie weke nie!)

As Eskom sal hou, as die internet sal hou, kan ek met dankbaarheid sê dat ons die ding na die beste van ons vermoë sal doen.

Ek bid vir ons dokters en ander mediese mense in ons land, ook vir die polisie en ander beskermingsdienste wat ‘n groot taak op hande het. Suid-Afrika, jy het die vermoë om in sulke tye ‘n mens aangenaam te verras. Kom ons staan saam en maak ‘n groot sukses van hierdie moeilike tyd.

Toortsie

10 thoughts on “Inderhaas

    1. Ek het ook so gedog. En ek het gedog ek het afgetree. Toe kom shut down en die klokke miet gelees wird en die nuwe dame ken nog nie die loonprogram nie en en en. Maar die meeste van my werk us reeds afgegee. 😁

      Liked by 1 person

  1. Ek het myself skoon opgewerk die hele week. Wol gekoop vir spreekwoordelike Afrika. Boeke afgelaai op my kindel. Die wol gaan ek nie in vier weke opbrei en lees is ook nie my beste vermaak nie. Ek gaan beslis fotos van Bea inplak want ek het n klomp afgedruk. Waar gaan mens al die tyd kry om alles te doen. Vergeet toe van skryf ook, sug! Veilig bly en sterkte daar vir julle.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!