Beurtwater

Beurtkrag is ‘n realiteit in ons land. So by tye gaan dit goed en dan, ewe onverwags, gebeur dit weer. Beurtwater was tot op hede nog nie vir my ‘n realiteit nie.

Ek het op ‘n plaas grootgeword en ons moes altyd water spaarsamig gebruik. Later jare het ons skemawater gekry van die Theewaterskloofdam af wat beteken het dat ons nie meer heeltemal so versigtig met water omgegaan het nie. Nie dat ons gemors het nie, maar wel nie meer heeltemal so spaarsamig nie.

Droogte is ‘n groot realiteit in ons land. Mense raak meer. Water raak minder. Die nodige onderhoudswerk word ook nie oral gedoen nie. Mense vergeet om sluise toe te draai. Gereeld hoor ek op die nuus van ‘n dorp wat nie meer water het nie. Ek kry nou nog ‘n knop in my keelvan die kwer toe die hele land se vakansiegangers vir Beaufort-Wes 5 liter waterkanne aangery het.

Ek het dit, beurtwater, nog nie beleef nie. Ja, ons het in die Kaap gaan kuier terwyl Dag Zero ernstig gedreig het. Dan het ons maar kanne water van die huis af saamgery en probeer om nie te stort indien dit regtig nodig is nie sodat ons so min as moontlik druk op die waterskema plaas.

By ons dorpshuis het ons tenke opgesit. Tenke wat ons dakwater opvang as dit reën. Daardie water gebruik ons in die huis en ons gryswater word weer in ander tenke opgevang waarmee ons die tuin natspuit. Dit werk baie goed. Ons het wel soms nodig om nog van die munsipale water ook te gebruik, maar dis minimaal.

Hierdie afgelope vakansie by die see word deur twee dinge gekenmerk: Geweldige slegte weer en stormwinde en die waterkrisis. Net voor die vakansie aangebreek het en die hele land se mense hiernatoe stroom, het ‘n waterpomp gebreek. Struisbaai se water kom uit boorgate, terloops. Elke jaar is hier maar ‘n krisis as die vakansiegangers hier is en moet ons mooi werk met die water, maar vanjaar was dit erg. Baie erg.

Hulle was genoodsaak om twee nuwe boorgate te boor terwyl die dorp reeds oorvloei het van mense. Ons het bedags geen water gehad nie, behalwe vir drie dae wat ons wel water gehad het. Saans half twaalf het ons die pype hoor raas, dan het ons vinnig die kanne vol water gemaak, die skottelgoedmasjien het sy werk gedoen en ek het die paar goedjies wat oor was met die hand gewas. Soggens as die vakansiegangers wakker word, het ons water opgedroog.

Dit was vir my ‘n goeie leerskool. Ek het gesien met hoe min water ‘n mens werklik kan klaarkom. ‘n Ketel water saam met vyf liter koue water is genoeg om heerlik in te bad. Ek, wat in elk geval nie elke dag huis skoonmaak nie, het nóg minder huis skoongemaak. Ons het wasgoed gewas wanneer daar wel genoeg water was om die masjien vol te maak. Die jongklomp het leer stort met ‘n vyf liter kan water, hoe, weet ek nie. Toilette is slegs getrek wanneer dit regtig nodig was.

Ons het ook besin oor die waterkrisis, want realiteit sê vir ons dat dit selfs erger kan word oor tyd, selfs al het ons munisipaliteit regtig hulle bes gedoen om die krisis af te weer. Dalk moet ons almal in die land oorweeg om watertenke op te sit en ons reënwater op te vang sodat ons minder afhanklik is van munisipale water. Dis wat ons nou ook beplan hier by die see.

Ek is dankbaar dat daar wel snags water was, ook vir die wa met watertenks wat sommer net drie erwe van ons af was waarby ons kon gaan tap as die nood regtig gedruk het.

Toortsie

11 thoughts on “Beurtwater

  1. Beaufort-Wes het vyfliters gekry nadat die uwe met ‘n radio-omroeper gepraat het omdat BW een Desember ons ou Ark voorgekeer en yskoue 1.5 liter Coke deur die venster aangegee het…….dit het by hulle begin. Ongelukkig het hulle daai waters onteien, genasionaliseer en VERKOOP aan mense.

    Ons het in die Paglande in Worcester beurtwater gehad uit ‘n kanaalstelsel gehad, vir ons tuine. My Oupa Piet Marais het oral waterstelsels gebou. Ook daardie, by Fernkloof, Theewater was sy konsep. Hy het saam met ene Charlie van Breda dinge gedoen en is op ‘n kol met die plaas Pearly Beach betaal. “Nuttelose strandveld” wat hy in kontant omgesit het om ‘n Plymouth mee te koop. Uiteindelik ‘n baie duur kar gewees.

    Nou kry ons beurtnag!

    Liked by 1 person

  2. Hulle sê mos die derde wereldoorlog gaan begin oor water……ek word woedend vir mense wat water mors. Hulle dink nie verder as wat hulle tuine groot is nie. In on sttraat is daar een idioot wate ELKE aand sy tuin natspuit vir 4 ure!!!! Daai water loop elke aand weg in die straat

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!