Kammaland

Hoe meer boeke ek van Annelie Botes lees, hoe meer geniet ek haar menswees, haar liefde vir die lewe, haar omgee vir mense wat eenkant op die rant staan. Ek hou veral van haar eie lewensverhale wat sy skryf, maar wat ek nog meer geniet is die stukkies waamee sy die storie opvul. Verwysings na ander tye in haar lewe. Ook verwysings na die moeilike tye in haar lewe. Diep dinge. Vergifnis. Sy skryf eerlik. Op die man af.

Kammaland – Annelie Botes

Ek het nou Kammaland gelees, wat handel oor ‘n drie maande reis wat sy en haar man, Chris, oftewel, die ou Gryse, met ‘n kanaalboot op Engeland se kanale gevaar het. Soos net sy kan, kry die kanale lewe onder haar pen, beleef ons die reis saam met hulle. Die omgee en liefde tussen hulle twee is so mooi en duidelik, sonder om soetsappig te wees. Ek geniet haar geselsies met die mense langs die kanaal, selfs dat hulle soms deelneem aan die plaaslike pret, soos Bingo. Ek lees haar bekommernis oor ons land. Ook haar verlange wanneer sy vier Suid-Afrikaanse lemoene koop. Keer op keer kom die woorde uit my mond: “Sy kán darem skryf.” Sy kan.

Lees net hier:

‘Die winter is verskraaldmooi. Natswart takke teen die blou lug. Of grou winterwolke wat laag hang. Dik misslierte in die woude. Fluweelgroen moslae wat in die bome groei. Rookspirale uit huisskoorstene en geparkeerde bote langs die kanaal. Plek-plek is die kanaaloppervlak soggens dunweg verys, dan moet ons die yslagie wegstoot met die boeg. Dit klink soos glas wat breek.’

Mooi, né.

Wat haar stories nog lekkerder maak, is dat ek haar stem ken. Vir ‘n baie kort tydjie in my lewe het ons paaie gekruis, maar tans hoor ek haar gereeld op RSG praat. As ek dus haar vertellinge lees, is dit of sy dit in haar eie stem vir my vertel. Wat meer kan ‘n mens vra?

Ander van haar meer persoonlike boeke wat ek al gelees het, is Swart op wit, ‘n biografie wat sy geskryf het nadat sy verkeerd aangehaal is in die media en sy deur ‘n moeilike tyd in haar lewe gegaan het. Weer eens is dit ‘n baie eerlike boek wat ‘n mens diep raak.

Swart op Wit – Annelie Botes

Ek dink dit is juis haar eerlikheid wat haar so ‘n gewilde skrywer maak. Natuurlik is sy ‘n uitstekende skrywer, maar sy is nie skaam om dinge te noem oor haarself nie. Deur haar boeke leer ons die mensemens ken wat sy is.

In Sabbatsreis skryf sy oor die jaar wat sy ‘n ou vrou opgepas het in Engeland. Weer eens so eerlik. In daardie boek sien ek hoe sy die ekstra tree stap sonder om twee keer te dink. Weer eens die menslikheid, haar deernis omdat sy eenvoudig nie anders kan nie.

Kammaland kielie die reisiger in my. Ek sal dalk nooit ‘n driemaande kanaalvaart in Engeland doen nie, wie weet, maar wanneer ek hierdie lees, maak die die reislus in my wakker.

Toortsie

Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

2 thoughts on “Kammaland

  1. Ek is juis besig om Kammaland te lees. Ek is ook mal oor Annelie se skryfwerk. Eers het ek bietjie langtand aan die boek gelees maar na die soort van inleiding verby is kan ek nie wag om saans voor ek gaan slaap verder te lees nie. Omdat nie regtig hoofstukke is nie maak dit dat ek meestal langer enmeer lees as wat ek gedink het.

    Liked by 1 person

  2. Sjoe…ek gaan nou Kammaland soek. Sy is loshande vir my na Dalene Matthee die beste skryfster in ons land….eerder omdat sy so rou eerlik is en die bul by die horings pak sonder om weg te skram.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s