Die waarde van tenke

Ek dink ek raak afgesaag hieroor, maar ek kan nie ophou om die waarde van tenke te besing nie. Vandag sif die reën saggies neer en ek is dankbaar, dankbaar hiervoor. Eerstens maak dit ons tuin heerlik nat, maar dit is nie al nie. Ek hoor die hele tyd hoe die dakwater wat ons opvang, in die tenke inloop. Daardie water gebruik ons weer vir ons huishoudelike gebruik. Die gryswater word weer eens opgevang om die tuin mee nat te maak. Drie keer die waarde van die reën en intussen gebruik ons al sedert Februarie hierdie jaar slegs munisipale water vir drinkwater. Die res is tenkwater. Dakwater. Reënwater wat ons self opgevang het. Wat ‘n groot las het ons nie van die munisipale dam afgehaal nie!

Dieselfde op Struisbaai. Iemand het vir ons gewaarsku dat tenkwater by die see maklik vrot omdat daar soveel sout van die seesproei op die dak kom lê en die water dan baie sout is wat in die tenke inloop. Hoe bevoorreg is ons nie met daardie water nie! Elke keer wat ons daar vir ‘n naweek kom, kan ons die tenkwater gebruik sonder om skuldig te voel, want dit is mos water wat ons self opgevang het. Ons kan selfs die gras lekker natspuit, wat ons al vir hoeveel jaar nie meer kan doen nie omdat Struisbaai se watervoorraad dit net nie toelaat nie. Tot op hede het ons water nog nie gevrot nie. Ons neem maar steeds skoon drinkwater saam in plaas daarvan om die dakwater te drink. En met elke buitjie reën wat seelangs verby gaan, raak ons tenkies weer mooi vol vir volgende keer se kuier.

Ek het al soveel kere geskryf oor hoe ons elkeen in ons land water kan bespaar, want of ons dit nou wil weet of nie, Suid-Afrika het ‘n groot probleem met droogtes, met watertekorte. Iewers is daar altyd droogte, enige tyd van die jaar. Ladismith het 5 jaar laas behoorlike reën gehad, genoeg om die riviere te laat loop. Ons kan nie net vir die munisipaliteit sit en wag om in al ons waterbehoeftes te voorsien terwyl daar met elke reënbui derduisende liters water wat op ons eie erwe val, net eenvoudig wegloop in ‘n drein nie.

Ja, dit is ‘n groot kapitale uitgawe wat almal seker nie het nie, maar as jy kan, begin selfs net met een tenk en soos die tyd aanloop, nog een en nog een. Ek het al voorheen gevra, hoekom dink munisipaliteite nie daaraan om as deel van hulle begroting, watertenks te subsudieer nie? Hoekom word dit nie ‘n vereiste as bouplanne goedgekeur word, dat mense minstens een watertenk het nie?

Sjoe mense, ons bevolking raak al hoe groter, ons skoon water al hoe minder. Ons kan besluit of ons deel is van die probleem of van die oplossing. En terloops, ons tuin is grotendeels ‘n groentetuin danksy my man, so ons eet gesond en vars ook nog. Wat kos ‘n pakkie saad? Die slim mense sê dat ‘n groentetuin so groot soos ‘n deur, let wel, ‘n deur genoeg is om ‘n gesin van vier mense te voed. Dis nogal iets om oor na te dink, terwyl hier so baie hongersnood in ons land is.

Toortsie

Beurtwater

Beurtkrag is ‘n realiteit in ons land. So by tye gaan dit goed en dan, ewe onverwags, gebeur dit weer. Beurtwater was tot op hede nog nie vir my ‘n realiteit nie.

Ek het op ‘n plaas grootgeword en ons moes altyd water spaarsamig gebruik. Later jare het ons skemawater gekry van die Theewaterskloofdam af wat beteken het dat ons nie meer heeltemal so versigtig met water omgegaan het nie. Nie dat ons gemors het nie, maar wel nie meer heeltemal so spaarsamig nie.

Droogte is ‘n groot realiteit in ons land. Mense raak meer. Water raak minder. Die nodige onderhoudswerk word ook nie oral gedoen nie. Mense vergeet om sluise toe te draai. Gereeld hoor ek op die nuus van ‘n dorp wat nie meer water het nie. Ek kry nou nog ‘n knop in my keelvan die kwer toe die hele land se vakansiegangers vir Beaufort-Wes 5 liter waterkanne aangery het.

Ek het dit, beurtwater, nog nie beleef nie. Ja, ons het in die Kaap gaan kuier terwyl Dag Zero ernstig gedreig het. Dan het ons maar kanne water van die huis af saamgery en probeer om nie te stort indien dit regtig nodig is nie sodat ons so min as moontlik druk op die waterskema plaas.

By ons dorpshuis het ons tenke opgesit. Tenke wat ons dakwater opvang as dit reën. Daardie water gebruik ons in die huis en ons gryswater word weer in ander tenke opgevang waarmee ons die tuin natspuit. Dit werk baie goed. Ons het wel soms nodig om nog van die munsipale water ook te gebruik, maar dis minimaal.

Hierdie afgelope vakansie by die see word deur twee dinge gekenmerk: Geweldige slegte weer en stormwinde en die waterkrisis. Net voor die vakansie aangebreek het en die hele land se mense hiernatoe stroom, het ‘n waterpomp gebreek. Struisbaai se water kom uit boorgate, terloops. Elke jaar is hier maar ‘n krisis as die vakansiegangers hier is en moet ons mooi werk met die water, maar vanjaar was dit erg. Baie erg.

Hulle was genoodsaak om twee nuwe boorgate te boor terwyl die dorp reeds oorvloei het van mense. Ons het bedags geen water gehad nie, behalwe vir drie dae wat ons wel water gehad het. Saans half twaalf het ons die pype hoor raas, dan het ons vinnig die kanne vol water gemaak, die skottelgoedmasjien het sy werk gedoen en ek het die paar goedjies wat oor was met die hand gewas. Soggens as die vakansiegangers wakker word, het ons water opgedroog.

Dit was vir my ‘n goeie leerskool. Ek het gesien met hoe min water ‘n mens werklik kan klaarkom. ‘n Ketel water saam met vyf liter koue water is genoeg om heerlik in te bad. Ek, wat in elk geval nie elke dag huis skoonmaak nie, het nóg minder huis skoongemaak. Ons het wasgoed gewas wanneer daar wel genoeg water was om die masjien vol te maak. Die jongklomp het leer stort met ‘n vyf liter kan water, hoe, weet ek nie. Toilette is slegs getrek wanneer dit regtig nodig was.

Ons het ook besin oor die waterkrisis, want realiteit sê vir ons dat dit selfs erger kan word oor tyd, selfs al het ons munisipaliteit regtig hulle bes gedoen om die krisis af te weer. Dalk moet ons almal in die land oorweeg om watertenke op te sit en ons reënwater op te vang sodat ons minder afhanklik is van munisipale water. Dis wat ons nou ook beplan hier by die see.

Ek is dankbaar dat daar wel snags water was, ook vir die wa met watertenks wat sommer net drie erwe van ons af was waarby ons kon gaan tap as die nood regtig gedruk het.

Toortsie