Troues – NaNoWriMo2019

My eerste kennismaking met ‘n troue was toe tannie Christa Franken, toe ek vyf was, gevra het dat ek ‘n blommemeisie by haar troue moes wees. Sy was ‘n niggie van my ma. 

Daar was ‘n strooimeisie en twee blommemeisies. Ons het die pragtigste woudgroen langrokkies aangehad, ewe met ‘n stukkie chiffon op die rug amper soos ‘n sleep, maar dit was dieselfde lengte as die rokkie. Blommehoedjies op die kop en met goue balletskoentjies aan. 

Van balletskoene gepraat, in daardie jaar het ek ballet geneem. Ek kan baie min daarvan onthou, ek wonder of dit vir die hele jaar was? Ons het hard geoefen vir ‘n konsert die einde van die jaar. Ek sou ‘n kabouter wees, ewe met ‘n swart broek, ‘n blokkieshemp, kabouterhoed- en skoene aan. Ek sou in nog ‘n item deelneem, hierdie keer met ‘n regte balletrokkie aan. 

Toe kry ek masels. Ja. Masels. En vir baie lank moes ek in die bed bly, dit het gevoel soos eeue. In ‘n halfdonker kamer omdat skerp lig blykbaar ‘n mens se oë kan benadeel. My ma het by kerslig haar resepteboek sit en oorskryf in daardie tyd. Net daar is my eerste en enigste balletkonsert ooit na die maan. ‘n Ander dogtertjie het in my plek en kleertjies deelgeneem. Dit voel nou nog soos begrafnis. 

Terug by die troue waar ek die blommemeisie was. Ons was mooi geleer hoe ons moes staan. Dis natuurlik die bruid en die bruidegom, die strooimeisie langs die bruid en dan ons tweetjies. Ons moes baie mooi stil staan daar in die kerk en vir die dominee kyk. 

Maar die ander dogtertjie was ‘n bietjie kleiner as ek. Jonger. Siestog, sou sy al vier wees? En sy het aanmekaar omgekyk na haar ma toe. En ek het so verantwoordelik gevoel. Maar ek het mooi stilgestaan, hoor. Doodstil. 

My ma het my na die tyd na Norman Valentine geneem, hy was ‘n fotograaf in Bredasdorp. Norman het pragtige foto’s van my geneem in my blommemeisiekleertjies. ‘n Vergroting het al die jare in die gang gehang. Regtig ‘n mooi ou dogtertjie, mag ek seker maar nou op my oudag noem, of hoe? 

In my hoërskooljare het die niggies en neefs die een na die ander getrou. Ag, wat ‘n lekkerte. Dit was egter anders as toe my broers getrou het, dit voel mos net baie meer spesiaal. Ék het baie spesiaal gevoel omdat dit my broers was, ‘n mens sou sweer ek was die bruid of die moeder van die bruid. Maar dit was amper so, ek was elke keer die suster van die bruidegom. Al wat sleg was by die niggies en neefs se troues was dat ek nog op skool was en meestal sonder ‘n metgesel gegaan het en dan uitgesit het by die dansery. Ek is juis so lief vir dans!

Ag, ons klomp de Wets kan mos vreeslik tranerig wees op troues. Gelukkig was dit nie in ons jongdae so nie, maar deesdae raak dit regtig al hoe erger. Ons spot eintlik al onder mekaar daaroor. Soveel so dat Charlotte, my broer se dogter, sommer ‘n tissue aan die programmetjies geheg het vir almal wat ‘n traan of twee het om te pink. Die bruid kry toe self ‘n tissue nodig en ‘n galante gas wat naby genoeg gesit het, kon haar toe darem te hulp snel. 

Toe Rita, my niggie, en Johan getrou het, het hulle hul kreatiwiteit vrye teuels gegee. Oom Kotie het kort voor die troue vir elkeen van sy kinders ‘n goudgeel Volkswagen Golf karretjie gekoop en hierdie Golfies was die bruidskarre, heeltemal anders as die gebruiklike Mecedes’e. 

Van Golfies gepraat. Gaaf-hulle, Jac-hulle, Danie-hulle en MJ-hulle het een keer by Durban rond gaan kuier. Hulle het soontoe gevlieg en daar vir hulle karre gehuur om te gebruik. Golfies. Hulle het blykbaar in huisies geslaap en die terrein was ietwat skuins. Iewers het een nie sy Golfie veilig parkeer nie en toe hulle sien, kom die Golfie op sy eie verby. Die persoon by die versekering verstaan net Engels, wat vir ons Ouplasers ‘n totaal uitheemse taal is, ons kan dit regtig net praat vir selfverdiging. Die verslag op die eisvorm raak ‘n spanpoging en wat hulle kon bymekaarskraap, het só geklink: ‘We were sitting at the braai and the Golfie comes forbaai.’

Johan en Rita se onthaal was in hulle pakstoor gehou, hulle was appelboere. ‘n Plaastroue is mos maar net anders as ‘n gehuurde lokaal, jy het die geleentheid om iets spesiaals te doen. Die pakstoor was in ‘n pragtige troulokaal verander, maar die hoogtepunt was toe die bruid en bruidegom hulle verskyning maak. Die massiewe waterbak waarin die vrugte afgespoel word is as kanaal gebruik en die twee het met ‘n roeibootjie in die saal ingeroei. Hoe oulik kan dit tog wees! 

Ons het self ‘n storietjie om te vertel van ‘n huweliksbootjie. Ons was na die Tuinroete vir ons wittebrood en toe ons by Knysna kom, kry ons lus om ‘n bootjie te huur vir ‘n dag en op die meer rond te vaar. Die man gee vir Kobus ‘n kaart en verduidelik dat dit baie belangrik is dat ons binne die afgebakende roete moet bly. Ons moes ook by die vasmeerplekke bly, maar as ons hoër op in die rivier gaan, kan ons sommer net op die anker slaap. 

Kobus is in beheer van die bootjie, ek maak vir ons iets te ete en verder geniet ons sommer net die ervaring. Tussendeur is ek maar effens bang dat ons nie reg vaar nie en daar ‘n fout kan kom. 

Ons vaar tot hoog op in die rivier en toe dit donker raak, gooi ons anker uit. Daardie nag by drie uur rond raak ons wakker van ‘n vreemde klop-klop geluid. Ons stel ondersoek in en sien dat die wind intussen opgekom het. Die wind het ons van die anker afgewaai en ons het gedryf tot teen die riete. 

Kobus skakel dadelik die enjin aan en sê dat ek die anker moet optrek. Ek is egter angsbevange en sien nie kans nie. Hy sê dat ek dan die stuurwiel moet vashou, dan trek hy die anker op. Daarvoor sien ek ook nie kans nie. Hy probeer toe maar ‘n entjie vaar na ‘n veiliger plek terwyl die anker steeds sleep. Ongelukkig het dit ook nie gewerk nie en kom daar ‘n fout. Terwyl hy met die anker stoei, waai die wind ons toe vas in die riete. Daar lê boot toe stewig en botstil en kon ons tog te lekker slaap. 

Die volgende oggend toe ons wakker word, wag daar vir ons ‘n groot verrassing. Die gety het gedraai. Dit het laagwater geraak. Ons was myle ver van enige water af. Ons boot het in die modder gelê!

Ná baie gesukkel het ons die eienaars van die boot in die hande gekry. As ons met die reddingsbootjie tot by die brug kon kom, sou hulle ons solank kom haal en later, oor ‘n paar uur, met hoogwater, sou hulle die bootjie kom haal. 

Kobus pak toe ons bagasie in die bootjie en begin die bootjie sleep in die modder. Ek staan en lag vir die prentjie en neem foto’s, steeds op die boot. Hy sê ek moet kom, hy gaan my nie kom haal nie. Toe ek wel van die boot afklim in die modder in, sit ek vas! Ek het nie krag gehad om ‘n been uit die modder te lig om vorentoe te beweeg nie! Net daar moes arme Kobus terugkom om my te kom haal. Hy hét darem. 

Ons het deur die modder geploeter tot by die stukkie rivierstroom en kon toe oor die rivier roei tot waar hulle vir ons gewag het. So ampertjies het ons huweliksbootjie sommer al in die eerste paar dae van ons huwelik gestrand, maar dit het darem nie en na al die jare hou die ou bootjie steeds mooi danksy baie harde werk, baie liefde en baie genade van ons Here. 

Toortsie

4 thoughts on “Troues – NaNoWriMo2019

  1. Ek word herinner aan ‘n besoek by Upington toe ek op soek was vir ‘n koerant om te lees voor ons die lang rit na Kgalagadi aangepak het. Toe ek vra of daar ‘n Engelse koerant is het die man vir my lekker gelag ” Nee wat, hier praat ons net Engels in selfverdediging!”

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s