Ons toer die land vol NaNoWriMo2019

Toer is in my bloed. Dis in my gene. Ek het dit al saam met my moedersmelk ingekry. Beide my ouers was lief vir toer en hulle het dit oorgedra aan ons kinders. 

Ek was in standerd een toe my ouers ‘n karevaan gekoop het. Daarvandaan het ons jaar vir jaar die langpad aangedurf noorde toe. Onthou, vir ‘n Bredasdorper wat heel suid in die land woon, neem dit omtrent ‘n week om by die wildtuin te kom. Dis baie ver en met ‘n karevaan agter die kar neem dit baie langer. 

In sub B het ons my tannie-hulle se karevaan geleen en gaan blomme kyk in Namakwaland, ek kan nie meer onthou saam met wie dit was nie. Ek dink nogals dit was tannie Eljo-hulle. 

Die eerste aand het ons by tannie Sally Marais-hulle oorgeslaap by Robertson rond. Die grootmense het nog gekuier toe ek en André al karevaan toe is. Albei van ons wou in die boonste hangbed slaap, maar ek wen toe en kry my lê. Ek vermoed die hangbed was die rede hoekom ons so vroeg al karevaan toe is! Ek het ewe prettig en koggelend in die hangbed gelê toe ek net voel hoe ek deur die lug trek. André het ewe suutjies onder my kom lê, sy bene opgelig en reguit gemaak. Oeps! Daar vlieg die hangbed! En André het sy plek terug. 

Die plate en plate blomme was pragtig en ek kan onthou dat ons vir ons armbande gemaak het van die daisies deur dit so een vir een by die vorige stingeltjie ingeryg het. 

Met ons karevaan het ons Juniemaande die land deurreis. Ons was Namibië toe en het tot by Oshakati gery. ‘n Ander jaar was ons weer na die Kruger Wildtuin en het tot in Mosambiek gaan draai in die destydse Lorenço Marques, tans bekend as Maputo. Dit was nog die ou, statige Lorenço Marques, voor die rebellie. ‘n Ander keer is ons tot in Durban. 

Terwyl ons in Lorenço Marques was, kom daar ‘n man verby wat kaartjies verkoop vir ‘n bootrit in die hawe, om ‘n boot wat daar in die hawe gelê het. My ma het aangeneem dat ek en my pa nie sal wil saamgaan nie. Hulle koop toe dertien kaartjies, maar ons was vyftien bymekaar. Ons wou toe wel saamgaan. 

Die hele bootrit staan daar toe ‘skuldig’ op my gesig geskryf en vrees ek die hele tyd dat die bootman vir my gaan afjaag van die boot af. Vir my, die arme ou tienjarigetjie. Die res van die groep kuier tog te lekker, ek hou die heeltyd die man dop. Dan tel hy die passasiers, dan tel hy die kaartjies en sy somme wil net nie klop nie. Op my oudag het ek besef dat dit die grootste straf was om vir my te gee, om my teen die reëls te laat optree, dis net nie in my aard nie. 

Soos die keer wat my broer by Saldanha in die vloot was en ons vir hom gaan kuier het. Terwyl ons daar was, het ons ook die omgewing ‘n bietjie verken. Hulle was besig om ‘n nuwe pad te bou, ‘n liefike teerpad wat eintlik al klaar was, maar nog nie oopgestel was vir die publiek nie. Die pad waarop ‘n mens moes ry, was ‘n swak grondpad wat maklik ‘n halfuur langer geneem het. Toe ry my pa op die teerpad. Die verbode teerpad. Ek het tien dode gesterf net daar. Kobus sal dit beaam, as daar ‘n geen toegang bordjie staan, beteken dit geen toegang as ek by is. 

‘n Gewilde oornagplek was Port Elizabeth. Die kampteerterrein was daar by die akwarium en dan het ons altyd vir die dolfyne gaan kyk daar. Ag, en die robbe is net te oulik. Baie jare later was ons weer een keer daar en wou dit graag vir die kinders gaan wys. Groot was die teleurstelling toe ons klaar die kaartjies gekoop het, dat die dolfyne nie daar was nie. Wat die probleem was, kan ek ongelukkig nie onthou nie. 

Padstalletjies was elke keer vir my ‘n hoogtepunt. By Citrusdal het ons gestop vir lemoene. In die Oos-Kaap het ons pynappels gekoop. Ons kinders het ook vir ons klein pynappeltjies gekoop vir die snaaksigheid. Avokado’s in Tzaneen. In Transkei was dit krale-armbandjies. In Swaziland het ek vir my die mooiste mandjietjie gekoop. Baie jare later was ons en vriende weer in Swaziland en het ek vir my die mooiste kombers gekoop. Dis hoe ek die Swazi’s onthou, elkeen toegedraai in ‘n kombers. In my huis lê nog die mooiste Afrikamat wat my ma in Swaziland gekoop het. 

Op ‘n stadium het my pa ontdek dat ek nie lief is vir volstruisbiltong nie. Toe skiet hy vir my ‘n bokkie en maak die biltong en gee dit vir my. Ek het dit in daardie einste Swazi-mandjie weggesit. Nou besef ek eers hoe selfsugtig ek was, almal sou mos ‘n bietjie bokbiltong verkies bo volstruisbiltong! 

Ek is nie ‘n goeie vroegopstaner nie, daarom onthou ek die vroeë oggende van ons toere so goed. Ek het swaar opgestaan. Deur die Vrystaat was dit koud in die oggende! Ek verstaan nou dat ons maar vroeg moes wikkel omdat dit mos maar stadiger gaan met die karevaan. My ouers wou klaar nes skrop by die volgende plek voor die donker kom. Elke oggend moet die karevaan netjies gemaak wees, gehaak word en dan word die ligte eers getoets. 

Langs die pad sou ons stop en piekniek maak. Die groot lekkerte was elke aand as ons by ons nuwe kampplek kom. Die karevaanparke het gewoonlik ‘n speelpark gehad en dan het ons kinders gespeel. Ons was altyd in ‘n groep wat getoer het, so daar was altyd maatjies by. Wat keer op keer gebeur het, was dat my rigting die volgende oggend deurmekaar was en die speelpark aan die ander kant van die karevaan was, nie soos dit die vorige aand was nie. Hoekom dit gebeur het, weet ek nou nog nie. Rigtingvastheid was nog nooit my sterkste punt nie.

By Swaziland se grens was die doeanebeamptes kwaai. Geen rou vleis en ander vars produkte was toegelaat nie. Die karre en karevane is deursoek. Ons kon wel gaar vleis deurneem. Net daar raak ons aan die braai vir ‘n vale. My ma dra sommer kos aan vir die doeanebeamptes ook en hulle kyk toe met oogklappe na ons yskas. Van die ander mense was nie so gelukkig nie. 

Voor ons was daar mense wat klapperkoppe gehad het, ek weet nie hoeveel nie. Hulle moes dit natuurlik uitgooi. Solank ons braai, pak die jongmanne in ons groep toe weer rustig vir hulle klapperkoppe in. Wetstoepassing kan soms interessant wees. Die beamptes het nie besef dit is weer in die volgende motors ingepak nie!

Die bobbejane in die wildtuin en ook by Etosha was altyd groot pret. Mense het hulle in daardie jare nog gevoer, dus het hulle tog te graag op die karre gespring en deur die vensters geloer in die hoop om ietsie te ete te kry. Natuurlik is dit deesdae heeltemal verbode, want sulke diere raak ongeskik as hulle nie gevoer word nie en moet op die ou end doodgemaak word. En die apies! Ai, in die kampe in die wildtuin moet jy jou kos so mooi wegsteek, of die apies kom help hulleself daarmee. 

Ons moes besig gehou word op die langpad. Ons het maar kinders by mekaar gery sodat ons kon speel. Oom Jurie Witkop hulle het met ‘n bakkie met ‘n kappie gery en agterin die kappie het ons bed gemaak. Agterin daardie bakkie het die langpad kort geraak, want daar het ons kaart gespeel en sommer lê en slaap ook. Soms het tannie Ina by ons kom sit agterin en ons besig gehou. 

In ons kar het ons gebrei, ek en my ma. Ek het in my sub B en standerd een jaar elke keer die laaste helfte van die jaar by tannies Mags en Willa op Ouplaas loseer toe my ma skool gehou het op die dorp. Tannie Mags was ‘n baasbreier en het middae sit en brei terwyl Springbok Radio se stories aan was. Kort voor lank het sy vir my ook geleer brei. 

Toe my ma weer daardie jaar haar breipenne en wol uithaal, vra ek ook ewe kordaat dat sy vir my ook moet steke opsit. Groot was haar verbasing dat ek sowaar kon brei! Sekerlik nie ‘n trui nie, dalk met baie gate in, maar dit was maar net die begin. 

Vioolsdrift se kameel was natuurlik ‘n hoogtepunt. En Ai Ais se warmbronne! Selfs al moes ons daardie lang pad ry tot daar. Net so Aliwal Noord se warmbronne. Ek onthou nog hoe verspoel Ai Ais was een keer wat ons daar was ná ‘n vloed. Ons het ook die lang pad aangedurf tot by die Vingerklip en hoe dankbaar is ek nie nou daaroor nie aangesien die Vingerklip toe op sy tyd geval het. By die Visrivier afgronde het ek ‘n diamant opgetel wat uit ‘n ring verloor het. Dis wat ek altyd geglo het. Dit het altyd in my ma se laai gelê, toegedraai in ‘n sakdoekie. Of dit ‘n regtige diamant was, sal ek nooit weet nie. Die steentjie het met tyd verlore geraak. 

In Durban se omgewing het ons by Winklespruit gebly. Ons het seker die dag ‘n bietjie rondgery en sou ons dalk iewers geswem het, maar om een of ander rede was my rok sopnat. Dalk was dit van ‘n nat swembroek? Ek kan nie onthou nie. My ma het toe die rok in die ruit vasgedraai dat dit wapper en droograak, tot groot skaamte in my kant. Ek het my pa se trui aangetrek!

Daardie middag spring ons trampolien en swem te lekker. Daar was altyd so ‘n wiel wat in die rondte draai waarop jy dan opspring wanneer jy wil en weer afspring terwyl die wiel dalk ‘n bietjie stadiger draai. André en Juna het saam op die trampolien gespring, maar iewers was die sinkronisasie nie so goed nie en het hulle ongelyk gespring, soveel so dat die een toe skeef spring en op die sement beland en goed seergekry het. Groot ongeluk!

Die een aand ry ons Durban toe en my pa vat die verkeerde afrit. Ons was in ‘n dubbelbaan en daar was geen manier om om te draai nie. Dis nou wat gebeur as boertjies in die stede begin rondry! My pa het toe maar die hele ent pad agteruit gery tot waar ons weer in die regte pad kon kom. Die keer wat ek en Martjie so verdwaal het in Pretoria, het ek hom dit nagedoen! ‘n Mens mag dit blykbaar nie doen nie, so ek oortree ook soms die reëls as die nood druk! Uitgevang!

‘n Ander keer moes ek en Martjie vir Kobus in Knysna kry toe hy die Karoo to Coast gery het. Toe ons in George inry, is daar ‘n bordjie wat wys dat ek regs moet draai vir George. Ek het voor my siel geweet dis verkeerd, daardie pad het ek mos darem al baie gery. Tog draai ek regs soos die bordjie sê en is ek onmiddellik verdwaal. Ná ‘n hele ruk se ronddwaal sê ek Martjie moet vir my lipstiffie aangee. Ek smeer die lipstiffie aan en sê: “Hier voor moet ons regs draai en weer regs,” waarop Martjie antwoord dat sy al lankal die lipstiffie moes aangegee het.

Van agteruitry gepraat, ons, my neef-hulle en ons bure besluit een jaar om Nampo te gaan. Johan, my neef, vra vir Banneban, sy broer, of ons sy bussie kan gebruik. By Bloemfontein gee die ratkas moeilikheid en wil die tru-rat nie meer werk nie. Tipies Suid-Afrikaners, het die snaakste kwinkslae uitgekom as ons ‘n ander kar sien agteruitry. Al, maar ons het tog te lekker gelag.

Terwyl ons in daardie dubbelpaaie by Durban rond ry, was daar ‘n lorrie vol pynappels voor ons. Langs hom kom daar toe ‘n bus verby en het ons aanskou hoe die mense uit die bus se vensters hang en pynappels van die lorrie af steel. Dit was in 1972. Hier is niks nuuts onder die son nie! Ons monde het behoorlik oopgehang. Ons kon nie glo wat ons sien nie!

Ek het nog steeds nie my toertande uitgetrek nie en die toergene is ook oorgedra na ons kinders toe. Steeds, as ons die kans het, gee ons ons oor aan ons toerlus en toer ons ons land, en ook die wêreld plat. Wat ‘n voorreg is dit nie om deesdae weer lande noord van Suid-Afrika te besoek wat vir soveel jare vir ons geslote was nie! 

Jare gelede het ons Gaaf se karevaan geleen om self so ‘n karevaantoer te doen. Dit was al ‘n baie ou karevaan wat vir baie lank nie langpad gery het nie. Hulle het op ‘n stadium daarmee gekamp op Struisbaai, maar intussen het die karevaan maar eintlik net in die stoor gestaan. 

Ons was op pad Kruger Wildtuin toe. Net toe ons by Ladismith, Kaap, inry, wou die wiel uitval. Ons was nog nie eers twee ure van die huis af weg nie! Wat is die kans nou om in Ladismith die regte part te kry? Ons stop maar by die eerste vulstasie en, teen alle logika in, het hulle sowaar die nodige, baie seldsame, partjie en kon ons verder ry. Geen verdere voorvalle nie! Ons kon in die wildtuin gaan draai en terug. Hierdie is net nog ‘n voorbeeld van die goue draadjie van God se beskerming en genade wat op soveel plekke in my lewe sigbaar is.  

16 thoughts on “Ons toer die land vol NaNoWriMo2019

  1. Jou afsluiting is baie van pas. Dit is beslis n seen van bo. Jul het darem behoorlik rond getoer. Ons het maar altyd net wildtuin toe gegaan. Toe ek begin om my eie geld te verdien was my eerste toer Kaapstad toe. Klomp onderwysers wat nie behoorlik gereel het vir slaapplek nie. Sommer in klaskamers op vloer geslaap. Selfs n paar aande binne in n kerk tussen die banke. Was n hele ondervinding. Daarna het ek oorsee gegaan en getoer en ook verder Namibie en Zimbabwe toe. Lekker tye.

    Liked by 1 person

    1. Omdat ons mos maar reeds ver kom van die Kaap af, dink ek, kon ons elke keer ‘n ander bestemming kies. Julle was lekker naby aan die wildtuin, dit was net makliker om net soontoe te gaan. 😁

      Like

Gesels saam, asseblief!