Die see – NaNoWriMo2019

Die see het ‘n geweldige groot invloed op my gemoed, ek het die see nodig in my lewe. Ek het dit op ‘n gereelde basis baie nodig. Ek raak knorrig as ons lank nie by die see was nie. As ek van gereeld praat, is dit minstens een keer per maand. 

Ons is nie swemmers nie. My ma was lief vir swem, maar die de Wets is nie lief vir swem nie, selfs al is ons so lief vir die see. My pa was maar nog ‘n klein seuntjie, ongeveer drie jaar oud, toe sy broer verdrink het by Hamerkop. My pa het nie eers daarvan gehou om met sy voete in die water te loop nie! Tog was hy baie lief vir die see en het hy dit ook nodig gehad om sy gemoed skoon te kry. Hy sou, as die lewe kwaai druk, sommer net ‘n dag uitry Koppie Alleen toe. 

Struisbaai in die ou dae het nie veel gehad om te doen nie. Daar was nie Eskom krag nie, almal het gaslampe gehad of ‘n enjin wat saans lig verskaf het. Al wat daar was, was die see. En die disco by die hotel, maar ek was te jonk om soontoe te gaan. En stranddienste. 

Ons het ons dae langs die see deurgebring. Selfs ek wat nie lief is vir swem nie, het ek in die water gegaan. Ek het net nie daarvan gehou as iemand aan my vat as ons in die water is nie. Mense moet ook nie teen my vasswem nie.

Soms was daar seegras in die water, dan het ek my vrek gegril. Soms was daar sulke stekelrige goed in die water en dan het ons omtrent moeite gehad om dit uit ons swembroeke te kry. Ons was aan die einde van ‘n vakansie behoorlik bruin gebrand, soveel so dat mense gesê het ek is blas van kleur. Natuurlik sou ons ons aan die begin van die vakansie eers een keer goed verbrand, rooi en vol blase, maar daarna was alles dan reg, was ons versigtiger, maar was ons velle ook al sterker. 

Kleintyd het ons Waenhuiskrans toe gegaan. Ons het in die karevaanpark gebly in huisie nommer twee. Een keer het familie van ons, maar dis sulke verlangse familie, ek voel om te sê familie van my ma by ons kom kuier. Hulle het by die ambassade in Chili gewerk, as ek reg onthou. Daardie dag het ‘n bloublasie die een seun beetgekry, dit het sommer so om hom gedraai. Daardie gille kan ‘n mens nie beskryf nie. 

Bloublasies is ‘n ander ding, jy mors nie met hulle nie. Dis nie die bloublasie self wat die moeilikheid maak nie, maar die lang tentakels. Waar dit teen jou lyf kom, brand dit. In biologie het ek geleer dat dit netelselle is wat jou brand. Dis hulle manier om hulleself te beskerm. 

As jy dan in die see swem en daardie tentakels raak aan jou, is dit nag. As dit nog om jou draai en vassit, is dit ekstra erg. Almal het gekom om te kom help en raad te gee. Dit was voor die tyd wat lewensredders vakansies by die see was. Party sê, sit sand op. Ander stel koeksoda voor. Hierdie outjie is dokter toe, dit was baie erg. 

Terloops, op Struisbaai weet ek nie of ‘n lewernsredder al ooit iemand moes red nie, die see is net te veilig. Al wat soms gebeur het, is dat kinders met ‘n groot binneband ‘n bietjie diep indryf, maar dan keer die mense gewoonlik betyds. My pa wou nooit vir ons so ‘n binneband koop nie, hy het net gesê ‘n mens speel te lekker en hou nie die see dop nie en voor jy jou kom kry het jy te diep ingedryf en kan daar fout kom. 

Oorkant ons huisie het tannie Sekkie Odendaal-hulle gekamp. Ek was mal oor haar. Sy het ‘n slag gehad met kinders. Hulle dogter het een of ander siekte gehad en was al verlam toe ons saam met hulle vakansie gehou het. Ek, klein dogtertjie, het dan by haar gaan sit en kaart en speletjies speel. Dalk het sy eerder met my gespeel as ek met haar. 

Tannie Sekkie is kort gelede oorlede, maar sy sal altyd ‘n spesiale plekkie in my hart hê. Dit is mos maar net so dat as iemand aan jou liefdevolle aandag gee, jy nie anders kan as om te reageer daarop nie. 

Die ou huisie op Waenhuiskrans was piepklein, maar ons het tog te graag daar gebly. Een kersfees het my ma vir my ‘n klein olielampie gegee toe ons nog daar was. Ai, maar ek was mal oor my lampie! 

Aan die einde van my standerd een jaar het my ma my pa oortuig om vir ‘n naweek met die karevaan in Struisbaai te gaan kamp. Gaaf het toe al met Annelen begin uitgaan en húlle het op Struisbaai vakansie gehou. My pa wou nooit Struisbaai toe gegaan het nie, ek dink hy het gesê daar is te veel Engelse! Vandag is dit net die teenoorgestelde en voel ons dat Waenhuiskrans die Engelse strandplek is. Of dit regtig so is, kan ek nie sê nie. 

Die Vrydag toe die skool sluit vir die Desembervakansie, is ons toe Struisbaai toe vir die naweek. Dit het egter nie net ‘n naweek gebly nie, ons het daar gebly tot die skool weer in Januarie begin het! Dit was só lekker dat my pa vir tannie Eljo-hulle oortuig het om ook met hulle karevaan te kom kamp saam met ons. 

Toe die skool in Januarie begin, is ons terug koshuis toe en my ouers na die eiendomsagent en net daar het hulle ‘n huis gekoop op Struisbaai. Daar het ons gebly tot na Paasnaweek. Dalk onthou ek verkeerd, maar dis hoe dit nou vir my voel. Jaar vir jaar het ons dit so gedoen. As die skool sluit in Desember is ons met die groot trek Struisbaai toe om daar te bly tot Paasnaweek. 

My ma het gesê dis baie beter dat ons op Struisbaai bly, daar was in elk geval nie behoorlike huiswater daardie tyd van die jaar op die plaas nie. En dis ekstra warm op die plaas. Ons is in die week koshuis toe en het naweke see toe gekom in plaas van plaas toe. Ek dink dat ons in my hoërskooljare wel terug is huis toe as die skool begin het, maar is nie baie seker daarvan nie. Naweke het ons in elk geval maar meestal see toe gekom. 

My pa het so twee of drie keer per week uitgery plaas toe om te kyk dat alles daar goed gaan. Dan het hy ‘n snytjie brood met goue stroop gesmeer en in die oond gerooster. Die Aga het heeltyd aangebly, Oupa het dit soggens en saans kom skud. 

Onthou, daardie tyd van die jaar gaan hier op die Rûensplase omtrent niks aan nie, dis horingdroog, die oes is af en saaityd begin weer ná Paasnaweek. Hier is ‘n baie ou sê dat dit net die ramme en die windpompe is wat werk hier by ons in Desember en Januarie. Ek kon altyd die verskil tussen Desember en Januarie sien in die lande. In Desember was die stoppels nog goud op die lande, in Januarie was dit droog en kaal.

Soos reeds gesê wasop Struisbaai nie veel vermaak vir jongmense aangebied nie en moes ons onsself besig hou. Of dit nou wind was of mooiweer, ons het elke dag ver langs die see gaan stap. Struisbaai het mos die langste sandstrand in die suidelike halfrond, jy kan ver stap sonder onderbreking. Ons het ook graag by die hawe gaan swem en gekyk hoe die vissersbote inkom. Daar was pylsterthaaie in die hawe, maar ons was nie bang vir hulle nie, ons het darem ook nie met hulle gespeel nie, hoor!

Kaarte, bordspeletjies en lees het ons besig gehou. Brug en Canestin. My ma het my sommer vroeg leer brug speel. André het ook graag brug gespeel. Hy kon dit goed doen. Ek was maar die spaarwiel wat moes speel as my ma-hulle ‘n hand gekort het. My pa het nie kaart gespeel nie. 

Een jaar het ons groot pret gehad. Dit was in die Huisgenoot dat mans ook in die toekoms sou kon swanger raak. Keer op keer sou iemand, as daar ‘n man verby loop, vra, ‘Hoe sal hy lyk?’ Dadelik kyk almal dan pad se kant toe, kry ‘n prentjie in die kop en lê soos ons lag, veral as die persoon ‘n effens koddige houdinkie gehad het. Kan jy dit nou oorvertel!

Iets wat ‘n baie groot invloed op my kinderlewe gehad het, maar my hele lewe beïnvloed het, was die stranddienste. My ma het as kind stranddienste bygewoon op Kleinmond en het my gemotiveer om te gaan op Struisbaai. Elke jaar het ek die eerste paar dae mooi bygewoon, maar later nie meer nie. Ek sou verslaap, te lui wees of wat ook al.

In standerd vier was my niggie, Elize, die spanleidster van die Struisbaai stranddiensspan. Miskien was ek al ouer, miskien het my ma meer toegesien dat ek gegaan het, dalk was daar al meer aktiwiteite waaraan ek kon deelneem en wou deelneem, maar daardie jaar het ek begin om ernstig die stranddienste by te woon. Ek was mal daaroor. Dit was lewensveranderend. Op ‘n jong ouderdom is my geestelike lewe op ‘n ander baan geplaas, het ek geleer dat daar baie meer is as net om normale godsdiens te doen. Dit was lekker en die sang vooraf het my natuurlik getrek. 

Daarvandaan het ek elke jaar die stranddienste bygewoon en toe ek in matriek was, die eerste jaar as spanlid opgetree. Dit was fantasties. Jaar vir jaar het ek daar my geestelike inspuiting gekry en die volgende jaar met nuwe lus aangepak. Danksy daardie jare se stranddienservaring kon ek weer twee van my kinders oortuig om ook deel daarvan te word in hulle studentejare en het beide Dewet en Martjie opgetree as die leiers in Grootbrakrivier. Hulle het ook op uitreike gegaan na Transkei en Msinga. Net soos ek wonderlike maats ontmoet het by die stranddienste, het ook hulle pragtige Christenvriende ontmoet met wie hulle ‘n pad stap. 

In die ou Struisbaai Hotel is daar ook saans ‘n disco gehou. Dit was die uithangplek van die jongmense. Omdat ek eers te jonk was om soontoe te gaan, maar ook omdat ek die stranddienste bygewoon het, was ek nie so ‘n gereelde discoganger nie. Ek onthou wel dat daar ‘n regte orkes gespeel het en ek een keer in die dag daar was wat die orkes geoefen het. Die orrel het my getrek! Ek het net staan en kyk en kyk en ingeneem watter knoppe sy druk, hoe sy die voet bywerk, alles. Nes ‘n spons.

Ná die stranddienste verby was, sou ek dalk ‘n aand saam met van die straat se kinders disco toe gaan, maar ek het nooit gevoel dat ek daar inpas nie. Een dag het ons van die plaas af kom kuier op Struisbaai. Ons sou die aand weer terugry. Die ander kinders wou disco toe gaan en ek is maar saam, wat moet ek dan nou anders doen? My pa het my baie goed geken en ek kon die uitdrukking in sy oë goed onthou. 

Toe hulle later wou ry, het hy ingestap by die disco en my kom roep, iets wat vir my glad nie snaaks was nie. Rina Kat het my na die tyd by die skool kom vra hoekom my pa my dan by die disco kom haal het. Dit het seker vreemd gelyk vir mense wat nie geweet het wat aangaan nie. Ons het ook soms motorhuispartytjies by ons huise gehou. 

Ek het nooit baie maats gehad op Struisbaai nie, ek was al een van ons skool wat stranddienste bygewoon het. Die stranddienste was vir my genoeg en as dit verby is, was die vakansie ook gewoonlik amper om. 

Anél was my Struisbaaivriendin. Sy het van die Kaap af gekom. Ons het mekaar in standerd ses ontmoet by ‘n CSV-kamp in Kleinmond. Sy is vandag nog ‘n baie kosbare vriendin van my. Ons het saam stranddienste bygewoon en het oor jare al diep geloofspore getrap. Dit was ‘n hele ent van ons huis af tot by hulle s’n, maar ons het bedags heen en weer geloop en by mekaar gekuier. Saam kaart gespeel, saam see toe gegaan. Wanneer ons by hulle huis verby ry op pad plaas toe of terug, sou ek altyd kyk of hulle gordyne oop is. Dan het ek geweet hulle is daar en kon ek gaan klop. 

‘n Ander see-ervaring wat regtig vermelding verdien, is Koppie Alleen. Dit was ‘n stukkie seegrond wat ons gehad het, wat nou deel is van die De Hoop Natuurreservaat. My pa en tannie Eljo het dit saam gehad. Dit was deel van die plaas, Dronkvlei. Daar het skape geloop en ek het baie keer saam met my pa soontoe gegaan. 

Daar was ‘n huis by Koppie Alleen waar ons soms gaan bly het. ‘n Lieflike, afgeleë privaatstrand. Dit was heeltemal anders daar as by Struisbaai en ons het nie veel geswem nie, eerder in die poeletjies gespeel terwyl my ma graag geswem het. Ons sou vir ure na die walvisse kyk wat daar in die baaitjie kom broei het. 

Ons was soms daar saam met van die familie, maar het later jare nie meer soveel naweke soontoe gegaan nie. Dit was meer visvangnaweke, my pa was nie ‘n hengelaar nie, maar my ooms het graag vis gevang. Ons sou dan stap tot by hulle by die viswaters en daar tyd verwyl. 

Oom Jurie Erwee het een keer vir my vertel dat my pa wel as jongman visgevang het. Een dag was daar ‘n fratsgolf wat sy hoed van sy kop afgehaal het. Sedertdien het my pa nie meer visgevang nie. Onthou, hy was maar ‘n klein seuntjie toe sy broer van ‘n rots afgeslaan is en verdrink het. Blykbaar sou my pa saam met hulle opstaan, ook sy visstok vat en saamloop, maar iewers sou hy aan die gesels raak met ‘n ander hengelaar en net nooit sy visstok in die water kry nie. 

Ons het gelukkig nooit ‘n tekort aan vis gehad nie. Koppie Alleen was visvangmekka en my pa het sekere mense toegang gegee om daar te kon gaan visvang. Hulle het altyd gesorg dat ons ‘n vis in die huis het. Meestal galjoen. Dit was nog voor die verbod op galjoenvang was. 

Vandag is ons bevoorreg om ons eie huis by Struisbaai te kan hê. Deur die jaar kom ons nie só gereeld nie, maar wanneer ek begin kriewelrig raak, weet ons dis tyd om ‘n bietjie see toe te kom. Ek het nodig om dit te sien, ek het die wind en die weer nodig. Ek het nodig om die onstuimigheid op die water te beleef, al is ek nie self in die water nie. Ek het nodig om die sand onder my voete te voel, met my voete in die water in te stap. Dit was my siel skoon. Dit maak my rustig. 

Toortsie

12 thoughts on “Die see – NaNoWriMo2019

  1. In my jongdae sou ek mal daaroor gewees het om heeldag op die strand rond te loop. Ek dink ek was meer in die swembad as in my eie bed. Ons het ook enkele bloublasies hier by ons strande, maar hulle is nie eintlik ‘n las nie. Hulle sê mens moet die sap van die suurvygie se dik blare aansmeer as een jou steek. Die seebamboes mis ek met ‘n swaar hart. Dis wat die lekker Weskus-“seereuk” veroorsaak waarna ek so verlang. Ons see is pragtig, maar ruik na niks.

    Liked by 1 person

  2. Die see is wonderlike medisyne vir die siel. Was so hartseer toe ek die eerste keer gelees het dat daar in die nuwe Jerusalem (hemel) geen see gaan wees nie. Nadat ek Openbaring bestudeer het verstaan ek dit beter… maar ai, ‘n ewigheid sonder die see. So geniet dit terwyl jy kan.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s