Wysheid en die grysheid

Lief God Grootliks het ‘n baie waardevolle artikel geskryf oor die wysheid van ouer mense. Dat ons raad van ouer mense moet respekteer en ter harte neem omdat hulle soveel lewenservaring het. Dat dit wys is om te luister na raad wat vir jou gegee word en dwaas is om goeie raad in die wind te slaan. As jongmens het ek soms geluister, ander kere nie.

Sy skryf ‘n entjie verder oor ‘n baie teer sakie, oor hoe ons ons oumense hanteer. Ook ek is skuldig. Ook ek bring nie altyd genoeg my kant nie en steun baie op die versorging wat my twee ma’s kry in die ouetehuis, waarvoor ek natuurlik baie dankbaar is. Ek sou dit nooit sonder hulle kon doen nie.

Ek is die laaste tyd baie bewus daarvan dat ‘n mens die wysheid wat jy van ouer mense kry, maar moet indrink, selfs al het jy nie altyd lus daarvoor nie, selfs al is dit outydse raad, want dit gaan verby. Dit kan verlore gaan.

In die demensie-afdeling sien ek pragtige oumense wat almal in hulle eie wêreldjies leef en ek is oortuig daarvan dat elkeen van daardie mense baie wysheid gehad het om te deel, baie kennis en ervaring wat hulle vir ander kon leer. Dat soveel van hulle suksesvol was in sy/haar eie gebied.

Dit raak vir my net al hoe belangriker, al hoe dringender as ek besef dat, selfs al is hulle verstand nie meer tiptop nie, al tree hulle nie meer rasioneel op nie, al praat hulle deurmekaar, ons hulle steeds met respek sal behandel. Dat ons sal dink wat ons voor hulle sê en nie lelike, afbrekende, of verkleinerende opmerkings veral in hulle teenwoordigheid sal maak nie. Dat ons hulle sal vergewe vir foute wat hulle dalk in die verlede teenoor ons gemaak het, dalk in onkunde, dalk omdat hulle nie anders kon nie, dalk omdat ons eie persepsie anders was as hulle s’n. Dat ons vir hulle met liefde sal oorlaai terwyl ons nog die geleentheid het, dat ons sal probeer vergoed vir foute wat ons dalk self ook teenoor hulle gemaak het in ons jonger dae.

In ‘n tyd wat Satan alles in sy vermoë doen om gesinne op te breek, huwelike aan te val, onmin in families te saai, laat ons alles in ons vermoë doen om mekaar lief te hê en dit vir mekaar te wys in woord en daad.

Toortsie

10 thoughts on “Wysheid en die grysheid

  1. Jy het ‘n sterk punt beet. As kind stil gesit en luister as oupas en ooms praat, blou krulle uit hul pype opstyg terwyl swart koffie uit pierings geslurp word. So het ons baie wysheid geleer, insig verkry. Jongmense vandag is sielsleeg.

    Die doktertjie wat so onbeskof was in die hospitaal, sal eendag haar man ook so hanteer, vermoed ek. Hoe respekteer ek iemand wat met my mors sonder rede? Haar ouers het seker maar ‘n halwe job gedoen.

    Fisioterapeut bring my nuwe blikkierie en verduidelik “hoe dit werk.” Sy vertel van klim op Leeukop, moedig MY aan om te gaan. Dan rek sy haar lank uit en onverwags gee sy my ‘n lekker sagte drukkie. Dis Stasoft vir my hart. Sulke dierbare mensies is te yl gesaai, maar dis tipies van die fisioterapeute by ons hospitaal. Dis hoe oumense se harte genees.

    Liked by 2 people

  2. Kan net my kop instemmend knik. Ek wil juis ‘n gesprek met my 16 jarige kleinseun voer wat in rebelsheid teen sy ouers optreë en verkeerde paaie begin loop. Ek ken dit… dis hoe ek reageer het. Hopenlik sal my eie ondervindings en die duur lesse wat ek moes leer sy oë bietjie oopmaak. Of hy gaan doen wat ek gedoen het en my ouma vermy omdat sy vir my wou preek soos ek dit gesien het. My vraag is altyd hoekom kom wysheid eers met grysheid 😭

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!