Liewe Ma
Ek sit nou hier by ma se bed. Dinsdagoggend 1 Junie 2021 tien oor ag. Ons het nie verwag om ma vanoggend nog te sien nie, ma was reeds gisteraand al so swak.
Toe ek instap en ek ma groet, helder ma se gesig op en noem ma my op die naam en vra my waar ek is. Ek sê dat ek by ma is. Ma sê dat ma by die huis is. Ek sê dat ma moet groete stuur vir pa, vir Ouma Lenie en vir Gaaf. Dat ma moet sê dat ek baie lief is vir hulle. Ma het ma se kop geknik. By Gaaf was ma effens ontsteld. Daarná het ma gesê ma is veilig.
Ja ma, ma ís veilig tuis. Veilig by Jesus, saam met al hierdie mense wat ek hier genoem het en nog baie ander ook. En ek is dankbaar dat ma en pa bygedra het dat ons ook eendag veilig sal wees wanneer ons sterf. Tot in die duisendste geslag, belowe die Woord ons, van hulle wat Hom liefhet, en ons hét Hom mos lief, soos ma en pa Hom ook liefgehad het.
Liewe ma, ons kon soms lekker goed vassit, maar vandag wat ek ook al die lewenspad ‘n hele ent gestap het, besef ek dat God vir my nie ‘n beter ma kon gee nie. Ma was ‘n fyn opgevoede vrou. Hoogs gekwalifiseerd en dit was iets wat min vroue in daardie jare kon regkry. Dit was net vir ‘n handjievol vroue beskore.
Ma het nie lelik gepraat nie en die ergste woorde wat Ma gebruik het was Dammit en Bloody Fool. Maar jy moes weet, as jy gebloodyfool is kon die see jou nie skoon was nie.
Ma het goeie smaak gehad. ‘n Aanvoeling om dinge mooi bymekaar te sit. Ek onthou die een keer wat ma so vies was. Julle was by ‘n potterywinkel en ma het ‘n paar potte so by mekaar gerangskik, maar dit toe nie geneem nie. Toe ma ‘n rukkie later terugkom om dit te koop, het iemand anders dit klaar gekoop. Ma weet, dis eintlik ‘n kompliment, nè!
Ma het ‘n ding nie halfmas gedoen nie, maar voluit. Amper in overdaad. Soos om 6 vrugtekoeke op een slag te bak of tien pasteie of blikkevol krismiskoekies.
En ma kon tuin maak soos min. Ma het Bosfontein se werf omskep in ‘n ware lushof. Ek bewonder ma daarvoor.
Ma het ons goeie Taal geleer en al het ek op skool geglo dat ek eintlik syfervaardig is eerder as taalvaardig, weet ek vandag dat Ma vir ons geleer het om nie taal te meng nie en die regte woorde te gebruik. Ma, maar ook ek het verslap hierin, ek is jammer, ma. En die bietjie skryf wat ek deesdae probeer, is nie naastenby die mooi geskrewe werk wat ma gedoen het nie.
My musiekliefde kom van ma af. Ek sal nooit daardie dag vergeet wat ons die klavier by Heuer op Stellenbosch gaan koop het nie. En toe hulle hom indra in die huis in. Dit was of die hemel vir my oopgegaan het daardie dag. Dankie daarvoor, ma. Ma kom ‘O glo my’ so mooi op die klavier speel en dan het ma sulke draaie en swaaie ingebou daarin waaroor ek mal was.
Vandag besef ek ook dat ma baie dinge baie beter hanteer het as wat ek ooit kon. Soveel mense het altyd gesê dat Ma ‘n Lady was en ek het dit toe nie besef nie. Maar ja, ma wás ‘n lady. Ma se voorkoms was end-uit belangrik. En ma het ook end-uit probeer om ‘n goeie en interessante gesprek te voer.
Ma, as daar nou een eienskap van ma is wat ver bo almal uitstaan, is dit ma se gasvryheid. Ma het ma se gaste almal spesiaal laat voel en daar was altyd iets lekkers in die yskas om aan te bied vir hulle. Selfs op die einde nog wou ma seker maak dat ons ‘n koppie tee saam geniet.
Ag, en ma was natuurlik die ewige romantikus en wou almal altyd laat trou met mekaar! Tot ons irritasie soms, maar later het ék dit ook begin prettig vind, net soos die kleinkinders.
Ma was ‘n fees met kinders en al ma se kleinkinders was mal oor ma en het ma soveel geniet en praat altyd met ‘n glimlag van ma.
Ek is so dankbaar dat ma my ma was. Ek is trots om ma my ma te noem. Dankie vir ma se nalatenskap. Ma het beslis ma se merk gemaak.
Mag ma in vrede rus. Dankie dat my my vanoggend die uiters belangrike boodskap gegee het dat ma veilig aangeland het. Wat meer kon ek vra?
Madelé