Ek het lanklaas vertel wat alles in die Cum-boksie is. Keer op keer is dit vol verrassings. Die boeke wat ek nou wys is almal boeke wat ek graag nog van hoek tot kant wil deurlees.
Die eerste boek is ‘n lekkerleesboek, Driftwood Bay, deur Irene Hannon. Ek ken die skrywer glad nie en is baie nuuskierig om dit te lees. Ek sien agterop staan daar: ‘A Springtime of second chances and new beginnings.’ Dit klink interessant.
‘n Oulike huweliksboek is Beloftes, romanse en liefde, deur Dr Greg & Erin Smalley. Ek is mos maar ‘n kampvegter vir die huwelik en ek is seker hierdie boek sal sommer baie paartjies help. Die voorwoord is deur Gary Chapman, die bekende skrywer van Vyf tale van die liefde, geskryf.
Vir ons manne wat ‘n verskil wil maak, is Man van God, geskryf deur Bennie Mostert. Hierdie boek gee riglyne vir mans wat graag ‘n man van God wil wees, om ‘n vader te wees soos die Vader dit begeer, volgens sy agterblad.
Hierdie boek, Laat U koninkryk kom, is ‘n oulike boek wat deur Elza Meyer geskryf is sodat ons God se koninkryk beter kan verstaan en kan saamwerk om Sy koninkryk op aarde te vestig.
Ek glo mos dat niemand anders so ‘n goeie jy kan wees as jyself nie. Die titel, Die heel beste jy, deur Dirkie vd Spuy, Dalena Vogel en Esther vd Spuy sê vir my baie.
Watter name is Jesus alles genoem en wat was die betekenis daarvan vir ons? Ek sien hier in Die name van Jesus, deur Fanie Naude, word ‘n hele paar genoem, soos die Weg, Leidsman, Here, die Amen, ens. Dis baie interessant.
Hier is sowaar iets vir ieder en elk by Cum boeke. Gaan loer gerus by hulle as een van hierdie boeke jou aandag trek. Intussen kan jy hierdie spasie dophou, ek sal kom vertel as ek iets ouliks raakloop.
Groetnis
Toortsie