Die langtafel by Rebusfontein

Kyk, as julle my wil opgewonde maak, moet julle net sê dat ons gaan eet! Ek is mos mal oor eet, goed daarmee, dis in my gene, ek kom uit ‘n familie van goeie eters. Ons hou daarvan en ons hou van die gesellige samesyn.

Nou het die Lekkervurige Vuurvliegie ons genooi vir ‘n langtafelete in die magiese Rebusfontein, waar ons Towerinne in ons verbeelding tog te lekker saamkuier. Haar opdrag? Ons mag twee mense saambring: Een wat jy bewoner en een wat jy verpes. Ek dink eintlik sy wil hê dit moet beroemdes wees, maar ai, ek is nie so goed met die beroemdes nie. Ek sal eerder twee mense uit my persoonlike wêreld saambring. Beroemdes wat ek kon nooi, sou dalk Jane of Arc wees, wat ek seker tien jaar gelede na ‘n Vrouedagete genooi het, of Johan Strauss II, die komponis. Die berugte een sou iemand met ‘n rooi pajamapakkie wees, maar ek wil regtig nie my blog op enige manier besoedel nie.

My keuse van gaste is dus my pa, wat al in 1999 oorlede is. Hy was so ‘n wonderlike mens, ‘n allemans vriend. Sag en dierbaar. Dit sal vir my lekker wees om sommer net ‘n slag langs hom aan ‘n tafel te kan sit.

Aan die ander kant is my Broodina, ek noem haar sommer Broodjie. Sy is eintlik ook ‘n liewe mens, al maak sy my soms verskriklik kwaad, al stem ek nie altyd saam met wat sy doen nie. My pa het goed met haar reggekom toe hy nog gelewe het en ek weet dat ons drie eintlik ‘n goeie aand kan hê, daar is net sekere terreine wat ons nie moet betree nie.

Watter kos sal ek bring?

My pa was nie een wat vol nonsens met kos was nie. Hy sou ‘n snytjie ou brood met gouestroop smeer en dit in die oond laat smelt en tog te lekker eet. Hy sou ook byvoorbeeld half drie in die huis instap met ‘n oom saam met hom en sy bord kos vir die oom aanbied terwyl hy ‘n snytjie brood eet. Hy was lief vir gewone boerekos, maar het ook iets spesiaals geniet. Ter wille van die spesiale geleentheid sal ek beesstert bring na die tafel, ek weet dat hy baie lief was daarvoor. Daarby sal ek boontjies roerbraai met spek, uie en knoffel en fetakaasblokkies daarby gooi.

Broodjie, weet ek, is baie lief vir appeltert. Ongelukkig het ek nie ‘n Bantingappeltertresep nie, maar ter wille van die geleentheid sal ek dan maar ‘n gewone appeltert bak. Ek sal ‘n bietjie dink hoe ek die suikerinhoud kan verminder. Dalk maak ek dit met ‘n amandelkors en gebruik eerder Xyilitol as suiker. Of ek dit heeltemal Bantingvriendelik sal kry, betwyfel ek, daar moet te veel appels inkom. Tog glo ek dat ek ‘n stukkie daarvan sal kan geniet.

Nou moet ek nog net my uitrusting regkry! Joe! Ek is opgewonde. Ek wonder wie en wat die ander Towerinne almal na die langtafel gaan bring? Dit gaan weer ‘n feesgeleentheid soos min wees.

Lees hier om te sien wat die Towerinne alles doen: https://fresh.inlinkz.com/p/f3a95533873d4e39950509a1af369d8a

Sien jou daar!

Toortsie

Suiwer verbeelding van Toortsie

42 thoughts on “Die langtafel by Rebusfontein

    1. Ek wil net sê dat ek jou tafel net so geniet. Elke jeer wat ek lees, is daar ‘n onderbreuking of iets. Ek is mal oor jou skaapstertjies en daardie suurlemoenbesigheid klink fantasties. Jou gaste is fenominaal! Om een of ander rede wil my foon nie die kommentare oopmaak nie. Dit sal nog een of ander tyd. Mooi dag.

      Liked by 1 person

  1. Toortsie, hoe laat jou skrywe van jou pa my nou aan jou dink. Hy klink na ‘n wonderlike mens en kan ek asb langs hom sit want hoop hy het broodjie met stroop ingesmokkel dat ek kan vra vir ‘n happie. Broodjie… nie seker wat om te sê oor haar nie🌻

    Liked by 1 person

    1. Hy het ‘n goeie hart gehad en ek twyfel of hy enige vyande gehad het.
      Hy sou bv as hy in die ry by die kassier staan en daar staan iemand voor hom wat hy weet swaarkry, ongemerk ‘n geldnoot vir die kassier gee om daardie oersoon se kruideniersware te betaal. Sonder ophef.

      Like

  2. Ag nou verlang ek na my pa ook. Jou pa klink net so sagmoedig. Ek gaan definitief beesstert eet….en appeltert en room. Jy is nie op Link…. nie. (Vergeet ek alweer die ding se naam)

    Liked by 1 person

  3. Lekker gekuier hier met jou en jou Pa. Hy klink na n regte mens-pa, sagmoedig en meelewend. Jou kos is ook uit die boonste rakke. Ek dink ek moet jou dalk vra om in my naam iets te maak wat lekker is. Ek is gladnie n kooker/kookster nie. Groot asseblief jong!

    Liked by 1 person

      1. Noudat ek daaraan dink, hier maak hul “pork belly ” wat lippelek- lekker is. Ek sal dit maak en dan kan jy enige van jou banting groente gereg daarby maak. Wat dink jy daarvan? Dankie dat jy sal help jy het my nou sommer weer moed gegee om iets te doen.

        Liked by 1 person

  4. Ek sal ook graag jou pa ontmoet. Broodina? Neeee … Ek is seker sy het haar goeie punte, maar ai, ek het nie krag vir sulke knaende mense nie. Ons is almal gek oor beesstert. Karen eet gewoonlik die bene so skoon dat haar pa sê hy sal te skaam wees om dit vir die hond te gee om aan te kou. Ek het juis Sondag weer beestert opgelaai daar by Food Lovers Market.

    Liked by 1 person

      1. My man sal my laat weet wanneer dit tyd is 😂 Ons kook nie elke dag nie (veral nie wanneer Karen nie hier is nie) en vir die twee van ons verkies ons ‘n ligte ete of ‘n bord kos as wegneemete. Hier rond is daar oulike restaurante wat sulke wegneemetes aanbied en die pryse is baie redelik (buite seisoen). Afslag vir pensioenarisse. Geen skottelgoed – groot faktor. Maar so nou en dan kry ons baie lus vir ons eie kos.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!