Betaal dit vorentoe

In Blogland het ek in my lewe al baie geleer. Ek het van dinge, mense, interessante plekke, hoe ander mense doen en dink, respek vir ander, ag, noem maar op, geleer. Dis ook in Blogland wat ek van die ‘betaal dit vorentoe’-projek geleer het, beter bekend as ‘pay it forward’.

Ons het ook betaal-dit-vorentoe-speletjies in blogland gespeel. Ek sou byvoorbeeld begin deur te sê dat die eerste vyf persone wat in die kommentare reageer, elkeen ‘n geskenk van my deur die pos sal kry. Elkeen van daardie vyf persone moet dit dan ook weer doen en vir vyf ander ietsie met die pos stuur. Jy betaal dus vorentoe en nie terug vir my nie.

Ons het ‘n nuwe, jong, predikant en as ek hom so luister, is hy defnitief ons ‘barmhartigheids’-predikant. Sy preke gaan keer op keer na goeddoen vir ander mense, byvoorbeeld dat ons groentetuine sal aanlê en die oorskot groente by die plaaslike skool afgee vir behoeftige kinders. Gister het hy gepraat oor Dorkas wat vir arm mense boklede gegee het en sodoende vir hulle lewe gegee het.

Hy gee toe vir ons tyd om te dink, wat kan ons doen? Wat is elkeen van ons se roeping?

Verlede Donderdag by die besigheidsvrouesamekoms het ek myself voorgestel dat ek mense help met die Bantingleefstyl en om hulle probleme uit te sorteer, dat ek dit gratis doen as deel van my betaal-dit-vorentoe-projek. Ek help mense en hulle help weer ‘n volgende persoon.

Die bevestiging wat ek Sondag in die kerk gekry het, was juis dit: Doen TPM (Transformation Prayer Ministry. Transformasie Gebedsbediening). Doen dit gratis, solank dit enigsins moontlik is.

Hier is soveel nood in ons dorp. Soveel mense wat hulp nodig het, ‘n oor nodig het, God nodig het. Mense wat ek op my eenvoudige manier dalk kan help om ‘n pakkie swaar gemoed langs die pad neer te sit.

Soos wat ek mense wat vra wat dit kos, uitdaag om vir iemand anders goed te gaan wees, doelbewus goed te wees, op ‘n manier wat vir haar gemaklik is, binne haar bereik of sak, net so daag ek vandag vir jou uit: Begin jou eie betaal-dit-vorentoe-projek. Gaan wees doelbewus goed vir iemand op jou eie manier, en sou dit nodig wees om net so effens ‘n treetjie buite jou gemaksone te moet gee, doen dit. Waag dit.

Ons kán ‘n verskil maak. Elkeen van ons op sy/haar eie manier. Ons moet dit net doen.

Toortsie

11 thoughts on “Betaal dit vorentoe

      1. Daardie waag laat my op hierdie stadium nog bietjie terug deins. Ek weet wat die Here vir ons in Amerika beplan, maar sjoe, ek sal eers die moed bymekaar moet kry. 🤦🏼‍♀️

        Liked by 2 people

    1. As ek iets mag fluister: Dit beteken so baie vir my ook. Om te sien hoe iemand opgetrek in ‘n hopie sit, hande in mekaar geklem en bewe, en sy begin ontspan en stap weg met ‘n glimlag. Dis ‘n present wat ek van die Here af kry. Geen beloning sal opweeg daarteen nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s