Die storie van Santjie Verwey

Santjie Verwey mag miskien ‘n mooi naam, amper ‘n sagte naam, wees, maar o, wee!, moenie jou met haar misgis nie, hoor! Sy is ‘n regte ou heethoof en vererg haar vir die geringste dingetjie. Sy wil regtig haar donkie draf, as julle verstaan wat ek bedoel!

Verder dink sy sy dra die broek in die huis, en nie net in die huis nie! Nee! Sy wil die broek dra in die hele dorp. Sy dink dis haar werk om die lakens uit te deel! Sy verbeel haar sy is Burgermeester Susanna Verwey! Die ergste is, sy ís nie eers op die dorpsbestuur nie, wat nog te sê burgemeester! Bid jou dit aan!

Om met haar te werk moet jy behoorlik hare op jou tande hê, sy het net eenvoudig iets te sê oor alles en oor almal, sy weet altyd beter, dink sy is die kat se snorbaard, as jy my vra! Almal moet net heeldag na haar pype dans en as jy nie toegee aan haar eise nie, moet jy weet dat jy nie die einde daarvan gaan hoor nie en dat jy beslis die spit gaan afbyt. Tweede gaan jy kom, dis nou nie altemit nie.

Nou die dag kry sy toe behoorlik vinkkoors. Sy moes net ewe skielik haar hele huis oordoen en almal wat moontlik kan help, se hulp word ingeroep. Dis nuwe gordyne, nuwe beddegoed, nuwe matte! Alles net van de beste, en soos ek reeds genoem het, is sy regtig vol nonsens. Niks gaan by haar skerp oë verby nie. Om die waarheid te sê, ek vermoed sy het die kluts bietjie kwytgeraak, dat sy nie behoorlik geweet het waar haar vierkantswortel sit nie, maar dis nou net tussen ons, hoor! Ek dink sy was sommer lekker deurmekaar.

En net voor jy regtig dink dat ek sit en skinder oor hierdie vrou, wil ek jou gou reghelp. Ek ken nie eers iemand met die naam, Santjie Verwey nie. Ook nie iemand wat só is soos ek hierbo beskryf het nie. Hierdie hele storie is suiwer verbeelding van die Toortsie.

Vandag is Internasionale Moedertaaldag, en Hester het ons uitgedaag om ter viering van Afrikaans, ons geliefde moedertaal, hierdie vier idiome wat in swart gedruk is, iewers te gebruik. Ek hou natuurlik daarvan om in idioom te praat, en beland dan in die kookwater, omdat mense nie meer in idioom praat nie en my verkeerd verstaan. Maar elke diertjie het sy plesiertjie en ek hou van ‘n uitdaging, waarmee Hester natuurlik uitstekend is, naamlik om interessante uitdagings uit te dink.

Groetnis

Toortsie

Wil jy graag lees wat ander bloggers met hierdie uitdaging gedoen het? Volg HIERDIE SKAKEL.

12 thoughts on “Die storie van Santjie Verwey

    1. Maar van vierkantswortels verstaan ek. Dis die teenoorgestelde van ‘n kwadraat. Of ek dit oral reg ingespan het, is natuurlik ‘n ope vraag.
      Kameel, ek moenie tyd kry om te dink oor ‘n ding nie, dan foeter ek dit op. Dieselfde met kosmaak, moenie vir my te veel tyd gee om te broei by die kospotte nie, flaters is dit dan gewis!

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!