‘n Stappie in die park?

Ten opsigte van die Parkrun, oftewel, Parkwalk soos ek dit noem, het Toortsie haar houding verander: Parkwalk is g’n ‘Walk in the park’ nie en as ek in die park wil gaan loop, moet ek ‘n park soek om in te loop, en ek twyfel sterk of hier so iets in die dorp is nie.

In elk geval, ek het so ‘n rukkie terug mos besef dat my fiksheidsvlakke glad nie is hoe hulle behoort te wees nie, dat ek beslis te min oefen en as ek stap, ek ‘n bietjie meer petrol sal moet gee.

Dis alles goed en wel om soms vir ‘n ou stappie te gaan, maar as ek enigsins net wil dink aan die Camino, wat nog te sê beplan, sal hier ‘n drastiese verandering moet plaasvind.

Maréth het nou die dag kom vertel van haar ondervinding as Camino-stapper. Terloops, sy het alreeds vrou-alleen twee van die roetes van begin tot end gestap, elke keer meer as ‘n duisend kilometers. Dit wil gedoen wees en ja, of ek haar dít sal probeer nadoen, is ‘n ander vraag.

Sy noem onder andere dat dit nie net gaan dat jy kilometers op jou bene sit nie, maar dat jou liggaam gebrei moet wees. En daar kom my rugoefeninge ernstig ter sprake.

Sy vertel hoe sleg en seer party van die mense se voete raak, maar dat sy gelukkig nog nooit daardie probleem ontwikkel het nie.

Sy sê haar rugsak weeg ‘n skrale 7 kg, maar ek wil mos maar eerder my sak bedags laat aanry omdat my rug nie sulke gewig toelaat nie, maar dit veroorsaak dan natuurlik meer akkurate beplanning.

Om haar voete te spaar, trek sy elke keer wanneer sy rus, nes Ernst Grundling ook sê, haar skoene uit sodat haar voete lug kry. Sy pak 3 pare katoensokkies in, katoen, sodat dit nie te warm raak nie, en dra bedags 2 paar. Nie 2 paar oormekaar nie, maar 2 pare wat sy afwissel. Elke keer wanneer sy rus, trek sy die sokkies uit, hang dit oor haar rugsak, en trek dan die ander, droë paar aan. Ek sal net weer moet seker maak of sy nie wel twee pare oormekaar dra nie.

Dan sê sy ook dat sy haar voete met Tea Tree olie behandel, maar ek is nie seker presies hoe sy dit doen nie, ek kan maar nog weer uitvind.

So, terug by die parkrun. Geen onnodige gekletsery en ander mense uit die stap hou nie. Ek gesels wel vinnig met ‘n persoon wat toevallig my spoed stap. Wel, nou die dag het ‘n gesellige jong dame lekker langs my ingeval en het ons behoorlik geklets.

Ek begin half 8 by my huis stap om net mooi wegspringtyd daar aan te kom, stap die parkrun so vinnig ek moontlik kan en stap dadelik terug huis toe. Dit gee my ‘n goeie oefening op ‘n Saterdag.

Verder probeer ek nou daagliks my rugoefeninge doen, nie meer net 3 keer per week wat ek nooit reggekry het nie. Dis makliker om iets daagliks te doen as 3x per week! En ek stap stap stap wanneer ek die kans kry.

Ek dink my fiksheid sal binnekort op ‘n volgende vlak wees, maar dan is daar steeds groot kans vir verbetering. Nog baaaie vlakke!

Nou ja, vir Toortsie is Parkrun tans ‘n ernstige besigheid, hoor!

(Foto’s geleen op Facebook)

Toortsie

20 thoughts on “‘n Stappie in die park?

    1. Ek wou altyd die Visrivier doen, maar mens moet jou eie sak dra. Ek kan nie meer sak dra nie. En by die Otter moet mens deur ‘n rivier iewers. So spyt ek het daardie geleenthede laat verbygaan toe ek nog jonk was.

      Like

      1. toe ek jonger was. het ek nie eers daaraan gedink nie. Ek het die die winter ernstig oorweeg om saam met ‘n vriendin en haar klub te gaan, maar die hoogtes en klim en klouter is nie vir my en my hoogte vrees nie.

        Liked by 1 person

        1. Ek is baie vol nonsens oor watter staproetes ek doen, omdat ek nie my sak kan dra nie. Die Walvisroete, wat ek ook graag doen, het baie klimme. En die Transkeiroete wat ek een keer gedoen het, ook.

          Like

Gesels saam, asseblief!