Caminogesels

Ek het mos nog steeds die gedagte om eendag die Camino in Spanje te gaan stap. Hierdie bloginskrywing dien as aantekeninge vir myself vir wanneer ek dit eendag wel doen. Dalk vind dit baat vir iemand anders ook.

Na aanleiding met ‘n gesprek met twee persone, skryf ek hierdie.

Die een was ‘n man wat dit saam met sy vrou gedoen het. Hulle het ‘n week gestap en in hotelle gebly en hulle sakke laat aanry. Hy beveel dit aan dat jou slaapplek bespreek is waar jy die volgende aand wil slaap. Dan hoef jy nie so te jaag om daar te kom en slaapplek te vind nie. Hulle het soggens 9 vm eers begin stap en rustig gestap tot sowat 4 nm. Dit klink vir my goed, want ek is nie so vroeg soggens op-en-wakker nie. Ek was bekommerd oor die siësta war in Spanje beoefen word en dat jy dalk nie etes langs die pad kan kry nie. Hulle het nie ‘n probleem daarmee gehad nie. Tog het Maréth die siësta genoem. Maréth het juis eerder vroeër soggens begin stap sodat sy haar bestemming bereik voor die siësta begin.

Die dame met wie ek gesels het, het die Aubergeding gedoen. Hulle was twee dames bymekaar. Vir haar het dit juis gegaan oor die gedagte met hoe min jy kan klaarkom. Dit was deel van die ervaring van die Camino om in daardie massiewe slaapsale te slaap, mans en vroue deurmekaar met mense wat jy glad nie ken nie.

Sy sê dit was skoon, gemaklike beddens elke nag met goeie matrasse op. Daar word ‘n matrasbeskermer oorgetrek. Hulle het slaapsakke saamgeneem.

Hulle het 10 dae gestap vanaf die punt in Frankryk waar almal begin, ek kan nie nou op die naam kom nie.

Die Camino-sertifikaat was nie vir hulle belangrik nie en daarom het hulle juis die eerste 10 dae van die Franse roete gekies omdat dit so mooi was.

Sy het met lekker gemaklike tekkies gestap en sokkies, haar voete soggens met Vaseline gesmeer en sokkies aan. Hulle voete het nooit probleme gegee nie.

Sy het nie spesiaal geoefen nie, net haar normale stap van ongeveer 10 km per dag vooraf. Haar normale stap sluit bulte in. Of dit nou élke dag was, weet ek nie.

Hul het hulle rugsakke aanvanklik self gedra, maar het ook later van die aanryopsie teen €5 per dag gebruik gemaak.

Hul het in Augustus gestap. Sy voel dit was nog te warm en beveel aan dat ‘n mens eerder in September sal gaan.

Sy sê ‘n waar ding, dat as jy so stap, het jy baie tyd om te dink. Jy moet ‘n boekie saamdra om gedagtes neer te skryf. Jy kry soveel keer perspektief oor dinge. Dinge wat jy dalk anders wil doen in die toekoms.

Toortsie

Advertisements

Camino de Santiago video

youtu.be/mvElrX–hN4

To the end of the world.

Dankie, Scrapy, vir die deel hiervan. Ek deel dit hier sodat ek dit weer maklik in die hande kan kry.

Nota aan myself: Dieman het geweldig gesukkel met blase onder sy voete, soveel so dat hy by ‘n dokter beland het en vir drie dae moes rus.

Toe koop hy vir hom trail runners en alles verander.

Camino aantekeninge

Hierdie is die aantekeninge wat ek gemaak het toe Maréth Spamer ons VLV kom toespreek het nadat sy al ‘n tweede roete van die Camino de Santiago in Spanje voltooi het. Ek het een keer sommer uit my kop geskryf, maar nou eers weer die aantekeninge ontdek.

  • Sy sê die ‘magic van die Camino’ het haar getrek en sy wou al lankal gaan om dit te beleef.
  • Rugsak is simbolies van wat het ek regtig nodig. As jy jou sak laat anry, moet jy steeds met min gaan.
  • Dis swaar, lekker, mooi.
  • Om alleen te gaan is minder ingewikkeld. Ingewikkelde verhoudings raak meer ingewikkeld. As jy alleen gaan, is jy meer afhanklik van die plaaslike mense.
  • Daar kom spontane ontmoetings met ander mense wat jy onthou.
  • Dit help baie as jy ‘n bietjie Spaans kan praat. Die oomblik as jy vrot Spaans uitruk, ruk hulle hulle vrot Engels uit.
  • Jy moet jou intuïsie vertrou, jy sal weet waar jy veilig is.
  • Euro’s. Betaal meestal kontant.
  • Goedkoop manier van reis. Hou by die Camino. Bly in Albergues.
  • Slapery is ‘n uitdaging op sy eie.
  • Albergues E9-15 per nag. Gem E12 per nag.
  • Pilgrims menu is ‘n driegang ete vir E12-E14. Hou by Pilgrims Menu en slaap in Albergues E35/nag.
  • Jy koop niks, want alles moet jy saamdra. Haar budget: E45-50 per dag.
  • Pension kos E22, is netjieser as die Albergues.
  • As jy alleen in ‘n kamer wil slaap, is dit duur.
  • Dis veilig, niemand vat iemand se rugsak nie.
  • ATM’s is oral.
  • Jou voete is jou kosbaarste besitting, jy moet goed kyk na jou voete. Leuse: Om te stap sodat hulle môre weer kan stap.
  • Jou lyf moet gebrei wees. Sy glo dat die feit dat sy yoga doen, haar baie help.
  • Die beste tyd om dit te doen, is van einde Maart/begin April tot einde Oktober.
  • Onthou dat daar siësta is vanaf 2 tot 6 nm. Dan is alles toe.
  • Daaglikse roetine: Walk, eat, wash cothes, sleep.
  • Ligter skoene, twee paar katoensokkies. (Sy het 3 paar sokkies by haar.) Elke keer as sy stop, trek sy haar skoene uit sodat haar voete lug kry. Sy ruil elke keer by die ruskans haar sokkies om en trek droë sokkies aan.
  • Sy smeer lavenderolie en teatreeolie aan haar voete.
  • Kyk by eetplekke of jy jou skoene kan uittrek.
  • Sy verkies om allen te gaan. Neem alle medisyne saam: Corenza, Rehidrate, Linctagon, Teatree, iets vir bytplekke.
  • Loop met ‘n langbroek, al is dit warm.
  • Kyk dat jy gesond is as jy by die huis weggaan. Boost jou gesondheid voor jy gaan.
  • Loop liggies, dis nie ‘n wedstryd nie.
  • As jou tyd min is en jy wil wel tot by Finestera stap, kan jy dalk ‘n bus vat vanaf Santiago na Hoeksera (?0 en net die laaste stukkie seelangs tot by Finestera stap.
  • Haar rugsak is 7 kg. Daarin is slaapsak, donsjas, reënjas, kaak om sak aan op te hang, hoed, plakkies, emergency kit, kneeguard, ancle guard.
  • ‘n Mens verdwaal nie op die Camino nie.
  • Wandelstokke noodsaaklik.

Dit bly steeds iets wat my aandag trek en wie weet, dalk kom die geleentheid tog eendag oor my pad. Dit sal nie meer vanjaar wees, soos ek gehoop het nie, maar wie weet wat die toekoms inhou? My lewe hang nie daarvan af nie, ek sit nie my hele hart daarop nie, maar dalk, net dalk, gebeur dit tog.

Groete

Toortsie

‘n Stappie in die park?

Ten opsigte van die Parkrun, oftewel, Parkwalk soos ek dit noem, het Toortsie haar houding verander: Parkwalk is g’n ‘Walk in the park’ nie en as ek in die park wil gaan loop, moet ek ‘n park soek om in te loop, en ek twyfel sterk of hier so iets in die dorp is nie.

In elk geval, ek het so ‘n rukkie terug mos besef dat my fiksheidsvlakke glad nie is hoe hulle behoort te wees nie, dat ek beslis te min oefen en as ek stap, ek ‘n bietjie meer petrol sal moet gee.

Dis alles goed en wel om soms vir ‘n ou stappie te gaan, maar as ek enigsins net wil dink aan die Camino, wat nog te sê beplan, sal hier ‘n drastiese verandering moet plaasvind.

Maréth het nou die dag kom vertel van haar ondervinding as Camino-stapper. Terloops, sy het alreeds vrou-alleen twee van die roetes van begin tot end gestap, elke keer meer as ‘n duisend kilometers. Dit wil gedoen wees en ja, of ek haar dít sal probeer nadoen, is ‘n ander vraag.

Sy noem onder andere dat dit nie net gaan dat jy kilometers op jou bene sit nie, maar dat jou liggaam gebrei moet wees. En daar kom my rugoefeninge ernstig ter sprake.

Sy vertel hoe sleg en seer party van die mense se voete raak, maar dat sy gelukkig nog nooit daardie probleem ontwikkel het nie.

Sy sê haar rugsak weeg ‘n skrale 7 kg, maar ek wil mos maar eerder my sak bedags laat aanry omdat my rug nie sulke gewig toelaat nie, maar dit veroorsaak dan natuurlik meer akkurate beplanning.

Om haar voete te spaar, trek sy elke keer wanneer sy rus, nes Ernst Grundling ook sê, haar skoene uit sodat haar voete lug kry. Sy pak 3 pare katoensokkies in, katoen, sodat dit nie te warm raak nie, en dra bedags 2 paar. Nie 2 paar oormekaar nie, maar 2 pare wat sy afwissel. Elke keer wanneer sy rus, trek sy die sokkies uit, hang dit oor haar rugsak, en trek dan die ander, droë paar aan. Ek sal net weer moet seker maak of sy nie wel twee pare oormekaar dra nie.

Dan sê sy ook dat sy haar voete met Tea Tree olie behandel, maar ek is nie seker presies hoe sy dit doen nie, ek kan maar nog weer uitvind.

So, terug by die parkrun. Geen onnodige gekletsery en ander mense uit die stap hou nie. Ek gesels wel vinnig met ‘n persoon wat toevallig my spoed stap. Wel, nou die dag het ‘n gesellige jong dame lekker langs my ingeval en het ons behoorlik geklets.

Ek begin half 8 by my huis stap om net mooi wegspringtyd daar aan te kom, stap die parkrun so vinnig ek moontlik kan en stap dadelik terug huis toe. Dit gee my ‘n goeie oefening op ‘n Saterdag.

Verder probeer ek nou daagliks my rugoefeninge doen, nie meer net 3 keer per week wat ek nooit reggekry het nie. Dis makliker om iets daagliks te doen as 3x per week! En ek stap stap stap wanneer ek die kans kry.

Ek dink my fiksheid sal binnekort op ‘n volgende vlak wees, maar dan is daar steeds groot kans vir verbetering. Nog baaaie vlakke!

Nou ja, vir Toortsie is Parkrun tans ‘n ernstige besigheid, hoor!

(Foto’s geleen op Facebook)

Toortsie

My gedagtes rondom die Camino

Ek pen sommer net my gedagtes neer. Of ek ooit die Camino gaan stap en wanneer ek dit gaan doen, is nog ‘n ope vraag.

Intussen lees ek daaroor, luister wat mense wat dit al gedoen het, sê, luister na raad, en dink hoe en hoekom ek dit sal doen.

Soos ek reeds geskryf het oor hoekom ek dit wil doen, sal dit vir my ‘n manier van reis wees. Dis nie dat ek een of ander iets wil gaan verwerk nie, en ook nie iets wil bewys nie.

As my lewe aangaan soos dit nou doen, sal daar ‘n tydfaktor wees en kan ek nie onbepaald gaan nie. Ek dink dat ek ‘n maksimum van 20 dae sal kan stap as ons dit mooi inpas. Twintig dae is te min vir enige van die Camino-roetes, so ek kan sommer nou al in my hart die besluit maak en rustig daaroor raak, dat ek nie ‘n volle roete sal stap nie.

Dan is die groot vraag hoe belangrik dit vir my is om die laaste 100 km te stap en ‘n Caminosertifikaat te kry. Sê nou ek beplan om wel die laaste 100 km te stap en my voete gee in, of iets gebeur en ek kry dit nie reg nie, mag ek dalk teleurgesteld terugkom.

Besluit ek egter om die Franse roete te stap en te begin by Saint-Jean-Pied-de-Port met die wete dat ek in elk geval nie die volle roete gaan doen nie, kan ek dit dalk baie rustiger aanpak en kyk wat my liggaam vir my sê, met niks wat my druk nie. Sou ek dan so voel, hoef ek net 15 km op ‘n dag te stap, in plaas van 25 of selfs meer, net om so veel as moontlik kilometers kaf te draf. Sou ons voel om ‘n dag te rus, sal dit dan ook nie saakmaak nie, omdat ons sommer net die ervaring geniet.

Ek dink regtig dit is hoe ek my kop moet instel, om elke oomblik daarvan te geniet, nie gejaagd te voel omdat ek die eindpunt móét haal nie, en sou ons liggame vir ons sê dat dit nou genoeg is omdat ons voete dalk oppak, of wat ook al, dat ons daarna sal luister en dan sommer net die omgewing geniet en vakansie hou.

Dit is hoe dit nou vir my sin maak. Môre lyk dit dalk anders, wie weet? En of ek dit regtig sal doen, sal net die tyd leer, my lewe hang gelukkig nie daarvan af nie.

Mooi loop!

Toortsie