Waarom ek nie die Walvisroete gaan stap het nie

Eers wil ek twee dinge sê: 1) Die Walvisroete lê my baie na aan die hart, dit loop oor grond wat familiegrond was in die ou dae, my oom het daar verdrink en dis sy gedenksteen wat daar opgesit is, dis vir my fantasties om vyf dae vry in die natuur te wees. 2) Ek het my voorgeneem as my kinders vir my vir iets saamnooi, sal ek dit probeer doen, as ek enigsins kan.

So, ‘n rukkie terug was ek saam met my dogter na die Wêreld Kore Olimpiese Spele, en nou het een van my seuns my genooi om die Walvisroete saam te stap.

Gesondheidsgewys het ‘n hele paar goed my die afgelope twee maande getref, niks vreeslik erg nie, maar die een ná die ander. Omtrent tien dae gelede was daar weer ‘n ongemaklikheidjie en ek is apteek toe vir medikasie, dit was oor ‘n naweek. In my agterkop het ek geweet ek het seker antibiotika nodig, maar die apteekdametjie het my verseker die pille sal die ding doen. Nou pendel ons mos ook en die dae wat ek wel by ‘n dokter kan uitkom, voel ek óf beter, of ek is te laat om nog ‘n afspraak te kry.

Toe kom verlede week se aaklige loneweek en word ek só gedreineer, ek wou omval toe ek uiteindelik klaar is. Net soos dit moet wees, begin ek daardie aand kouekoors kry (dinge kan mos mooi saamspeel as dit moet!). Dis iets verskrikliks. Ek kry só koud, daar is net nie ‘n manier om dit om te keer nie, my kakebeen klap, my lyf ruk soos ek bewe. Dis later so erg dat ek amper nie kan loop nie. Dan drink ek pynpille, want my rug kan die geruk en pluk nie hanteer nie, smeer Deep Heat, is naar, lê styf teen my man vir hitte, trek my dik aan, gooi komberse oor, sokkies aan die voete, en uiteindelik raak dit dan nou stil. Dan begin die warm kry en die kledingstukke waai die een na die ander. (En nee, dit is nie warmgloede nie.)

So gaan ons die naweek deur. Maar ek raak slimmer, of so dink ek, en as ek die eerste krieweling van die koue voel, storm ek en doen al bogenoemde, so die verskriklike bewe kom nie meer nie.

Gister was ek toe gou dokter toe, hy het my bondel medikasie in die hand geprop, en bed toe gestuur.

So, vandag is ek nou nie ‘n hoppende klipbok wat Potberg uitwip nie. Dit sou maar net ‘n verskriklike groot risiko wees. Maar moenie worrie nie, ek is op die herstelpad, in my bed met my laptop op die skoot en ek HOU JULLE DOP!

Groetnis

Toortsie

Advertisements

44 thoughts on “Waarom ek nie die Walvisroete gaan stap het nie

    1. Dankie. Ja, dit was beslis die regte besluit. Ek het gou my vriendin gaan aflaai daar gistermiddag en selfs die ry soontoe en terug was uitputtend. Ek het later die plase afgetel tot by die huis. Dadelik in die bed geklim. Vannag nie kouekoors gehad nie, maar erg koors. Dit sou nie ‘n goeie besluit wees om 5 dae in die son en oop veld te wees sonder enige sein nie, Dit kon die hele groep se ervaring baie sleg gemaak het.

      Liked by 1 person

    1. Dankie Una. Ek dink darem nie ek is met kettings vasgebind aan die bed nie. Hier is ‘n paar huiswerkies wat ek seker sal doen, maar ek sal beslis luister na my liggaam en lê soveel as moontlik. Die koue het ten minste nie laasnag weer gekom nie, maar baie warmte! Ek dink die dokter het maar net gevoel dis nie wys om nou die berge in te vaar vir ‘n paar dae wat jy liggaamskrag en stamina nodig het nie, mens het eerder die krag nodig vir herstel. 🙂 En ek is vasberade om te herstel. Ag, dalk brei ek sommer ‘n trui ook klaar!

      Like

        1. Jy praat van stilsit in die bed. Nou sit ek hier op die bed waarvan ek die lakens afgetrek het, en sien hou swart die koperhandvatsels op my kaste al aangeslaan het, dis seker jare laas skoongemaak. Jy weet? Ek wonder of ek nog Brasso het? Ek sal moet loop kyk! Daar ís dan nou tyd! 🙂

          Liked by 1 person

  1. Toortsie, ek het nou-net daar by Frannie se blog gelees dat “tiramisu” beteken “tel my op” – sy het dit oor Italjaanse kos gehad en die skrywer het sommer hierdie vertalinkie bygevoeg. Nou dink ek jy het dalk ‘n tel-my-opper nodig om jou sommer gou te laat beter word. Vergeet van die bed se koperknoppe – hang jou kerbersie om en slof aan kebuis toe. Beterskap!

    Like

    1. Ek is juis so eterig! ‘n Tel my oppertjie! Is dit wat die klomp by Toweropstal ook nodig gehad het? Ek wil nog daai stuk van Tannie Frannie gaan lees. Helaas het ek toe min uitgerig vandag, ek het mos rede gehad om omtrent niks te doen nie!

      Liked by 1 person

        1. Nee. Netnou begin ek hier rondvlieg. My man is nie by die huis nie en as hier fout kom sal ek al dood wees as iemand my ontdek. Ek is ‘n soet en gehoorsame meisie. My lyf vra in elk geval nie vir ander vloeistof as water nie.

          Liked by 1 person

    1. Ek luister en luister baie mooi. Ek het gisteraand vir my dogter gesê ek dink ek was die naweek al baie sieker as wat ek besef. Daardie kouekoors het elke keer bitter lank aangehou, maar ek was net heeltemal te dom om te besef dis gevaarlik. Ek dog dis spanning wat dit veroorsaak het!

      Like

  2. Aan die een kant goed en aan die ander kant jammer. Wanneer ek ‘n strawwe dagroete gestap het is ek (of iemand anders in die stapgeselskap – en ja ons stap en gesels) nogal geneig om kouekoors te kry. Darem nie in die graad wat jy dit kry nie.

    Liked by 1 person

    1. Dink jy ek het dit sommer vooraf al uit vrees gekry? 😎 Ek het net gisteraand weer besef hoe dankbaar ek is ek het by die huis gebly. Ek sou sieker word en dit sou op ‘n gemors uitgeloop het wat die hele groep beïnvloed het.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s