Om ‘n boek uit te gee, is ‘n groot storie

Ek dink nie ek het dit besef nie! Om ‘n boek uit te gee, is ‘n groot storie! Ek dink ek besef dit nou eers 18 maande nadat ek my eerste boek uitgegee het.

Sien, my kop werk mos maar nie aldag soos die algemene koppe werk nie.

Eerstens was dit mos nooit vir my ‘n iets van belangrikheid dat my NAAM op ‘n BOEK se VOORBLAD moes verskyn nie. Vir my was dit eerste uitdaging daarin of ek dit sal regkry om ‘n e-boek aanmekaar te sit, ongeag of IEMAND dit koop of nie. Ek wou sien of ek dit sal regkry om al die materiaal bymekaar te kry, dit op die rekenaar te kry, die buiteblad, en, en, en alles wat daarmee saamgaan. Die editing. Sou ek dit regkry om dit op die internet gelaai te kry op die regte plek in die regte formaat?

Helaas, ek het dit nou nog nie reggekry nie!

Want sien, ek vermoed die lêer is te groot. Die program waarop die boekuitlêer Toortsie se Bantingboerekos gedoen het, hét die funksie om ‘n dokument om te skakel in e-boek formaat, maar nee, net solank dit nie Toortsie se Bantingboerekos is nie.

Deel van die uitdaging was die foto’s en die drukkers.

Toe, 16 Desember 2015, staan ek sowaar met ‘n regte Toortsie in my hand.

En nou?

Ek was mos SLIM, ek wou mos nie ‘n PUBLISEERDER gebruik nie, omdat ek BANG was hulle keur dit af of hulle sê iets leliks en my ego’tjie was tog so verskriklik BROOS.

En net daar lê Uitdaging nommer 2: Hierdie boeke moet VERKOOP word. Soos in REGTIG VERKOOP WORD, want ek het baaaaaie geld uitgehaal om hierdie boekie daar te kry, regte geld.

Kyk, die opbou van opwinding voor die tyd was maklik, dalk nog die week of twee daarná ook, maar hoe nou gemaak? As iemand ‘n Toortsie gekoop het, het hy hom mos gekoop. Dis nie soos pille wat opraak en volgende maand het hy wéér ‘n Toortsie nodig nie!

So het ek maar aangepiekel en gespeel, tot my nefie eendag baie trots vir sy meisie sê: ‘Weet jy, my tannie doen alles self: Die publiseer van die boek, en nou ook die bemarking daarvan.’ Raai, en toe dink ek by myselwers, dis sowaar waar en ek dink nie ek het ‘n vrot job gedoen nie! (Skaam voel ek nou, maar ook eintlik baie trots. Die Here is vir my baie goed!) Ons is 1700 Toortsies verder en sy loop steeds mooi, in Afrikaans én in Engels! Sjoe! Man, dis lekker!

Nou, met boek twee, besef ek, mense, dis jollie baie werk, hoor! In plaas van bedside reading doen ek bedside writing. Dis fotograwe en stiliste en bladuitlêers en barcodes (o shucks, ek moet vandag ‘n barcode kry!), en drukkers.

Ag, ek speel lekker!

Groetnis

Toortsie

(Verskoon, vandag is hier en daar ‘n Engelse woord ook by. Sorrie! Sallieweerie!)

To all of you I want to say: Do not bury your talents; take that first step and follow your dreams! Yes, you can!

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

18 thoughts on “Om ‘n boek uit te gee, is ‘n groot storie

  1. Wat ‘n heerlike stuk lees, sjoe, jy is al ver op jou droompad, myne is nog net ‘n droomeier, ek dra hom nog in my hart! Dankie vir deel, jy moedig mens aan om te glo dit kan dalk tot uitbroeiery lei!

    Like

    1. Maar dit was mos nie eintlik my droom nie, hy het net in my pad kom lê.
      Vir jou wil ek aanmoedig: Doen dit net. Hoe ssl jy weet of dit werk as jy nie probeer het nie. 😁 Die bemarkery is maar net ‘n storie!

      Liked by 1 person

  2. Dankie vir die deel van jou boek. Ek het net ‘n begin begin maak met een wat ek wil uitgee oor gedigte, maar ai, die tyd! Ek het net nie die tyd nie en het so te se opgegee. 🙂

    Like

      1. Ek wou sommer net my eie gedigte (Afrikaans en Engels) in ‘n boek bymekaar saamslaan – nie om te verkoop nie, maar slegs een boek om als in ‘n boek te he. Ek het begin op Lulu.com, maar nooit sover gekom om weer iets daaraan te doen nie. Net geregistreer. lol – die tyd ontbreek my en ek wil dit nie aframmel nie.

        Like

        1. Moenie moed verloor nie. Jou tyd is mos joune. Doen dit op jou tyd en jou manier soos wat dit vir jou werk. Al doen jy een gedig op ‘n slag wanneer jy die tyd het. Sterkte

          Like

Gesels saam, asseblief!