Daar was weer ‘n plaasaanval

Ek hoor Vrydag op die nuus dat daar weer ‘n plaasaanval was. Die boer en sy vrou is vermoor. Iewers in die Vrystaat, dink ek. Dis so maklik om dit net te hoor en dadelik weer te vergeet. Vir my wat op ‘n plaas woon, is dit soms beter om nie so van al die plaasaanvalle te hoor nie. Boere is kroonwild. Blykbaar het die hoof van die polisie of iemand nou belowe dat plaasaanvalle ‘n prioriteitsmisdaad sal word, of so sê hulle. Hulle sê baie dinge.

In dorpe en stede gebeur daar ook misdaad. Dis ook nie net wit mense wat vermoor word nie, of ryk mense nie.  Alle rasse, alle vlakke van die samelewing. Ryk arm, slim, dom, goeie mense, slegte mense.

In Desember 2011 was hier ‘n skynaanval op ‘n plaas in ons distrik. Dit was angswekkend. Ons het nie geweet dis ‘n skynaanval nie. Ons het nie geweet wát om te maak nie. Moet ons gaan help? Sál dit help? Hulle is sekerlik gewapen? Ek het toe daaroor geskryf, van hoe ek dit beleef het en ek wil graag hê julle moet dit lees. Sommer net ‘n bietjie saam beleef.

Broer Andrew is ‘n Hollander wat Geopende Deure begin het. Ek het een aand wat hy in die Kaap was, vir hom gaan luister, nogals sy hand ook geskud en die simpelste ding gesê. Hy het daardie aand gepraat van Islam, maar veral van die selfmoordbomme wat so gereeld in hulle aanvalle gebruik gemaak word. Hy sê toe: “Elke keer wat jy in die nuus hoor van ‘n selfmoordbomaanval, bid vir daardie mense. Bid dat hulle sal besef waarmee hulle besig is, dat hulle op die verkeerde pad is. Bid dat dit sal ophou.” Ek het hom ernstig opgeneem. Ek doen dit. Ek bid vir daardie mense, dat dit sal ophou, dat hulle Jesus sal ontmoet. Dit mag dalk vir my voel of dit nie help nie, die selfmoordbomaanvalle gebeur net meer en meer, maar hoe sal ek weet? Dalk dra my gebed tóg by tot die bekering van ‘n persoon wat óók ‘n selfmoordbomdraer sou wees. Hoe sal ek ooit weet?

Ek glo in die krag van gebed, meer as in enige iets anders. Al waaraan/waarin ek méér glo, is die God wie ek aanbid. So ek vra jou nou: As jy weer in die nuus, waar ook al, hoor van ‘n aanval, ‘n plaasaanval, ‘n dorpsaanval, misdaad, wil jy nie bid nie? Wil jy nie vra dat dit sal ophou nie? Dat God oplossings vir ons land sal bring nie? Soms mag dit vir ons voel die oormag is te groot, maar ons God is nog báie groter as die grootste oormag. Hy kan dinge verander. Sal jy? Sal jy asb bid saam met my? Saam met baie ander?

Groetnis

Toortsie

10 thoughts on “Daar was weer ‘n plaasaanval

  1. Hierdie laaste aanval in Rouxville, was minder as 10 km van die plaas waar my ouers en broer later, gewoon het. Ek dink die hoeveelheid mense, wat ek persoonlik geken het, wat vermoor is, is nou bykans 50. Daar is mense wat vra, wanneer gaan dit ophou. Slegte nuus, dit gaan nooit ophou nie. Dan is daar mense, wat hier lees, wat sê dat daar baie moorde in swart woonbuurtes ook is, en dit afmaak as gewone misdaad. Hulle is oningelig. Jammer dat ek so gal afgaan, maar dit is ongelukkig so. Ek het Bennie en Cecilia persoonlik geken, so ook vir Carima en en en……….. Wie is volgende?

    Like

  2. Weet jy Toortsie, in die afgelope 4 of 5 dae was daar drie plaasaanvalle / -moorde net buite ons dorp. En dan ook ‘n kaping. Dan praat ek nie eers van die misdaad in die dorp nie. Dis angswekkend. Dit maak my histeries want dit voel asof dit al hoe nader aan my kom.

    Maar ja, soos jy sê, gebed is magtig en ons dien ‘n Almagtige God. Ek kan net nie langer in die land bly nie. Ek wil nie. Ek en my man het dit nooit voorheen oorweeg nie, maar ons maak nou werk om te emigreer. En dis so hartseer.

    Like

Gesels saam, asseblief!