‘n Lekker nes

Scrapydo se toeka-tokkel:  Eerste Lekker ding

Alhoewel ek van huishouding, en babas niks geweet het nie, was my en Andrè se eerste woonstel vir my ‘n groot lekkerte.  Uiteindelik was ek onder ouer oë uit, en kon ek maak soos ek lus het, en daarmee saam lewenslesse leer.  Die kombuis, sitkamer, slaapkamer, en badkamer met sy groen teëls en pienk bad, was my domein.  Die groen gordyne voor die sitkamervenster het wel van my ma af gekom, maar die paar skamele meubelstukke het aan my en Andrè behoort, en ek was heel trots daarop.  Tot die bedkassie – Andrè se “toolbox,” waarom ek oor die naweke ‘n val van blommateriaal gehaak het – was vir my mooi.  Die skildery van geboue wat in water weerkaats, het my ‘n harde les geleer; jy vat nie die maand se elektrisiteitsgeld, en koop daarmee ‘n skildery nie.

Tenspyte daarvan dat ek my suur gesukkel het in die kombuis, was dit lekker om in my eie kombuis te bak en brou.  My ousus het by my ma gaan kla ek kook ‘n skaapboud in ‘n kastrol vol water, en Andrè het gesê wanneer hy uit sy motor klim en hy ruik gebrande kos, het hy geweet dit was sy lot vir die aand.  Tyd sou my wel leer, so het my ma diè wat onder my kookkuns deurgeloop het, getroos.

Nog ‘n lekkerte was dat ons vriende kon kry, en kuier so laat soos ons wil.  In die winter het ek en my vriendin Deslyn, in die kombuis gekuier.  Met ons voete amper in die warm oond, het ons gesit en gesels tot 3- 4 uur in die oggend.  Dit kon ek mos onmoontlik in my ouerhuis doen.  Ek het tot ‘n tubberware partytjie aangedurf, en die melktertpap verbrand.  In daardie jare kon jy nie vinnig Pick en Pay toe ry om een te gaan koop nie, dus is die melktert net so voorgesit.

Om jou eie nes te hê het sy nadele ook; die plek moet skoongemaak word, en wasgoed moet gewas en stryk word.  Dit het my ‘n tydjie geneem om uit te vind dat feëtjies nie jou skottelgoed was, en jou meubels afstof nie.  Wie sou kon dink toe ek so halfhartig die stoflap opneem, dat ek later jare my huis sou “spit and polish,” dat geen kokkerot daar welkom sou voel nie.  Ek weet rêgtig nie hoe ons klere gestryk gekom het nie; dit was eers later jare saam met Ken, dat ek leer stryk het.

Daardie stukkie spasie op die tweede vloer in Blackheath, sal altyd ‘n sagte plekkie in my hart hê. Dit was my eerste deurmekaar nes.  Ek wonder of dit nog na gebrande kos ruik?

 

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag...., Uncategorized. Bookmark the permalink.

18 Responses to ‘n Lekker nes

  1. ekmyselff sê:

    Heng ek het nou lekker gelees….
    Voete in die oond – LOL
    Al was dit jou eie plek klink dit my was jy redelik sorgloos en was dit vir jou lekker!

    Like

  2. O dit was nou lekker om te verneem dat ek nie die eerste onbeholpene was met huiswerk nie. Gelukkig kon my man kook. Lekker gelees, dankie.

    Like

  3. Toortsie sê:

    Oeee die kosmakery was maar by my ook ‘n riller! Die een dag proe jy nie die kerrie nie, die volgende dag spring ons vir die water! Flops moes maar geëet word.

    Like

  4. My eerste kospogings en baksels het ‘n spesiale gat agter in die tuin gehad!Lekker gelees hier by jou.

    Like

  5. Nou het ek heerlik saam met jou in jou ou woonplekkie gekuier. Dis jou eie huis en dis wat belangrik was. My man was ook n kombuis-man. Hy het tot daarvan gehounom skottelgoed te was na die tyd ook!

    Like

  6. Terug pieng: Toeka-Tokkel no 5: Eerste troeteldier/stokperdjie – I scrap 2

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s