‘n Dag in die hospitaal

20151021_104755Scrapydo se toeka-tokkel – Bestuur.  Ek hardloop agter met my take, en hierdie dag in die hospitaal moet maar deurgaan as Bestuur.

Gods and Kings is nou nie die beste boek om hospitaal toe te neem om te lees terwyl jy wag vir jou beurt om teater toe te gaan nie.  Koning Ahaz laat sy seun as offerhande in die gulsige bek van die god Molech gooi, en dan volg die ander sy voorbeeld en offer hulle seuns so op, met die hoop dat Molech hulle oorwinning in die oorlag sal gee.  Dit laat ‘n klaar kleurlose dag nog morbieder voorkom; maar ek lees maar voort terwyl ek tussendeur vrae, en nogmaals vrae antwoord, en my handtekening ewe gedweë op vorm na vorm maak tydens my opname in die hospitaal.

Ek lê sommer so klere en al op die bed.  My teaterklere kom later.  Ek het gedog al die vrae en handtekeninge was daardie oggend by ontvangs gedoen – waar ‘n baie vriendelike kleurlingman my gehelp het.  Toe ek so links en regs handtekeninge uitdeel asof ek een of ander beroemde is, wou ek weet wat teken ek hier.  “Jy het sopas julle kar aan my afgeteken,” het hy gelag, en met sy gladde mond my vertel dat met ‘n gesig soos diè op my ID boekie – toe was ek nog jonk – hy vir ‘n telefoonnommer sou gevra het.  Ek het werklik die mens geniet, en die bang het so ‘n bietjie gewyk.

Sovêr was al die personeel in saal 11 vriendelik.  Maar dit woel soos ‘n bynes.  Hierdie een neem my bloeddruk, daardie een kom plak my vol plakkertjies vir ‘n EKG.  Ek verstaan dit nie; ek was net die vorige dag by die hartspesialis waar ‘n volle EKG op my gedoen is.  Nog een kom wys my hoe werk die klokkie, iemand kom haastig in met ‘n bakkie, gaan op haar knieë voor my en sê ek kan geeërd voel.  Sy trek ‘n band om my arm styf; eers dink ek dit is vir die drip, maar nee sy trek ses buisies bloed.  Dit verstaan ek ook nie.  Ek was by ‘n internis waar al wat ‘n bloedtoets gedoen is; hy het my hartspesialis toe verwys.  Miskien het ek onwetend op een van die vorms belowe om bloed te skenk.  Maar nee, die hartspesialis se assistant kom in, die dokter wil sy eie bloedtoetse laat doen.  Nog een kom in en kom prik my vinger om my suiker te toets.  Intussen kom die vrae nog een stryk deur van die enigste wit verpleegster in die saal.  “Hoe lank is jy,” wil sy weet.  Amper vra ek haar of hulle noual die afmetings vir my kis wil hê, maar byt my tong vas, en sê ek kan haar in outydse voete antwoord.  “Nee,” dit gaan nie help nie, ek moet saam met haar stap om my lengte te gaan neem.  “Maria,” lag hulle, en roep ‘n lang slanke verpleegster nader;  “She is taller than you.”  “Good,” sê die swart Maria, en val langs my in, “now we are two beauties, and we walk with our heads held high, en with our bodies so,” en met die stap sy soos ‘n model saam met my die gang af.  Ek probeer ook my lyf model hou, maar weet dit het nie die grasie van my jonger naamgenoot nie.

My teaterklere kom, met sy oop rug, en blou papierbroekie.  Ek klim tussen die lakens in, en lees my morbiede boek verder.  ‘n Man aan die oorkant kom gee vir my ‘n splinternuwe paar oorfone wat hy vir sy vrou gekoop het indien sy tv wil kyk, maar nou gaan sy huistoe. Ek wik en weeg tussen tv kyk, en lees maar nie vir lank nie.  ‘n Swart man kom haal my vir teater.  “I want to go to the toilet first,” sê ek, en klim so stemming as wat die oop jakkie my toelaat, van die hoë bed af.  Terug in die bed en diè word my vervoermiddel teater toe. Ons beweeg met lang gange af, en beland in ‘n hysbak.  “You look anxious,” sê Winnie, die swart verpleegster met die mooi gesig.  Om my gedagtes van myself af te neem begin ek die swart man hier voor my bestudeer.  Ek kyk met ‘n oog van die fotograaf wat ek eers was, toe ek vir ‘n modelagentskap portfolios geneem het.  Hierdie man het iets fassinerends aan hom; sy houding, die manier waarop hy groet, die manier waarop hy vir ander glimlag, en ek weet sommer dat hy die swart meisies se harte week maak.  “Don’t you think Winnie is beautiful?” vra ek hom.  Hy lag, ja sy is.  Winnie swaai haar hande in die lug;  “It doesn’t help, see, no rings.”  “What is wrong with you guys,” vra ek hom.  Hy lag net en sê iets in sy taal vir haar.  Ons nader die teater, en Winnie moet omdraai.  Voordat hy my in die verlate gang los, sê hy dat hy rêgtig dink Winnie is pragtig, maar hy het ‘n “girlfriend,” en is baie gelukkig.  “My father’s advice to me as I was growing up is that you don’t gather problems in your lap.  One problem at a time is all that you need to handle.  “I have a girlfriend and am very happy, sê hy weer,” en met die woorde verdwyn hy uit my gesigsveld

My oë rek toe ek die hartspesialis sien…. en toe begin ek amper hardop giggel.  Hy is ‘n klein skraal mannetjie, en is van onder tot bo in blou geklee, met nog ‘n groter blou teaterjas om hom gebind.  Met ‘n yslike helmetagtige ding op sy kop, lyk hy kompleet soos iemand van ‘n ander planeet af.  Met sy hande voor sy bors gevou loop hy diep ingedagte ‘n paar keer op en af in die gang by my verby.  Nou laat hy my aan ‘n priester dink, en ek sou wat wou gee om te weet wat in sy gedagtes aangaan.

‘n Groot swart man met ‘n breë glimlag – wat ek later sou uitvind is ‘n “male nurse,” kom bind nog ‘n etiket om my arm.  Hy vertel die narkotisieër sal netnou by my wees, en vir my ‘n gin en tonic gee wat my vinnig sal laat ontspan.  “If you don’t think that will be enough, ask him to give it to you on the rocks.  Weer die breë glimlag, en dan verdwyn hy.

Dit is weer tyd om toilet toe te gaan, en ek roep ‘n kleurling verpleegster nader.  Sy wil ‘n kombers gaan haal om om my te hang maar ek verseker haar ek is ok.  “Mevrou moet net passop vir mevrou se tone,” sê sy.  Eers toe ons die lang gang vat besef ek hoekom sy ‘n kombers om my wou hang.  Die toilet is nie net om die draai nie, maar om draaie, en deur deure, en ek, al klouend om my naakte agterkant te probeer bedek trippel agterna.  Sy bring my in ‘n groot vertrek vol tafels, en stoele waar die staf sit, en maan my weer oor my tone.  “Moet nou nie mevrou se tone hier teen ‘n tafels en stoele stamp nie.  Versigtig trap ek verby die geselsende klomp, en kyk nie links of regs nie.

Skaars terug in my bed of die narkotiseër meld homself aan.  Eers dog ek hy vloek my, maar dit is net sy Griekse dubbeldoor van.  Hy vra my in Engels of narkose enige negatiewe gevolge op my het.  En net daar haak my Engelse brein vas; ek antwoord hom soos net ‘n opregte Afrikaner kan, wanneer hy probeer Engels praat.  Die arme man begin dadelik Afrikaans praat.  Hy is blykbaar met ‘n Afrikaanse vrou getroud, en nie sy vrou of dogter kan Grieks praat nie.  Hy is in Suid Afrika gebore, en die boere het hom geleer hoe om ‘n narkotiseër te wees.  Hy dink darem hy het sy skuld terugbetaal deurdat hy vir dertien jaar ‘n lektor was, en so weer die boere geleer het om narkotiseërs te wees.  Tussen al die gesels deur is my drip ingesit, en vertel hy dat hy my nou ‘n koppie soet tee gaan gee wat ek nie sal proe nie, maar gaan voel.  “Ek dog dit gaan gin en tonic wees,” prewel ek.

Ek word die teater binnegestoot.  Nou kom daardie oorklimslag waarvoor ek so versigtig is.   Wat as ek kaplaks tussen teatertafel, en bed op die vloer beland?  Die groot swart verplieër kom hier handig te pas, maar as ek nog enige skaamte gehad het is dit nou verby. Hy knoop die bandjies wat my jakkie nog in plek gehou het los, en half naak word ek oorgeskuif teaterbed toe.  “Lig daardie boude mamma,” sê hy, en trek die laaste stukkie jakkie onder my uit.  My een helfte bly half bedek, maar ook nie vir lank nie, toe buk iemand aan daardie kant, lig dit op, en plak plakkertjies waar my hart behoort te wees. Wat hulle nie verstaan nie is, hy sit lankal in my keel.

“Verbeel jou jy lê op die strand,” sê die narkotiseër hier agter my kop, vat my hande en buig hulle agter my kop in.  Ek moet ‘n groot verbeelding hê om myself diè rustige toneeltjie in te dink, met die helder ligte op my, en al die gewoel en werfskaf wat daar aangaan.  My hande word onder my kop uitgehaal, om die een arm kom die band vir die bloeddrukmasjien, en aan die ander hand se pinkie die pennetjie, en dan word my hande weer onder my kop ingedruk, en ek word vertel om te ontspan.  ‘n Swart vrou waarsku my oor die koue wat gaan kom, en smeer met vinnige hale iets kouds oor my lies, en herhaal dit vinnig weer.  ‘n Blou “lap” word oor my gegooi, en dan tree die hartspesialis nader. “Hier gaan ons,” sê die narkotiseër, en die volgende oomblik trek ‘n behaaglike warm gevoel deur my liggaam.  Ek kan die see ruik, ek lê op die strand…. maar dan druk die spesialis op ‘n plek in my lies, en dit kielie so dat ek amper hardop uitbars van die lag.  Ek hou myself in, en weer en weer doen hy dit.  Ek sien die spuitnaald in sy hand; hy gee dit ‘n druk, en vloeistof spuit deur die lug…. alles in my trek styf toe hy die spuitnaald na my liggaam toe bring.  Gelukkig is dit gou verby, en kort voor lank flits daar prentjies op die skerm.  “Moenie skrik nie, jou bolyf gaan warm word,” sê ‘n stem.  Net so is dit ook.  Ek probeer op die skerm kyk waarna die spesialis so stip staar, maar maak nie veel uit nie. “Gmmf,” sê hy so elke nou en dan.  Ek wonder of dit ‘n goeie of slegte teken is.  “Moenie skrik nie, jou onderlyf gaan warm word,” sê die stem weer, en so is dit ook.  Weer “Gmmf,” die spesialis, en nie lank nie of hy sê oor die plastiese afskortng wat ons skei.  Jy sal nie doodgaan van jou hart nie; jou are lyk soos die van ‘n jongmeisie.  Met diè woorde verdwyn hy so vinnig soos wat hy gekom het.

Twee en ‘n half ure later mag ek eers my been buig.  Dit is halfagt in die aand maar ek mag huistoe gaan.  Twee jong witmanne kom die saal binne; hulle gesigte straal; agtuur hou hulle ‘n “worship service,” en ons word uitgenooi.  Ek is spyt dat ek nie kan gaan nie, maar dit was ‘n lang dag, en die bed roep.  Die swartman wat my met die rystoel kom haal glimlag van oor tot oor.  Hy blyk ‘n uithaler bestuurder te wees.  Woerts, warts ry hy met my deur die gange, en om draaie, dit is duidelik dat hy homself geniet.  “Have you got a licence for this vehicle,” vra ek.  Hy lag, “No licence, but plenty of experience.”  Hy stoot my tot by die deur van ons voertuig.  Dit is wat ek diens met ‘n glimlag noem.  Dit was voorwaar ‘n merkwaardige dag, en ek voel ryker vir die ondervinding met soveel pragtige mense.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

18 Responses to ‘n Dag in die hospitaal

  1. Tessa Smit sê:

    En ons is baie bly jou hart se are is so gesond soos dié van ‘n jong meisie sin, Hallelujah!

    Like

  2. Saam met jou naels gekou.Ek is bly jou hart is gesond.

    Like

  3. Toortsie sê:

    Jy is wraggies ‘n fyn waarnemer. Bly jou are is mooi.

    Like

  4. Wat ‘n interessante reis. Dankie vir die deel. Ek is bly jy is ok!

    Like

  5. Wat n storie. Dit was nou lekker om saam met jou te lê en wag vir al die gedoentes wat hul met jou aangevang het. Dis so lekker as die mense in die hospital so blymoedig is. Dit versag die bekommernis en spanning. Baie bly jou hart klop nog goed. Jy kan beslis dan maar n romantiese aandjie hê – Jou hart sal beslis reg klop daarvoor.

    Like

  6. Terug pieng: Toeka- Tokkel no 44 : Biblioteek | I scrap 2

  7. Oulik geskryf Kameel. Jy kan maar. Sterkte ook met die hart stories.
    Ons is almal bly jy is ok!

    Like

  8. seegogga sê:

    Mooi vertel!’Ek’s bly jy’s ok!

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s