Wat het van die idioom in ons taal geword?

Dis ‘n vraag wat ek deesdae baie vra. Mense sê goed met geen kwade bedoelings nie, ander gryp een woord en raak heeltemal op hol daarmee, ruk dit totaal uit verband uit en rig baie skade aan.

Ja, mense verstaan mekaar soms heeltemal verkeerd, maar so baie keer voel ek dat die probleem toegeskryf kan word aan die gebrek aan goeie taal. Dadelik wil ek bysê: Ek is NIE ‘n taalkundige nie. Ek het nie tale aan ‘n universiteit studeer nie, ek dink nie die Afrikaans met ‘n groot A wat ek in HOD gedoen het, maak my ‘n taalkundige nie. Ek is egter lief vir my taal, ook probeer ek om ‘n probleemoplosser te wees, eerder as ‘n probleemskepper. Ek hou daarvan om te probeer agterkom wat die kern van ‘n probleem is en dan dáár dit reg te stel, in plaas van net ‘n salfie aan te smeer en dan is als mos reg.

Wat gaan aan? Wat is die rede dat mense ‘n kleinigheid wat nie eers veronderstel is om daar te wees nie, opblaas tot iets groots? Hoekom heg mense ander waarde aan woorde as wat die bedoeling was? Is dit omdat hul in hulself gefrustreerd voel en sommer net rede soek om te baklei? Voel hul ekstra sensitief, is die vrees dat iemand dalk ‘n swakplek in hul mondering mag raaksien, dat hul die  geringste dingetjie wat dalk ‘n negatief mág beteken, al is dit nie eens so bedoel nie, moet aanveg? Het ‘n veg-of-vlug situasie só in ‘n vegsituasie ontaard, asof dit die enigste manier van doen is? Het padwoede en woordwoede ons hele lewe oorgeneem? Of is dit dalk foutsoekers wat net daarop uit is om moeilikheid te maak?

Of verstaan ons net nie meer ons mooi taal nie? Het ons dalk ons taal verskraal omdat ons nie meer idioom verstaan nie, en mense wat dit dan wel gebruik, verkeerd verstaan en verkeerd aanhaal? Soveel so dat mens bang word om dit te gebruik, verplig word om eenvoudiger taal te gebruik uit vrees dat iemand jou dalk verkeerd kan aanhaal? Is dit dalk dat almal deesdae aan sosiale media deelneem, ongeag die taalkwaliteit?

Ek vra maar net, dis dinge wat my pla.

Groete,
Toortsie, een met self baie foute

Toortsie se faceboekblad.

15 thoughts on “Wat het van die idioom in ons taal geword?

  1. Presiesheid,dissipline,respek,selfdissipline is alles dinge wat ingeboet word vanweë te veel klem op regte.Ongelukkig ly taal ook daaronder.Elke Jan Rap en sy maat lê ‘n vrot eier oor alles en soms hang ek my kop in skaamte vir die swak taalgebruik en spelling.Dan wonder ek of hulle ooit skool gegaan het?

    Liked by 2 people

    1. Ek dink dis ‘n ding van die nuwe generasie, die respek, selfdissipline en omgee om werk te lewer van ‘n hoë standaard is nie wat dit was nie, en daarmee saam die aandrang op regte, ja. En dan verloor mense hulle sin vir humor en neem te maklik aanstoot. Ek het juis die ander dag gedink dat ek moet oppas dat ek nie die Afrikaanse idiome vergeet nie want in ‘n wêreld waar ek meestal Engels praat en net by die huis Afrikaans bly die idiome soms agterwëe.

      Liked by 1 person

  2. Interessant! Ek gebruik nogal idiome as ek met my kinders praat(ons praat altyd Afr as ons saam is) Male sonder tal het hul nie n idee wat dit beteken nie. Gelukkig vra my seun gereeld wat dit beteken. Ek dink nie hul het gedurende hul skooltyd baie daarmee te doen gekry nie. (1999 matriek geskryf) Ek het selfs die behoefte om vir my engelse vriendinne so n sêding toe tevoeg! Hul lig wenkbroue en wil meestal weet wat dit beteken. Hul kan natuurlik nie glo dat ek tweetalig is nie!

    Liked by 1 person

  3. Dit is jammer dat daar soveel kinders is wat geen taal goed kan praat nie; hetsy afrikaans, engels of xhosa. Ek hoor so baie die deurmekaar gepratery van tale – so hartseer.

    Like

  4. Gelukkig is ek oud en maak dit nie saak as ek iets reguit vra nie. Baie keer vra ek vir die jongmense: “Praat jy nou Afrengels of Englikaans?” Soms sal hulle se dat hulle jammer is oor hulle Afrikaans nie so goed is nie, maar dan het hulle in Afrikaans skool gegaan en gestudeer. Ek sal eerder Engels praat as hierdie geroesemoes wat baie jong mense deesdae Afrikaans noem.

    Like

Gesels saam, asseblief!