As ek die President was

As jy gekies is tot President van ons land, wat sou jy doen? Dís die vraag wat iemand op Facebook vra. Mag dit my tog nooit oorkom nie! Asseblief tog nie!

Kyk, ons kan laf raak as ons antwoord, of sinies, ernstig, huil, maar sê nou dit was jy, wat sou jy REGTIG gedoen het?

Ons almal weet ons land is in ‘n chaotiese toestand, dis regtig nie nodig om dit hier uit te spel nie. Oor die politiek wil ek nie eers praat nie. Ek lê sommer vanoggend en dink aan die droogte in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Karoo, waar nog orals. 21 April, reken hulle, is Day Zero. Nou klink dit my dis vervroeg na 12 April. Wat dan?

Mense tref voorsorg, hul begin water oppot. Hopelik water uit die Transvaal, want anders word die dag nog meer vervroeg. Maar dan gaan die Transvaal se water óók opraak. En kom haal hul by die Overbergse dorpe, wat se water óók min is, gaan dit óók opraak! Mense, dis ‘n KRISIS! Dan moet ons water invoer van Europa af!

Nee, ek wil nie die President wees nie. Regtig nie.

Maar sê nou net die lootjie val op my? Wat sal ek doen? I shall humble myself before the Lord. Ek sal vir dae lank vas en bid. Ek sal vir God vra om my te help om hierdie moeilike situasie waarin ons land verkeer, te probeer bestuur. Ek sal bid vir raad en wysheid en die gutz om die regte ding te doen, want baie keer weet ons presies wát die regte ding is, maar ons is te bang om dit te doen.

Ek sal vir my goeie raadgewers aanstel. Betroubare mense. Eerlike mense. Mense wat dit wil doen omdat hulle regtig die beste vir almal in ons land wil hê. Mense wat ons land wil opbou.

En dan sal ons as ‘n span begin om te probeer om die land te bou, om te werk aan die moraal van ons mense. Sjoe, as ek dit net sou kon regkry om die afbreek te stop, die brandstigting, die vandalisme, maar dis ver bo my verstand en begrip.

So, ek wil regtig nie president wees nie. Maar Meneer die nuwe President, ek wens u regtig alle sterkte toe. Ek hoop u kry die skip gedraai. U weet, hier is regtig so baie mooi in ons land, kom ons soek dit en bou daaraan. Ek hoop u ken vir Jesus Christus, want Hy is die Een wat my elke dag krag en raad en wysheid gee om die regte besluite te neem. Soek Hom, spandeer daagliks tyd met Hom, raak stil by Hom, lees Sy Woord, daar lê regtig baie antwoorde in opgesluit. Volg Hom, u sal nie spyt wees nie.

Wat sal jy doen as dit jy is? Hoe gaan jy die skip omdraai?

Groetnis, Toortsie

Asseblief, kom ons hou die kommentare positief en geensins afbrekend nie.

Wat het van die idioom in ons taal geword?

Dis ‘n vraag wat ek deesdae baie vra. Mense sê goed met geen kwade bedoelings nie, ander gryp een woord en raak heeltemal op hol daarmee, ruk dit totaal uit verband uit en rig baie skade aan.

Ja, mense verstaan mekaar soms heeltemal verkeerd, maar so baie keer voel ek dat die probleem toegeskryf kan word aan die gebrek aan goeie taal. Dadelik wil ek bysê: Ek is NIE ‘n taalkundige nie. Ek het nie tale aan ‘n universiteit studeer nie, ek dink nie die Afrikaans met ‘n groot A wat ek in HOD gedoen het, maak my ‘n taalkundige nie. Ek is egter lief vir my taal, ook probeer ek om ‘n probleemoplosser te wees, eerder as ‘n probleemskepper. Ek hou daarvan om te probeer agterkom wat die kern van ‘n probleem is en dan dáár dit reg te stel, in plaas van net ‘n salfie aan te smeer en dan is als mos reg.

Wat gaan aan? Wat is die rede dat mense ‘n kleinigheid wat nie eers veronderstel is om daar te wees nie, opblaas tot iets groots? Hoekom heg mense ander waarde aan woorde as wat die bedoeling was? Is dit omdat hul in hulself gefrustreerd voel en sommer net rede soek om te baklei? Voel hul ekstra sensitief, is die vrees dat iemand dalk ‘n swakplek in hul mondering mag raaksien, dat hul die  geringste dingetjie wat dalk ‘n negatief mág beteken, al is dit nie eens so bedoel nie, moet aanveg? Het ‘n veg-of-vlug situasie só in ‘n vegsituasie ontaard, asof dit die enigste manier van doen is? Het padwoede en woordwoede ons hele lewe oorgeneem? Of is dit dalk foutsoekers wat net daarop uit is om moeilikheid te maak?

Of verstaan ons net nie meer ons mooi taal nie? Het ons dalk ons taal verskraal omdat ons nie meer idioom verstaan nie, en mense wat dit dan wel gebruik, verkeerd verstaan en verkeerd aanhaal? Soveel so dat mens bang word om dit te gebruik, verplig word om eenvoudiger taal te gebruik uit vrees dat iemand jou dalk verkeerd kan aanhaal? Is dit dalk dat almal deesdae aan sosiale media deelneem, ongeag die taalkwaliteit?

Ek vra maar net, dis dinge wat my pla.

Groete,
Toortsie, een met self baie foute

Toortsie se faceboekblad.

hoe word jy genoem?

Ons dames het maar ‘n identiteitsprobleem, lyk dit my. Of is ek nou heeltemal agter die tyd?

Ek kon my ore nie glo toe ‘n ongetroude vriendin vir my sê sy het my stuk gelees wat ek oor twee “oujongnooiens” geskryf het nie. Haar rede was dat dit nie ‘n onderwerp is waaroor ooit geskryf word nie, en in haar eie woorde, is sy ‘n oujongnooi!

Iemand wat ek ken, is baie lief daarvoor om as sy van ‘n persoon te praat, haar huwelikstatus ook te noem, soos die ‘weduwee, Maria’, of die ‘oujongnooi Sannie’. Dan sal ek haar elke keer wat sy die term ‘oujongnooi’ gebruik, daarop wys dat dit nie meer ‘n term is om mense te beskryf nie. Meisies ‘kies’ deesdae of hulle getroud wil wees of nie, en daarmee het ek geen probleem nie.

Toe hierdie nuwe bedeling ingekom het, het twee damesterme, nl. Mev en Mej, verander na een: Me,  sodat daar nie na huwelikstatus verwys word in jou ‘titel’ nie. Mans is almal Mnr, of hulle getroud is, ongetroud is, wat ook al. Daarom is ons vrouens nou almal Me…

Maar ék was al te lank ‘n Mevrou toe hierdie nuwe term ingekom het. Na meer as 30 jaar van getroude lewe voel ek regtig dat ek al die term ‘mevrou’ verdien. Ek het hard gewerk daarvoor! 🙂 Ek het in hierdie huweliksbootjie geseil deur stormsee, kalm water, rotse, stroomversnellings … tot waar ek nou is, steeds getroud met dieselfde man en ek wil dit glad nie anders hê nie. Ek sien dit steeds as ‘n eer om getroud te wees.

Nou wil ek weet, dame, wie en wat is jy? Is jy ‘n mev of ‘n mej of ‘n me? As jy ongetroud is, hoe voel jy oor die term “oujongnooi”?

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

Wat kan jy met ‘n miljoen doen?

Postaday-onderwerp:   What would you do with a million dollars, tax free?

Uit nagedagtenis en respek aan Lukas Maree vra ek vir jou: Wat sal jy doen as jy vandag Een Miljoen rand in jou skoot kry?

Ons almal onthou die TV-weergawe waar Lukas in die sinkbad sit en so lekker lag oor die miljoen. Ons almal het saam met hom gedroom.

Vandag is ‘n miljoen rand nie meer so baie nie en jy sal nie te ver kom daarmee nie. Maar gestel jy het nie skuld wat jy daarmee moet afbetaal nie. Of dalk het jy nie so baie geld dat jy dit net by die ander sal sit nie. Wat sal jy doen? Gestel dis ‘n miljoen wat jy nou regtig vir jou eie plesier mag gebruik?

Hier is wat ek sal doen:

Eerstens is die 10e vir my van uiterste belang. So ek sal my tiende, wat ek tans bereken as 12.5%, met lus spandeer: R125 000. Dalk sal ek daarvan vir elke werker op ons plaas, en sy vrou en kinders, ‘n lekker warm baadjie koop.  Die 10e-geld wat oor is kan vir verskeie organisasies gaan, soos ons kerk, Geopende Deure wat buitelandse sending doen, Veritas College wat opleiding van sendelinge behartig, Die Bybelhuis van Suid-Afrika, Sending sonder Grense, die Ouetehuis op Bredasdorp. Ek het ‘n lys, en sal daarop kyk vir wie ek almal geld kan stuur.

Ek sal R125000 in aandele belê, net omdat dit “die regte ding is om te doen”.

Dan is daar nog R750 000.00 waarmee ek mag doen NET WAT EK WIL!!!

Die kans is goed dat ek daarmee sal toer! En sommer my kinders en hulle aanhangsels en natuurlik my MAN sal saamneem! Wat van ‘n eksotiese toer na Rusland? Of ‘n bootreis in die Skandinawiese lande? Ons sal sommer op pad soontoe by die familie in Wes-Australië ook gaan draai. Dit wat oor is, sal ek bêre vir ‘n volgende toer. In Afrika sal ek graag Kenia en Malawi wil besoek. Dalk is daar genoeg geld om vir elke kind ‘n klein motortjie te koop?? En vir my dogter ‘n egte silwer dwarsfluit!!! 😆

En nou is dit JOU beurt!!  VERTELLLL!!!!

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Toortsie by Finesse: Net drie dinge en jou lewensuitkyk verander

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad

60 minute….

Posvandiedag onderwerpAs jy nog net een uur oor het om te leef, wat sal jy met daardie laaste 60 minute doen??? 

Ek wou die vraag sommer net vinnig antwoord op my vorige pos (ek het eintlik), maar besluit toe om dit op sy eie te hanteer. Wat gaan ek maak as ek weet ek net een uur oor het om te leef? Sjoe! Dis ‘n DIEP onderwerp wat hulle uitgedink het!

Ek sal vrede maak met enige een met wie ek in onvrede leef…  Maar hoekom moet ek wag tot ek net een uur oor het? Dis mos iets wat ek in elk geval moet doen. Vandag! Nou! Daar is na my mening nie regtig so iemand nie. Nee, ek jok. Daar is iemand…  maar eintlik het ons al vrede gemaak, ons soek mekaar net nie meer so baie op nie…..  Dis dalk iets om aan aandag te gee….

Ek sal vir oulaas vir my ma, my man en my kinders vertel dat ek hulle VERSKRIKLIK lief het, en vir hulle in die hemel sal wag.  Dis iets wat ek darem gelukkig op gereelde basis doen, so, indien ek nie die uur het nie en nou gaan, is dit reg so…   En dan is die uur al om!!

Wat sal jy doen? Hoekom stel ons sulke dinge uit? Want dis daardie dinge wat in ons kop opkom as ons so ‘n vraag hoor, wat eintlik die heel belangrikste dinge in ons lewe is……

Vir getroudes, vriende, familie, almal…… Vergewe!!! Vergewe!!! VERGEWE!!!!