Go with the flow…

Ek lees teen ‘n muur in ‘n klaskamer die volgende woorde: “Any dead thing can go with the stream; it takes something ALIVE to swim against it.”

Nou vra ek myself af….. is ek die dooie ding wat net saam met die stroom dryf? Wat elke dag maar vat soos dit kom? Maak ek soos ‘n volstruis as daar probleme is – druk my kop in die sand, en wag tot die probleem oor is? Wat soos ‘n bootjie sonder iemand wat dit stuur, maar doelloos dobber op die see? Wat maar glo dat probleme vanself sal oorgaan, of dat IEMAND ANDERS sal sorg dat dit verbykom? Val ek maar by die “algemene stem” in, al stem ek nie heeltemal saam nie?    …..   of    ….    is ek gewillig om te probeer swem TEEN die stroom (al kan ek nie swem nie??) Is ek gewillig om op te staan as mense vertrap word deur die “sterkes”? Sal ek my mond oopmaak as dinge verkeerd is? Laat ek toe dat die aarde misbruik word, en doen ek mee daaraan? Is ek bereid om te veg vir die waarheid, al maak dit my ongewild? Sal ek opstaan as iemand God laster, help ek mense reg wat God se naam misbruik? Is ek bereid om “skynheilig” genoem te word as ander nie saamstem met my goeie bedoelings nie?  Is ek bereid dat my eie naam skade aangedoen sal word wanneer ek iemand help wat in die modder is?

Wat van jou? Watter een is jy?  Gaan jy saam met die stroom…. of … gaan hulle jou aan die bo-punt van die stroom kry???

Is daar sin in musiekonderrig?

Daar is seker baie mense wat wonder of daar sin is in musiekonderrig. Dit is so duur. En dis een-tot-een-onderrig wat dit net nog duurder maak. En in skole raak dit nog meer sinneloos omdat daardie juffrou slegs een leerling op ‘n slag sien, terwyl ander onderwysers 30 tot 40 kinders kan onderrig. Daarom is dit mos baie meer wys om musiek uit die skole te verban en ‘n vak in sy plek te kry wat meer kinders akkomodeer.  Is dit hoe mense redeneer?  Ek het dit al gehoor!!!

Maar nou praat ekself. Musiekonderrig is oor en oor die moeite werd. In ons kinderdae het al die kinders sang gehad, ‘n skool het minstens 2 musiekonderwysers gehad en in die laerskool het baie kinders ten minste probeer en gekyk of hulle dit nie dalk kan doen nie. Net so het almal liggaamsoefeninge gehad (die outydse LO) en in die proses het ons gebalanseerde kinders gekry. Kinders het te doen gekry met kultuur en met sport, ongeag of hulle noodwendig aangelê was daarvoor of nie. ‘n Kind wat musiekonderrig kry, leer baie dissiplines wat sy nêrens anders kan leer nie. Selfdissipline is seker een van die belangrikstes. Want, dit verg nogals dissipline om stok-alleen in ‘n kamertjie te gaan sit en oefen terwyl jy hoor hoe lekker dit daar buite op die sportveld gaan. Jy leer ook deursettingsvermoë – om daardie stukkie waarmee jy sukkel, oor en oor en oor en oor te speel, tot jy dit regkry. Of, jy kry dit heeltemal reg, en ‘n dag voor die eksamen speel jy dit verkeerd. Jy leer om jou werk SELF te doen. As ouer kan ek my kind soveel as moontlik aanmoedig, ek kan haar vervoer na ELKE eisteddfod, eksamen, optrede, ek kan vir haar aansê om te oefen. MAAR ek kan nie haar werk vir haar doen nie. Ek kan nie, soos in enige ander skoolvak, haar taak vir haar doen en sy hoef dit net in te handig nie. Wanneer sy optree, IS DIT HAAR EIE WERK! En DIT is een van die heel belangrikste van alles – sy leer om SELF verantwoordelikheid te neem vir haar keuses – dis nie die MA of die JUFFROU of WIE OOK AL se skuld as sy nie geoefen het, of ‘n te vol program het en sy dan swak presteer nie. Asseblief! Moenie musiek totaal uit die skole verwyder nie! En baie dankie, HS Swellendam, dat julle nog ‘n aktiewe musiekdepartement het!!

Doen jy wat jy altyd wou doen?

Ronelda Campher skryf: “Ek drink somdae te veel. Ander te min. Maar ek drink nooit genoeg nie. As ek dronk is, praat ek te veel. As ek nugter is, skryf ek te veel. Maar ek praat en skryf nooit genoeg nie. Ek weet as ek net een ding kon reg doen, sou ek nie so X%*@ gevoel het oor die res nie…”

En dit bring my by die vraag…. Ek wonder, as almal, of ten minste meer mense gedoen het waarvoor hulle geroep was, hoe sou ons wêreld dan lyk? Piet wou sy hele lewe lank boer, maar sy ouers het hulle grond verloor toe hy 10 jaar was…. Koos, weer, wou eintlik ‘n polisieman wees, ‘n uitstekende polisieman, maar hy moes die familietradisie voortsit en boer, en maak toe nie ‘n sukses daarvan nie… Sarie wou ‘n verpleegster wees, maar familiedruk laat haar toe studeer vir ouditeur… Karel se lewensdroom was om ‘n brandweerman te wees, maar hy beland toe by die polisie… René het altyd die talent gehad om te skryf, mooi te skryf, maar het nooit haar talent ontwikkel nie. Die ouditeur moes ingenieur wees, die ingenieur moes eintlik aktuaris wees, die vee-arts moes boer, die teller sou ‘n uitstekende musiekant wees….

Daar is verskeie redes hoekom soveel mense nie doen wat hulle eintlik moes doen, of as hulle hulle harte ondersoek, wou doen nie… geld… insette van buite…. wat ook al. En ek wonder sommer net of dit nie bydra tot baie hartseer nie.  As jy wat hier lees, so iemand is wat regtig in verkeerde beroep is, vra ek nou: Wat wou jy altyd doen? As jy al jou moed bymekaarskraap, is daar nie ‘n kans dat jy TOG by jou lewensdroom kan uitkom nie??  Want as ‘n mens iets doen wat jy graag wil doen, doen jy dit met soveel meer lus en vreugde. Kry vir jou iemand wat jou sal bystaan en aanmoedig sodat jy by jou droom kan uitkom…  Doen dit net!!!

Gebeur daar deesdae nog wonderwerke?

Expect a miracle every day… expect a miracle when you pray. If you expect a miracle, God will find a way to perform a miracle to you each day….

Baie mense glo dat wonderwerke slegs in die bybelse tyd gebeur het. Tog sal iemand dalk die woorde – “wonderwerke gebeur nog” uiter en ek is nie seker of hulle dan altyd besef wat hulle sê nie.

Ek glo dat daar nog elke dag wonderwerke gebeur – ons moet net ons oë oopmaak en dit herken en ERKEN as ‘n wonderwerk… dan gaan jy dit al meer raaksien.

Ek wil vertel van ‘n paar GROOT wonderwerke wat ek al beleef het.

My pa het beesborsstuk geëet  en ‘n beentjie ingesluk. Na tien dae ontdek hulle toe die gat in sy slukderm. Die dokter het baie duidelik vir ons ingelig dat daar niks is wat hulle kan doen nie, dis al te lank na die tyd en hy is te oud. Ander dokters hoor daarvan en na baie operasies wat beslis vir hom baie ongemak gegee het, kon hy na 6 weke die hospitaal verlaat…. en weer eet! Hy is wel 10 dae later oorlede, maar tot vandag glo ek dat dit ‘n wonderwerk was. Die dokters het ook so gevoel.

Iemand het gif ingekry. Hy was baie lank in ‘n koma, en die hele gemeenskap het voluit vir hom gebid. Sy kans om te oorleef was NUL.  Sou hy wakker word, sou hy verlam wees.  AL sy organe het gaan staan. In daardie tyd het hy ‘n droom gehad waarin hy Jesus ontmoet het… Wel, hy het oorleef, en al was hy aanvanklik totaal verlam, het hy weer geloop, fiets gery! Wat ‘n WONDERWERK!! En hy het sy tweede lewe VOLUIT aangegryp tot sy dood 3 jaar later.

In L’Agulhas is ‘n man wat in ‘n ernstige motor-ongeluk was. Sy liggaam was BEHOORLIK gebreek. Hy sou nie weer kon loop nie…. Hy staan tans daagliks in sy winkel en bedien sy klante – as dit nie ‘n wonderwerk was nie, wat was dit dan?

In Oktober 2010 word 33 Chileense mynwerkers na veiligheid gebring nadat hulle vir 69 dae vasgekeer was onder in ‘n myn…

‘n Vriendin wat ALLES probeer het om swanger te raak, en as sy wel swanger raak, verloor sy die baba… gee moed op… hou op probeer… en raak natuurlik swanger en bring ‘n pragtige kind in die wêreld…    wat ‘n wonderwerk!

Moet ek nog aangaan? Of is julle al oortuig? Dan praat ek nie eers van klein wonderwerkies wat daagliks gebeur nie…  Vertel my watter wonderwerke julle al beleef het, asseblief! Ek wil dit graag hoor, want deur die vir mekaar te vertel, word ons geloof versterk.

Groete

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad.

Kan ek die resep kry asb?

Daar is ‘n epos wat al ‘n geruime tyd omgaan van rekenaar tot rekenaar. Dit gaan oor ‘n persoon wat kwansuis by Woollies koffie gedrink het en die resep van haar gunsteling koekie wat by die betrokke winkel verkoop word, gevra. Hulle het dit vir haar gegee en glo R25o.00 van haar kredietkaart afgetrek. (Die eerste keer wat ek die epos gekry het, was die bedrag baie hoër en dit het soos ‘n oorsese winkel se naam gelyk.) Nou is sy baie ontstoke en stuur die resep aan sodat almal kan deel in die resep en sodoende die winkel ‘n knou kan kry. In die eerste plek wonder of dit regtig gebeur het – sy het glo eers op haar bankstaat gesien dat die bedrag afgetrek is. Het sy dan nie die strokie geteken nie? Maar …. my eintlike vraag is dit: Het ‘n mens die reg om in ‘n tuisnywerheid/winkel of waar ook al wat ‘n sekere produk verkoop word, die resep vir daardie produk te vra? Ek gee nie om om vir enige iemand ‘n resep te gee nie, want ek maak nie kos vir ‘n lewe nie. Maar dis daardie plek se brood en botter! Is dit goeie maniere? Ek weet nie. En, sou sy dit dalk regtig gevra het, was die winkel so verkeerd om vir haar geld daarvoor te vra? Want sy kan mos nou ook begin om sulke koekies te bak en te verkoop? Is dit nie soos ‘n “besigheid” wat sy gekoop het nie? En .. as sy betaal het, is sy mos simpel om die resep met ander te deel…. sy moes begin BAK!!! En ek wonder…. hoeveel van die mense wat die resep per epos ontvang het, het werklik die koekies gaan bak? Sou hulle maar nie dit maar nog steeds by Woollies gaan koop het nie? Wat is julle opinie?? (Ek moet bely dat toe ek die epos die heel eerste keer gekry het, het ek dit ook aangestuur…. en later oor hierdie ding begin dink.)