Toortsie se Toeka Tokkel oor Brandhout

In opdrag van Scrapydo, nr 31 in die Toeka Tokkel reeks!

Ek weet brandhout het meer konnektasies, maar ek skryf oor die hout in ‘n vuur. In my kinderdae, as ons by Koppie Alleen was, het ons seker elke dag gebraai daar amper in die bos by die agterdeur. 🙂 Lekker herinneringe. Ons het ook graag gebraai as ons op Struisbaai was, maar my ma het altyd van dit ‘n geleentheid gemaak, en daar was dan mense genooi.

My skoonouers het Saterdagaande gebraai. Elke Saterdagaand het ‘n sekere groepie mense saam gebraai. Altyd dieselfde groepie. 🙂 Hulle het nie graag kaggelvuur gemaak nie, ek dink my skoonma was nie lus vir die skoonmakery van die kaggel nie. Ek neem haar ook nie kwalik nie! Maar hulle het ‘n houtstoof in die huis gehad, eers op die plaas, en later op die dorp, en in die winter is daardie stoof gestook. So, ons kuierplek was in die kombuis, nie in die koue TV kamer nie.

Nes my skoonpa, het my man ‘n oog vir ‘n stuk droë brandhout. Hy kan dit net nie weerstaan nie. Ons maak maklik ‘n vuurtjie. Tipies aan die huise in die Kaap, het ons ‘n binnebraai, en ek kan maar net sê, Gaan ons nie braai nie?”, dan brand die vuur. Enige tyd van die week! Ons het ook ‘n kaggel by die TV wat amper elke aand in die winter brand. Lieflik, gesellig. Hout is hier by ons nog nie ‘n skaarste nie, en op die Karoo-plaas is doringhout amper ‘n verpesting. En dan het ons mos nog die voorreg van plaaswerkers! Ekself hoef nie die kaggel skoon te maak nie, elke oggend kom die tuinman en maak die kaggel skoon en bring nuwe hout. Wat ‘n voorreg! Beslis nie ‘n reg nie, maar solank ons die voorreg het, maak ek gebruik daarvan.

‘n Vuur het net iets spesiaals aan hom, of dit nou ‘n kaggelvuur is, of ‘n braaivuur. Hy het die vermoë om ‘n vertrek anders warm te maak as ‘n verwarmer. Hy maak ‘n hele vertrek eensklaps warm, maar nie net die vertrek nie, ook die harte van die mense. Daar is iets romanties aan ‘n vuur. Deur in ‘n vuur te staar, bring jou onrustige gemoed tot rus.

Vuur het ook vir my ‘n ander konnektasie: Kampvuur. Sjoe! Wat is lekkerder as ‘n mens kamp en daar is ‘n groot kring om die vuur waar daar grappe vertel word, dalk kitaar gespeel word en gesing word?

‘n Mens kan die man uit Afrika haal, maar jy kan nie Afrika uit die man haal nie!

Toortsie

23 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor Brandhout

  1. Daardie man uit Afrika en nie Afrika uit man is beslis waar. Kry jy Afrikaanse mense hier word daar dadelik braaivleis gereël. Houtvuur braaivleis is natuurlik die lekkerse. Hier gebruik hul gas braaiers wat vir my nie dieselfde is nie. Dankie vir jou lekker brandhout stuk

    Liked by 1 person

  2. Eienaardig genoeg het ons nie braaivleis as kinders geken nie. Niemand het daardie jare gebraai nie. Dink soos ek wil kan ek nie dink dat ek en my eerste man ooit gebraai het nie. Dit is by my Engelsman wat ek van braaivleis geleer het.

    Like

  3. Sjoe nostalgies vir my want ek mis vuur en kan nie ‘n vuur bou om my lewe te red nie. Probleem is dat ek vir 25 jaar in ‘n woonstel gebly het. Ek was ‘n plaas jape en plattelander maar die stad het sekere dinge van my ontneem. *sug* Al wat ek oor het is dat ek nog die weer kan voorspel want ek weet altyd wanneer dit gaan reen, al is SABC hoe verkeerd is ek altyd reg

    Like

        1. Liewe, lees ek shadow se kommentaar vinnig…. en dit is wat ek lees: “Dan vloek ek nie alleen nie.” Sien toe sommer vit Toorts al vloekende oor haar vuurtjie gebuk 😆

          Liked by 1 person

  4. My pa het net so graag vleis gebraai, maar verkieslik buite in die “veld”. Ek onthou nou nog die geur van die bossievuur en die braaiende vleis wat so oor die vlaktes hang. Braaivleis by die huis was ‘n uithanggeleentheid byvoorbeeld vir ‘n verjaardag, waarheen die pastoor en hele gemeente uitgenooi was. Ons braai sommer buite op ons groot balkon, maar gebruik deesdae kole.

    Like

  5. Ons maak vuur in die sand bo-op ‘n sinkplaat onner die sterre. Sit netso kaalvot in die rooi Namibsand. Hierso brand ons Presopis vuilgoed-bome se hout en die volk tel Kameeldoring afval hout op. Op ons werf is nog outydse ‘donkies’ vir warmwater wat opgestart word met beesmiskoeke. In die veld tel ek droë tak rosies op. Dis wanneer die tak iets oorkom en in ‘n bondel opvrommel en so knoets maak met stam groewe daarin. Mens is veronderstel om nuwe brandvuur gou daarmee aan die brand re kry, maar dis te mooi. Ek kry dit nie oor my hart om te verbrand nie. Ons winters is koud, so ons sit soos broeis hoenders voor ‘n kaggel. Honne voor die kaggel. Vleisbraai is ‘n Vrydagaand ritureel, maar daar was nie veel daarvan as kind nie. Maerjare daai tyd.

    Like

Gesels saam, asseblief!