Ek dog ons is al lankal verby vrouevernedering

Toe ek destyds begin skoolhou het, was dit ‘n gegewe dat ‘n manlike onderwyser wat presies dieselfde opleiding as die vroulike kollega het, wat presies dieselfde aantal ure werk en ook buitemuurse aktiwiteite afrig, aansienlik meer verdien as sy vroulike eweknie. Of dit nou al reggestel is, weet ek nie.

Thulana het my behoorlik laat grom. 😦 Nie sý nie, die mnr Juppie wat Akkra besoek het. Gmf. Is ons STEEDS in die tye waar ons baklei oor wie is die belangrikste, die huisvrou of die “werkende” vrou? Die een wie kies om haar talente en aandag aan haar gesin te spandeer, of die een wie verkies om eerder buitenshuis te werk? Of dalk, die een wie nie ‘n ander keuse het nie, maar die beste maak daarvan? Genade!

Ek verstom myself steeds telkens as ek die verbaasde opmerking aanhoor as iemand agterkom ek word sowaar betaal vir my werk, en dít terwyl ek by die baas slaap!??  Dalk word dit as ‘n grap bedoel, maar ek wonder darem! Genade! Moet die baas dan nog die voordeel daarvan óók kry?

Dit laat my wonder: Is ‘n vrou wat vir haar man se besigheid werk, minder werd as iemand wat ingehuur word om die werk te doen? Mag sy, as sy vir ‘n ander organisasie werk, ‘n salaris verdien, maar as sy vir haar man se besigheid werk, nie betaal word nie? Dit maak glad nie sin nie. Ja, in sommige klein besigheidjies verdien nie die man, óf die vrou ‘n salaris nie en leef hul uit die tjekboek van die besigheid, maar in ‘n goed gestruktureerde besigheid waar almal betaal word?

Genadiglik kan ek dit van my man, en die vennote sê: Hulle waardeer my werk. Vir hulle is ek nie minder werd as die ander wie die werk sou doen nie. Húlle is al lankal verby die donker-eeue waar die vrou haar malle verstand afgewerk het en “by die baas geslaap” het as beloning. Asof dít nou ‘n beloning is! 😉

Wat my wel bekommer, is dat dit nie net mans is wat só dink nie…

Groete

Toorts

Voluit vrou, want so het God my gemaak. 🙂

 

9 thoughts on “Ek dog ons is al lankal verby vrouevernedering

  1. Die onderwys is redelik gelyk nou. Ek vererg my ook sommer as mense praat van by die baas slaap. As jy werk moet jy betaal word na wat dit werd is of jy die baas se vrou is al dan nie. Wat my ook dwars in die krop steek is dat sommige vroueregte vegters nie kan verstaan dat sekere dinge slegs vroulik is en ander weer slegs manlik. Vroue kan nooit mans wees en mans nooit vrouens.

    Liked by 1 person

    1. Presies. Ons het nie nodig om ons bra’s te verbrand nie. Ek is heel gewillig om my man as hoof van die huis te aanvaar. Maarrrr ons vroue is net so gelyk in God se oë, met vroulike vaardighede.

      Liked by 1 person

  2. Ek moet nie eers begin oor die onderwerp nie. Mense moet betaal word vir die werk wat hulle doen ongeag die geslag. Bevordering moet ook sonder in aanmerking van geslag plaasving Dis regverdig Ek het vanoggend vir ‘n vrou gesê God het ALLE mense gemaak – sy was verbaas … wonder hoekom.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!