Grootword

Scrapydo se toeka-tokkel: Grootword

Grootword, laat my sommer dadelik aan die grappie dink; ‘n Seuntjie leer viool speel.  Tot die buurman se ontsteltenis oefen hy elke middag baie hard, maar dit klink maar beroerd.  Op ‘n dag roep die buurman hom oor die draad, en vra, “Sê vir my seun wat wil jy eendag word sou ek jou toelaat om groot te word?”  Ons almal het seker al op tye so gevoel.

20150417_152728-1Die normale gang van die lewe is jy word gebore, gaan deur al die siklusse van die lewe, en wanneer jy oud geword het, sterf jy en keer terug na die stof waarvan jy gemaak is.  Behalwe vir die sterwe deel het ek al vêr pad gekom met die grootword, en oudword proses.  In my tienerjare het my ma vir my gesê ek gaan moeilik oudword, want ek wil nie grootword nie.  Sy het dit gesê omdat ek my nie soos ‘n dame wou gedra nie.  In ‘n mate was sy reg; as my lyf dit net wou toelaat sou ek vandag nog saam met my kleinkinders in die swembad baljaar het, branders, en fiets gery, en op die springkasteel gespring het.

In die grootword proses, met al sy groeipyne, het ek nie besef dat daar ‘n dag gaan kom waarop ek weergebore gaan word, en dat die proses van grootword van vooraf moet begin nie.  Hierdie keer nie in die vlees nie, maar wel in die gees.  In die gees kan jy egter weier om groot te word, en ‘n baba bly. Paulus stel dit so:  “For though by this time you ought to be teachers, you need someone to teach you again the first principles of the oracles of God; and you have come to need milk and not solid food.  For everyone who partakes only of milk is unskilled in the word of righteousness, for he is a babe.  But solid food belongs to those who are of full age, that is, those who by reason of use have their senses exercised to discern both good and evil.”

Vroeg in my geestelike wandel met God het ek ‘n preek gehoor van ‘n baba wat nie wou grootword nie.  Hy het liggaamlik gegroei, maar geweier om te leer kruip, te loop, en normaal te ontwikkel.  Daar het hy gesit, bottle na bottle gedrink, en al vetter en vetter geword.  Hy het verwag almal moet agter hom aanhardloop, en alles vir hom doen, maar self was hy van geen nut vir iemand nie.  Kom wat wil, maar ek wil nie ‘n geestelike baba bly nie, het ek besluit.  Grootword in die gees het beteken dat ek ‘n totale oorgawe aan Christus sou maak, omdat Hy alleen groei kan voortbring.  Om op die manier “ja” te sê vir Jesus, is om saam met Hom ‘n pad te loop wat jy nie normaalweg vir jouself sou kies nie.  Jy moet aan jouself sterf, en in die grootword proses die gestalte van Jesus aanneem.  In eie krag is dit onmoontlik, en ook  nie iets wat op hierdie aarde vervolmaak sal word nie.   Maar, is daar enigiets hoër om na te strewe?

10 thoughts on “Grootword

    1. Ja, dit is die begin van wysheid. Om kind van God te wees lyk vir die ongelowige so boring. Daar is egter niks in hierdie lewe wat ‘n groter uitdaging bied nie. Jy groei geestelik op in ‘n koninkryk van Lig, wat in oorlog gewikkel is met die koninkryk van duisternis. Jy kannie ‘n rol in ‘n groter storie speel as in God se storie nie.

      Like

  1. Dankie vir die insiggewende christelike groei. Dit is waar. Mens kan nie sommer oor al die stappe in die lewe spring en groot wees voordat jy alle stappies persoonlik geneem en beoefen het. Dankie vir jou getroue bydrae elke week.:D

    Like

      1. Presies. Ek het juis Maandag weer n treetjie vooruit gegaan deur my vertroue weer na Bo te rig en nie net op my eie kennis staat te maak nie.

        Liked by 1 person

        1. Dit is goed so. Ons vlees wil mos maar sy eie ding doen; maar die Woord sê “Ken Hom in al jou weë.” 😉 Makliker gesê as gedoen 😦

          Like

Gesels saam, asseblief!