Oor statistiek, netwerkbemarking, en lekker saamkuier

Vir syfermense is syfers belangrik. Ons kan nie help om syfers dop te hou, dit dalk te wil analiseer nie. Dalk is dit sommer net interessant vir ons.

Só het ek, toe ek begin blog het, die stats angstig dopgehou, iets wat ek natuurlik al lankal nie meer doen nie. Tog loer ek daarna: Wat doen ons leserstal? Groei dit oor tyd? Verval dit heeltemal? Moet ek my sokkies optrek, is ek besig om totaal uit die bus te val? Moet ek aan my skryfgewoontes verander, my taalgebruik?

Tog moet die statistiek nie die ding wees wat jou jaag nie. En nee, dit jaag my nie. Vir my is die HEEL lekkerste as mense hier lees EN KOMMENTAAR LEWER. Saamgesels. Dís nou lekker! Die KUIER saam met die ander blogmaats. Ai toggie, soms is die tyd net so min! So mense, ek WAARDEER julle geselsies, gesels saam, asseblief!

Terug by statistieke. Eerstens is ons blog nou amper by 200 000 klieke. 🙂 Sjoe! Dankie! Dankie vir elkeen wat hier inloer. Dit bly vir my ‘n groot kompliment, en soos ek reeds genoem het, dankie vir elke LIKE, SHARE, KOMMENTAAR. En sonder Kameel se bydrae sou ons nog lánk nie by 200 000 gedraai het nie!

Saterdagaand het ek niksvermoedend my Banting Muffin resep gepubliseer. Ek sit my resepte op, met die doel om myself te help vir as ek weer die resep soek, maar ook om vir ander mense te help. Ek is ook op twee faceboekblaaie vir Banting en dink by myself, laat ek ook ‘n slaggie iets post en post toe dit op beide blaaie. Toe ek Sondagoggend wakker word, kom ek af op ‘n ontploffing! Sondae is gewoonlik my rustigste blogdag, maar gister is toe ‘n uitskieter, ‘n totale uitskieter. Natuurlik was dit opwindend. Ek sal lieg as ek sê dit was nie… Dis waar die netwerkbemarking inkom.

Maar dis juis daar wat ek dit toe weer eens besef: Die syfers IS opwindend, die een keer wat dit gebeur, máár dis van verbygaande aard. Om te illustreer: Om ‘n bus vol Aussies vir ‘n kort middag te onthaal is héérlik, opwindend, gou oor, en mens wil dit dalk nie elke dag só doen nie, maar ‘n lekker lang kuier saam met jou vriende by ‘n vuurtjie, vriende wat jou deur en deur ken, by wie jy jouself kan wees, is mos net “anders”, met niks vergelykbaar nie. Dit bring my weer terug na julle, my dierbare, lojale blogmaats, wat hier kom lees, ongeag watter strooi ek uitdink, kommentaar lewer, weer kom. BAIE DANKIE. Julle is kosbaar. En vir die “dagbesoekers”, ook julle is baie welkom. Mag ons nog groot vriende raak!

Groete

Toorts

13 thoughts on “Oor statistiek, netwerkbemarking, en lekker saamkuier

  1. Baie “sweet” van jou om besoekers so te waardeer en tuis te laat voel. Jou stukke is beslis die moeite werd om te lees. Doet so voort! 😉

    Like

  2. Ek voel soos jy Toorts, raak so lief vir die mense op die blogs dat hulle soos ou vriendinne voel. Elkeen is so uniek. Ek wonder werklik hoe gaan dit met Vlooi, en Kind van Afrika, en Lekkerjeuk ens. Het elkeen so geniet en nou is hulle net weg 😦

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!