Toorts se Toeka Tokkel oor boeke

Scapydo sê: Skryf oor boeke. En ek dink by myself, wat het ek nog nie oor boeke geskryf nie?

Toe ek in matriek was, het die inspekteur wat gekom het om ons vir onderwysbeurse te keur, vir my gesê dat ek tog baie moet lees, want ‘n onderwyser moet altyd meer weet as die kinders. Ek was nie akademies baie sterk nie en die man het seker maar sy bedenkinge oor hierdie toekomstige juffrou gehad. 🙂 Die onderhoud was in Afrikaans en Engels en ons het net Engels in die Engelse periode gepraat, nooit meer as dit nie. Hy vra my in Engels hoekom ek ‘n onderwyseres wil word en ek antwoord: “From I was small, I wanted to become a teacher.”… From.

Ons klomp meisies in die koshuis het mekaar seker maar aangesteek om te lees. Elke Woensdag op dorpdag is ons met ons vragte liefdesverhale biblioteek toe om nuwes te gaan haal. Ena Murray, Ela Spence, Tryna du Toit… Party het Konzalik gelees, toe probeer ek ook een keer een. So onskuldig soos kom, haal ek die eerste die beste Konzalik van die rak af: “LSD”. Sjoe! 😯 WAT ‘N SKOK! Sommer op bladsy drie is hulle al onder die invloed en dit word in detail beskryf! BESLIS nie leesstof vir ‘n onskuldige, plattelandse matriekmeisie nie! Ek wonder wat tannie Hanna gedink het toe sy sien ek neem dit uit? 😉 Ek het nie verder as bladsy tien gevoerder nie. Nee! Genade!

In standerd 6 rond vertel Joy vir my dat hulle die boek, “Cheaper by the dozen” , as voorgeskrewe boek het en hoe hulle dit geniet. Die bib moes dit vir my aanvra. Ai tog, het ek gesukkel deur daardie boek, dit vir weke lank keer op keer hernu, en ek dink, tot vandag toe het ek dit nog nooit klaar gelees nie. Maar tannie Hanna onthou dit steeds, en ek het haar nou die dag vertel dat ek die fliek so geniet het. Mnr van Zyl het blykbaar op ‘n stadium vir haar gevra wie lees Engelse boeke, en toe kon sy sowaar MY naam ook noem!, en dit danksy Cheaper, wat ek nooit eers klaar gelees het nie.

O, en Mills & Boones het ons verslind. Let wel, die outydse Mills & Boones. 🙂 Die onskuldiges.

As laerskoolkind het my ma vir my Enid Blyton se Secret Seven reeks aanbeveel, wat ek vreeslik geniet het, maar snaaks, ek het nooit vatplek aan die Famous Five gekry nie. Weet nie hoekom nie?

Vandag is ek steeds lief vir lees, en lees oor ‘n wye spektrum van boeke, van lig tot swaar, van nonsens tot ernstig. Ek verkies ‘n boek ver bo ‘n tydskrif en ‘n hele verhaal bo kortverhale. ‘n Boek met ‘n begin en ‘n einde.

Wat lees jy?

Toorts

 

 

21 thoughts on “Toorts se Toeka Tokkel oor boeke

  1. Konsalik! 😀 Ek en my boetie 5 jaar ouer as ek het baie van sy boeke gelees (LSD ook) en daaroor gevrek. Ons het sulke goeie verbeelding gehad dat Strafkamp in die Berge ons laat bibber het van die koue een hetige Desembermaand in Namakawaland. My ma het ons onder ‘n hoop wolkomberse kom uithaal waar ons by flitslig gelees en ‘n hele brood gesit en eet het (die mense in die strafkamp was honger, het net afgewaterde koolsop gekry om te eet). Ek kan my nog steeds so inleef in ‘n verhaal. Goeie herinneringe, dankie.

    Liked by 2 people

  2. Ek was n leser. Van knikkop af tot by Saartjie, trompie jasper en veral die uile en keurboslaanreeks. Op hoerskool wel selfs andre p brink. ( maar skelmpies want die eerste een het my geskok – pure pornografie en toe is ek nuuskierig….vandag lees ek tot my spyt te min boeke – te besig. En as mens lank aan n boek lees verloor jy belangstelling. Maat ek mis nie n blog nie!

    Like

  3. Daardie tienerjare en jongvrou tydperk was Barbara Cartland my en susterT se geliefkooste boeke. Ek was en is steeds n stadige leser maar hou daarvan n om n boek te lees en klaar te lees. Later jare was Engelse boeke half lekkerder om te lees as Afr liefdesstorie. Was nooit n groot romantikus nie. Speur en natuurlik vakliteratuur is maar my leeslyn. Dankie vir die boeke vertelling. Eintlik kan mens so baie daaroor sê.

    Like

      1. Haai o nee. Barbara se skryfstyl het my altyd herinner aan die manier wat Marilyn Monroe gepraat het … so met ‘n hygasempie tussen elke twee woorde. Haar heldinne was sulke vanilla koekies, niks persoonlikheid nie. Victoria Holt / Philippa Carr / Jean Plaidy! Ek het elke enkele boek van haar onder enigeen van hierdie name verslind.

        Like

  4. Ek sal my blog daaroor skryf. Net nie altyd seker hoe dit met ander sal afgaan nie. Wanneer die Here so direk met my praat en met my deel, glo ek dit is iets tussen my en Hom. Ek is al misverstaan dat ander reken omdat die Here vir my gesê het ‘n ding is uit, dit vir hulle ook geld, en dat ek hulle veroordeel sou hulle daarmee aangaan.

    Liked by 1 person

    1. Ja. Baie goed is tussen julle 2. Jou roeping is nie noodwendig iemand anders se roeping nie. Maar jy mag getuig daarvan, van wat tussen julle gebeur het. Ek dink ek bly by my eerste gewaarwording.

      Like

    2. Kameel, ek verstaan, moenie alleen voel. Onthou, ons word maar as ‘weird’ gesien. Eks net bly dat jy en Toorts mekaar met wysheid verstaan. Vir nou, is dit die belangrikste. .

      Liked by 2 people

  5. Een van my vriendinne het my op varsity geboelie (bedoel oortuig) om Lord of the Rings te lees. Verder kan ek nie onthou dat ons in klosse gelees het op skool nie. My een vriendin was mal oor Agatha Christie, maar sy kon ons nooit regtig oortuig om saam te lees nie. Ek dink in ons vriendekring was ons smake net te uiteenlopend.

    Like

Gesels saam, asseblief!