Alfabet vol vriende.

Ek gaan voort met my alfabet vol besonderse mense.

K… my man. Wat kan ek meer sê?

K… my kleinseun. My eerste kleinkind. Die een wie my kom leer het van ouma wees.

K… die Koningin. ‘n Vriendin se ma. Sy is pas oorlede, maar sal altyd in ons herinneringe bly.

K… nóg ‘n dame wat my hare knip. Pragtige kind van die Here. Sy sorg dat ek netjies bly.

L… my rooilippievriendin. Die een wie ek daardie dag, 30 jaar gelede op die pawiljoen by ‘n plattelandse rugbywedstryd raakgeloop het. Sterkte met die stryd met die Groot K. Jy is só ‘n moedige mens. Saam met jou noem ek jou dogter, L. Borrelend. Pragtig. Wat ‘n voorreg om julle te ken.

L… my blogmaat, Kameel, wie God oor my pad gestuur het.

L… my skoondogter. Sag. Liefdevol. Musikaal.

M… my eie liefie meisiekind. Oor jou wil ek 10 blogs skryf.

M staan ook vir my ma. Statige dame. Selfs op hierdie hoë ouderdom, is haar voorkoms steeds vir haar belangrik. Al het ons dit nie altyd verstaan nie, weet ek dat Ma altyd vir ons die beste wou hê.

M… tannie Mags. Lankal oorlede, maar sy het so ‘n groot rol in my en my broer se lewens gespeel.

N… een van die Struisbaai groep, die een met die sterretjies in die oë. Jou ongelooflike mensekennis en menseliefde gaan nie ongesiens verby nie.

N… my man se kamermaat van Stellenboschdae. Dankie dat die vriendskap steeds bly, na soveel jare. Ek en N het mekaar geken lank voor ek en manlief mekaar geken het, ons het in ‘n STUDIE-kursus mekaar ontmoet. 🙂 (Ek weet steeds nie hoe om te leer nie!)

N. ‘n Amper buurvrou wat in ons bybelstudiegroep is. So op haar sagte, stil, vroulike manier is sy ongemerk besig om dieper en dieper in my hart te kruip.

O… O nou kan ek nie dink nie. Steek jou hand op as ek jou dalk vergeet het! Sorrie! O, ek onthou nou! Oupa. Oupa, die swart man wat in my ma se tuin gewerk het. Hy het so ‘n hand met die kinders gehad.

P… My pa. Oor hom het ek al baie geskryf.

P… My seun. Pragtige kind. Sagte kind. Plaaskind. Pa van my twee kleinkinders.

Q… slaan ek oor… dalk Quameel?

R… my vriendin sedert 1974. Dankie vir tannie Elza wie vir ons ‘n duet laat speel het op die klavier! My sus. My maat. So jammer ons woon so ver van mekaar en dat dit eintlik maak dat ons mekaar nie soveel sien nie.

S… My S vriendin, die dogter van die Koningin. Ons het maats geword toe ons kinders vroeg in hulle hoërskooljare gekys was. Die kys is lankal uit, maar ons vriendskap het gebly. Saam met dit jou suster, S, net so kosbaar.

S staan ook vir my kleinniggie buurvrou, die een saam met wie ons in Amerika rinkink het.

…en S staan vir my kleindogter. Nog net een ou jaartjie oud, maar wys alreeds dat sy lewe het in haar. Ouma se pop.

T? Vir almal wie ek Tannie noem?

U staan vir Ursula, my alter ego! Hoe kan ek haar vergeet?

En V is die van van my vriendin en amper buurvrou, wie se naam eintlik met ‘n R begin. Hulle het jare gelede by my pa gewerk, later by my broer, in ons jongdae en daar het ons maats geword. Nou verkoop sy mooimaakgoedjies aan my.

W… vir ons werkers. Ons is in ‘n verhouding waar ons mekaar nodig het.

W… vir ons melkstalbestuurder. ‘n Ongeslypte diamant met BAIE potensiaal. Eerlikheid wat jy ver sal soek om te kry.

W vir my dierbare oudste neef. Oom W is amper so oud soos my pa, en net soos my pa, ‘n ware heer. Dierbaar. Ek is mal oor hom.

X vir Xena, die eerste persoon wat ooit by my kommentaar gelewer het en wie my baie in blogging gehelp het.

Y vir my peetma… sy het die lewe as peetkind spesiaal gemaak

Z, die einde van my ztorie!

Groetnis,

Toorts

17 thoughts on “Alfabet vol vriende.

  1. Sjoe, jy het seker hard moes dink om alles saam so saamtestel, maar het gewen Of is dit oorwin?
    Skryf gerus bietjie oor jou meisiekind meer.Bly hulle naby aan julle?

    Like

  2. Welgedaan Toorts!!! Ek hou van die einde van my Ztorie 🙂 Gewonder wat jy op Z gaan sê.
    Ek het twee kleindogters wie se name wat met Z begin….. kan dus van agteraf begin.

    Like

  3. Wel gedaan! Jy het n pragtige vriende alfabet. Myne is al op papier neergeskryf. Sal dit seker volgende week agtermekaar kry en dan inskryf. Dit vat beslis nogal dinkwerk. Telkens is daar nog een wat bykom.

    Like

    1. O jy is oulik! Ek skryf mos maar sommer net en sit so tussenin by soos ek aan hulle dink. My goed word meestal vooruit geskeduleer, dan het ek nog ‘n kansie om te verander. Wel, ek het vandag nog ‘n verandering aangebring.

      Like

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord