Vertrou jou opvoeding

Hierdie bloginskrywing is deel van ‘n reeks inskrywings oor ouers van volwasse kinders. Ek voel dis ‘n mynveld, waaroor daar nie baie geskryf is nie. Ekself is nog in ‘n leerproses. Die doel van hierdie reeks is dat ons mekaar moet help en ek maak regtig staat op elkeen wat al deur hierdie meul is, om ‘n bydrae sal lewer.
Die man met wie ek getroud is, was my eerste ernstige kêrel. Ons was in ons eerste jaar op Universiteit toe ons ontmoet het.
Een naweek het my ouers Stellenbosch toe gekom en ek en my nuwe kêrel sou saam met hul gaan eet. Ek het ‘n vreemde benoudheid oor my gehad oor hierdie eerste ontmoeting tussen my ouers en my kêrel. My kamermaat se ou vra my toe: “Vertrou jy nie jou opvoeding nie?”
Wat hy daarmee onder my aandag wou bring, was, dat as ek my opvoeding wat my ouers my gegee het, vertrou, kan ek mos my keuse van kêrel ook vertrou. Of is dit te vergesog?
Ek het hierdie woorde van my kamermaat se vriend diep onder my hart gaan bêre en dit baie keer in my lewe toegepas wanneer ek keuses moes maak. Ek het ook geweet dat ek my ouers en skoonouers met hul raad kon vertrou.
Nou het die tyd aangestap, my kinders is groot. Volwassenes. Ek het my kans gehad.
Nou is die tyd wat ekself my opvoeding wat ek aan húlle gegee het, moet vertrou.
Nou is die tyd wat ek hulle moet vertrou met hulle keuses, hoe húlle hul lewe wil lei.
Ek kan nie die hele tyd oor hul skouer wil loer om seker te maak hul doen die regte ding nie. Ek kan ook nie hulle die hele tyd met raad bombardeer nie. As hulle daarom vra, of as ek regtig voel dis nodig, kan ek dit steeds op ‘n liefdevolle manier doen sonder om my wil op hulle af te dwing.
Maar nou is die tyd wat ek my opvoeding, en vir God, moet vertrou. Die beste plek om heen te gaan met my bekommernisse, is na God. Vertrou Hom. Hy is regtig iemand om te vertrou.
Vir die jongmense wat hier lees, wil ek graag aanmoedig: Doen jou bes met jou kinders se opvoeding terwyl hul nog in jou sorg is. Vertrou die opvoeding wat jou ouers jou gegee het. Vertrou die opvoeding wat jy aan jou kinders gee. Indien jy voel die opvoeding wat jyself gekry het, skiet dalk te kort, neem verantwoordelikheid en verbeter jouself. Lees op oor hierdie dinge en verryk jou eie lewe, en ook dié van jou kinders. Niks is ooit tevergeefs nie.
Sterkte vir almal van ons. Die pad is vol slaggate… en ja, ook ek trap gereeld daarin…
Groete
Toorts

Indien jy dalk op oulike skrywes oor hierdie onderwerp afkom, of as jyself al hieroor geskryf het of wil skryf, sal jy asb die skakels hier kom plak, of anders kan jy dit ook op ons faceboekblad plak. Jy is meer as welkom. Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se faceboekblad. Soek hom daar op faceboek, jy sal hom kry, of volg die skakel hier op ons blog.

13 thoughts on “Vertrou jou opvoeding

  1. Jy slaan die spyker op sy kop…vertrou jou opvoeding.Nou moet mens net heeltyd waak om in te meng.Ek praat soms hard met myself,moet heeltyd daaraan werk.Dis nie te moeilik nie,maar mens moet heeltyd daarvan bewus wees.

    Liked by 1 person

  2. Daar is tye om te praat en daar is tye om stil te bly… wysheid is om te weet wanneer 🙂 Die fondasie wat gelê is, is goud werd. Die stil kind bel my nou die dag in trane (haar lewe is op die oomblik in ‘n gemors,) en sê; “Vergewe my al hierdie dinge, ek weet ek is nie so groot gemaak nie.” So ja, vertrou die opvoeding.

    Like

  3. Ja, ek stem saam met vertroue op die ovoeding wat jy oorgedra het, hopelik na die beste van jou vermoe. Ek was n enkelouer vandat my seun 12 jaar was. Dis harde tye om n seun groot te maak of om die regte voor te hou. Die lekkerte van dit alles is as jou kind, wat nou n jong man van 33, vir jou se:” Dankie Ma vir die manier waarop Ma my groot gemaak het” Ek het die geleentheid gehad om vir 9 maande by hom en sy “partner” te kon inwoon. Daar was en is baie dinge waaraan ek nie gewoond is wat vandag wel alledaags is. Eers het ek stil gebly, toe my se gese en is ek uit die huis uit en bly nou op my eie. Daar is sekere dinge waarmee ek nie saamstem nie maar tog my kind het n mooi “houding” en “uitkyk” op dinge. Hy doen volgens my mening baie goed in sy werk en daaglikse lewe. Hy hou vas aan sy opvoeding en is n pragtige jong mens wat n goeie voorbeeld nie net vir sy vrou(my skoondogter) en ander jong mense waarmee hy te doen kry. Hy is baie volwasse en nugter. Hy kom ook met vrae nog steeds na my toe. Ons gesels en redeneer en dan besluit hy sy eie besluite. Vertroue in jou opvoeding is die belangrikste geskenk wat jy vir n jong mens kan gee as ouer.

    Like

  4. Wou nog se ek het n mooi boek wat baie insiggewend is. He’ll be OK deur Celia Lashlie
    Growing gorgeoius boys into good men.
    After years working in the prison service she knows what can happen when boys make the wrong choices…… she raised a son on her own and feared for his survival.

    Like

Gesels saam, asseblief!