Hoe kan tieners ‘n paar rand verdien?

Die vraag op Google was: “Hoe kan tieners vinnig geld maak.” Oor die vinnig geld maak het ek klaar gepraat.

Maar hoe moet ‘n tiener maak om ‘n inkomstetjie (of inkomste dalk) te verdien? Baie tieners kyk in die vakansietyd uit vir ‘n werkie.

Met my outydse, plattelandse kop kon ek aan ‘n paar goed dink, julle moet dit asb aanvul. Asseblief, hierdie is nie ‘n werksoekblog nie. Ons ruil net idees uit. 

By die vakansieoorde is ‘n verskriklike behoefte aan BETROUBARE helpers in die vakansie. Die plaaslike mense is net nie genoeg om die stormloop van mense te hanteer nie. So, klop aan by haarkapsters, restaurante, winkels en hoor wat hulle aan te bied het. Wees bereid om ‘n minder lekker werk te doen. 

  • Kelnerwerk by restaurante
  • Kassiere (till slaan) in winkels
  • Sakke pak
  • Algemene stoorwerk, soos om bokse te dra, rakke uit te pak, vragte te help aflaai
  • Petroljoggie
  • Hulp by haarsalon. Help hare was, gee rollers aan, antwoord die telefoon
  • As jy regtig entrepeneuries is, wat van ‘n roomysstalletjie, hotdogstalletjie, koeldrankstalletjie, pizzastalletjie by die see, of daar waar die vissersbote uitkom deur die dag?
  • Of wees soggens 4 uur by die hawe met warm koffie en toebroodjies as die bote uitgaan see toe. Baie van daardie mense het verslaap en kon nie betyds eet en kos inpak nie en sal só bly wees vir ietsie wat hulle kan gryp in die hardloop.

Gaan julle nie see toe nie? Met die binneland wat so leeg loop tydens vakansietye, glo ek ook dáár sal behoefte aan gewillige en betroubare werkers wees.

  • Help versorg ‘n ou mens.
  • Pas iemand se huis op terwyl hulle weg is. Kyk dat dielfde lig nie heeltyd brand nie, dat die koerant en melk opgetel word soggens, dat die diere kos en oefening kry, die erf netjies is. Kyk dat die vrieskas en yskas loop ná ‘n kragonderbreuking.
  • Sny mense se gras.
  • Ook in die binneland sal hulle kassiere en sakpakkers nodig hê in die winkels. Dalk het hulle iemand nodig wat kan help groente weeg vir die klante.
  • Lewer koerante af.
  • As jy al ver gevorder het op skool en rekeningkundige werk kan doen, kan jy selfs met die administratiewe werk help. Dalk is daar ‘n kleinerige kafee wie se admin in chaos is. Bied aan om dit te help regruk, en bied sommer aan om deur die jaar dit ook te doen so een maal per week.

Liewe tiener, dit maak nie saak WAT jy doen om ‘n geldjie te maak nie. (Moet asb net nie jou siel verkoop vir ‘n geldjie nie!) Doen dit wat jy doen, VOLUIT, met ‘n MOOI GESINDHEID en ‘n glimlag. LYK of jy wil werk. Wees BETROUBAAR. As daardie werkgewer sien hy kan op jou staatmaak, gee hy dalk vir jou ‘n meer uitdagende werk.

Geniet dit!

Toortsie

Tieners en jongmense, as die GELD nie so erg belangrik is nie, wat van ‘n UITREIK in die vakansie, waar jy iemand anders se lewe verryk?

En julle moet ook nie van SHADOW vergeet nie, waar julle julle werk aanbied en nie ‘n salaris verwag nie. Dit gee jou ONDERVINDING, iets wat almal nodig het om ‘n werk te kan kry.

Ns. Gaan loer bietjie op ons faceboekblad, word lid daarvan as jy wil en gesels saam.

11 thoughts on “Hoe kan tieners ‘n paar rand verdien?

  1. Ek het ‘n drie vakansiewerkies gehad op skool. Die eerste een was om as ‘n kassier in ‘n kafee te werk. Die tweede ene was by ‘n donutstalletjie waar ons donuts gemaak het en die derde was in ‘n skulpieswinkel. Na skool het ek my kelderin begin speel. As jou houding reg is en jy lewer flinke diens is daar genoeg geld daarin om ‘n bestaan te maak. Nie ‘n fancy ene nie, maar jy sal jou plekkie se huurgeld kan bekostig. 🙂

    Like

      1. Ja hulle doen eintlik alles Net die fotograaf en die persoon wat die geld hanteer is verantwoordelik persone Maar jy moet hare op jou tande hê as jy Kersvader is, baie harde en warm werk maar hy maak ‘n paar duisend Rand … en in die een mall is dit ‘n dogter

        Like

  2. My een dogter het n besigheidjie vd huis af gehad. Sy het egte skaapvel pantoffels verkoop, iets wat nie in ons dorp beskikbaar was ni. Sy het mooi afvertensies gemaak en oral opgesit. Die ander een het cupcakes of muffens gebak, vir haar soos ‘n kat aangetrek, kompleet met stert en gegrimeerde katgesig, en toe die koekies aan die huise in ons straat gaan verkoop. Sy het ook danslesse gegee ( ballroom).

    Like

    1. Hoe kreatief! Tieners, lees bietjie hierdie! En nie net tieners nie, sommer studente ook wat die lang vakansie by die huis is. Almal het lus vir iets lekkers om te eet. As dit nog by die huis afgelewer kan word ook, is dit ‘n bonus!

      Liked by 1 person

  3. Einde van die jaar is ook verhuistyd. Maak leë bokse bymekaar en bied aan teen ‘n billike fooi om te help pak. Of “verhuur” jou bokse aan mense wat net van huis tot huis trek.

    Of bied vir nuwe intrekkers aan om hulle leë bokse weg te ry. Neem dit na ‘n maatskappy wat herwinning doen. Mens verdien goeie geld. Of bied dit anders weer vir ander verhuisers aan.

    Herwinningsmaatskappye betaal baie goed vir wit papier. Gaan na skole of ander maatskappye en bied aan om hulle gebruikte wit papier weg te ry.

    Like

Gesels saam, asseblief!