Beker van verlange en nog meer

Die week se uitdaging gaan oor bekers

IMG_5424
My verlangbeker…

Ek het ‘n baie spesiale beker, maar voordat ek oor hom praat loop ek eers ‘n draai by my ousus se dogter.

Sy is ‘n kunstenares, met ‘n kunstenaarstemperament, wat in ‘n kunstenaars “cottage,” op my ousus hulle se erf bly.  Daar het sy haar twee kinders op ‘n kunstenaarswyse grootgemaak.  Wat beteken hulle het van babatyd af barley green uit bottels gedrink, en later gestoomde aartappels met barley green oor geeët.  Die twee kinders het dit oorleef, en is vandag op universiteit.

Alles in daardie “cottage” is anders.  Skaars binne of jou kop begin op en af, en heen en weer beweeg soos jy die wêreld om jou bekyk.  Sou ‘n mens tee kry – wat op sigself ‘n wonderwerk is -kan jy maar seker wees die beker waaruit jy drink gaan ‘n ervaring op sy eie wees.  Miskien lê jou tee in die kelk van ‘n roos, of gesels jy land en sand oor die vlerke van ‘n skoenlapper.  Nie so delikaat soos dit in die natuur voorkom nie, nee aards – anders – mooi of lelik – afhangende van wie daarna kyk.  Tee proe anders uit daardie bekers, so asof hulle ‘n karakter van hule eie het.

My hande kannie bekers skep nie, dus koop ek hulle sommer van die rak af.  Op ‘n dag koop ek ses groen bekers met swart strepe.  Hulle sou definitief nie aan ‘n skoonheidswedstryd kon deelneem nie, maar vir alledaagse gebruik was hulle piekfyn – of so het ek gedink.  Dat dit onaanvaarbaar was om hulle jou huis binne te bring, vind ek uit die dag toe Chantè kom kuier.  Sy steier behoorlik terug toe sy die kas oopmaak om koffiebekers uit te haal, “WAAR kom mamma aan die KOTSgroen bekers?” wil sy weet.  Sy skud haar kop ongelowig, “Dit is die lelikste bekers wat ek nog ooit gesien het, geen mens kan daaruit drink en goed voel daarna nie.”  Nee, ek het hulle nie my huis verban soos sy voorgestel het nie – hulle het ‘n doopnaam gekry – en is as wapen gebruik om Chantè se siel mee uit te trek.  ‘n Paar maande later gee Marlè my ‘n geskenk; ‘n spierwit eetstel met ses wit bekers – wonder of die kotsgroen bekers iets daarmee te doen gehad het?

‘n Baie spesiale beker – die een met die dame en tossel – is my verlangbeker.  Ken het hom op ‘n dag in ‘n mooi houer aan my gegee, en gesê dat ek in die dae wanneer die groot verlang my beetkry, uit die beker moet drink, en weet hy is lief vir my.  Ek doen dit, veral diè kere wanneer ek hom vir weke nie sien nie.  Wonderlik wat iets tasbaars aan ‘n hart vol verlange kan doen.

16 thoughts on “Beker van verlange en nog meer

    1. Lekker om ‘n mens se gedagtes so ‘n bietjie te laat gaan, en dan begin dinge vorm aanneem. Ek sukkel net om by die ander te lees. Kon net by jou en Dirkie uitkom.

      Like

  1. Ek het net een beker waaroor ek kan gesels. Toe my broer 50 geword het het ek vir hom ‘n beker present gegee. Daarop was ‘n foto van 3 ou mense wat verskriklik lekker lag. Toe ek dit gekoop het, het ek gedink: Dis nou as ek en hy en ons ander broer een dag in die ouetehuis sit en skaterlag oor al die strooi wat ons ons lewe lank aangevang het. Ouboet is oorlede en wat van die beker geword het, weet ek nie.

    Like

    1. Eienaardig hoeveel herinneringe ‘n mens om iets soos ‘n beker kan bou. Ek glo jou broer het daardie drie lekkerlagmense, en die idee agter dit geniet terwyl hy nog met julle was. Dit is mos die klein dingetjies in die lewe wat saakmaak.

      Like

      1. Ja, hy het ‘n lekkerlag geaardheid gehad, en vir ons net lekkerlagherinneringe gelos. Ek sê altyd… die hemel sal ook nie meer dieselfde wees vandat hy daar is nie… iewers is hy besig om laf te wees!

        Like

  2. erens het ek die bekerding gemis. Maar dit is so: tee smaak lekkerder in ‘n mooi beker of dan ‘n beker met mooi herinneringe! Ek het op my dag bekers geverf. Mooi prente wat by die mense pas , of aandenkings uit die omgewing vir toerisgte. Kon nie voorbly met die bestellings nie, tot my verf opgeraak het en ‘n mense nie nuwes kan kry met dieselfde kwaliteit nie.

    Like

    1. Jy verf juis so mooi!!! Sou nie omgee om te sien wat verf jy op ‘n beker wat by my pas nie 🙂 Die kwaliteit van alles gaan af…. so hartseer.

      Like

  3. Dis ‘n pragtige beker Sally. Ek het ook ‘n spesiale (vervelige) beker waaruit ek drink. Op die stadium is elke beker op sigself ‘n bestelling. Almal drink hullle koffie op ‘n ander manier. Daarom is koffietyd ‘n see van verskillende bekers.

    Like

Gesels saam, asseblief!