Stiefma word ma

Shane, Ken se vierjarige seuntjie sit agter in die motor.  Langs hom in ‘n drakot lê ons babaseuntjie van twee weke.  Toe diè begin kriewel, loer Shane na sy halfboetie; “Hello little rockspider,”  sê hy heel ernstig.  Verbaas staar ek en Ken na mekaar, en bars dan uit van die lag.  Hy sou ons nog ‘n paar keer diè vakansie in Port St Johns met sy ernstige sêgoed vermaak; maar inherent was hy ‘n ernstige kind wat op sy gelukkigste was wanneer hy alleen sit en speel het.

Die daaropvolgende sewe jaar vind daar heelwat skommelinge in ons gesin plaas.  Drie jaar na die vakansie in Port St Johns, kom bly my vyfjarige dogtertjie uit my vorige huwelik by ons.  Nog drie jaar later word daar vir my en Ken ‘n dogtertjie gebore (‘n kind wat die stil Shane se hart op ‘n onverklaarbare manier roer.)  En ‘n jaar na haar geboorte trek Shane, wat toe elf jaar oud is, ook by ons in.

Dit is terwyl ek sy kamer in gereedheid bring dat ek besef dat ek hom nie veel beter ken as daardie dag in die kar nie.  Behalwe dat hy en sy halfboetie nie altyd “eye to eye,” sien nie, was die vakansies wat hy by ons deurgebring het rustig, en sonder veel drama. “Die kind is ‘n toe boek,” besef ek; hy het nooit toegelaat dat ek hom leer “ken,” nie.   Van die wrok in sy binneste teenoor my; die vrou wie hy glo sy ouers se huwelik opgebreek het, het ek nie toe geweet nie.

Ken was nog by die werk die dag toe sy ma hom bring.  Na haar vertrek verdwyn hy na sy kamer toe, en ek los hom vir eers alleen om homself  te vind; dan stap ek daarheen. Sy oë blits, en daar is opstand in sy stem  toe hy voor my kom staan: “One thing YOU must know, YOU will NEVER be my mother!!”   Ek het die aanval nie verwag nie, en die emosie in hom is vir my vreemd.  Dit is duidelik dat ek so pas ‘n hindernisbaan betree het, en op daardie oomblik weet ek nie hoe om dit te hanteer nie.

Stadig maar seker vind Shane sy plek in die gesin.  Soos die ander kinders kry hy sy werk om in die huis te doen; na ‘n paar kopstamp oomblikke met Ken, lyk dit asof hy tog goed aanpas.  Ek dwing myself nie op hom af nie, maar laat my ook nie afskrik deur sy afsydige houding nie.  Hy op sy beurt veroorsaak so min as moontlik rimpelinge op die water.  Tog sou ek verkies het dat hy so nou en dan tot ‘n uitbarsting kom, net om ‘n kykie in sy binneste te kry.

Hy is ‘n kind wat lief is vir die natuur, en die  Saterdag wanneer hy besluit om ‘n brood, en ‘n fles water in sy rugsak te pak – toebroodjies en koeldrank is te beskaafd – juig die jonger twee.  Hulle geniet dit om saam met hulle Engelse boetie die veld in te stap, deur ‘n plaasheining te klim en op ‘n ander man se land die wêreld te gaan verken.  Vuil en moeg keer hulle laatmiddag terug, en uit die twee jongeres se monde hoor ek van die dag se avontuur; die gate waarin hulle geklim het op soek na “skatte,” (gewoonlik ystervarkpenne,) die swem in die rivier, die stap in die veld, en vele meer.

Drie jaar glip verby, en dan kom staan Shane een oggend in ons kamerdeur.  In sy oë lees ek dieselfde opstandigheid as daardie dag in sy kamer.  Ek wag vir hom om te praat.  “I am going back to my mother,” sê hy in ‘n uitdagende stem.  “That’s news, does your father know?” vra ek.  “NO,” sy oë daag my uit om hom teen te gaan.  Hoe goed ken ek diè rebelse gees nie.  “Talk to your dad tonight, if he says its fine, I will not stand in the way.”  Hy ruk sy skouers regop; “I will do just that.”  Toe hy omdraai praat ek weer.  “One thing you must know though, if you go back to your mom, the doors of this house will be closed to you.  You are welcome to come and stay for the holidays, but never to live here again.”  Sy wind is uitgeslaan, hy staar my aan, en dan kom die verbaasde “WHY?”  “If you are not willing to work things out in life but rather run from them, I do not want to play a part in helping you with that.  You were unhappy at your mom’s, and we gladly opened our doors to you.  Now you want to run back to her.  What if you can’t find what you are looking for there…. are you going to run back here?  If you decide to go back, and you know there is nowhere else to run to, you may learn to stay even if things are not the way you want it.”   Vir ‘n paar oomblikke staan hy en weeg dit wat ek vir hom gesê het op; dan draai hy om “I will talk to my dad tonight.”

Die naweek kom sy ma deur.  Ek besluit om die drie van hulle alleen te laat sodat hulle die saak kan uitpraat.  Veel later kom roep Ken my; die besluit is geneem Shane gaan by ons aanbly.  Ek is bly daaroor;  diè Engelse stiefseun van my het stadig maar seker ‘n plek vir homself in my hart uitgekap, en hy was lankal nie meer stief nie, maar soos my eie seun… as hy my net wil aanvaar.

En toe eendag gebeur dit waarvoor ek gehoop, maar nie durf rypdruk het nie.  Ek staan voor die stoof toe Shane inkom, en in die kombuis begin ronddraai.  Terwyl ek die kos roer gesels ek so oor my skouer met hom.  Dan word dit stil tussen ons; die volgende oomblik voel ek sy arms van agter af om my lyf gly… vir ‘n oomblik druk hy my teen hom vas.  “My mother,” fluister hy in my oor; draai om en stap deur die kombuisdeur buitekant toe.  Ek staan en drink die wonder van die oomblik in.  Dit het ‘n paar jaar geneem maar ons is oor die eerste struikelblok.

25 thoughts on “Stiefma word ma

    1. Kinders is so kosbaar in God se oë, en die nood is so groot wanneer dit by hulle kom. Ek het al vele trane oor verwaarloosde kinders gestort.

      Like

  1. My kinders het n stief oupa en ouma ge had Of sal ek se boeta het My stief skoonpa het nie lank genoeg geleef om sy eerste kleindogter te kon ontmoet nie maar hy was trots op sy kleinseun al was daar geen bloedband nie Vir boeta was hy oupa my kinders sou nooit weet van die stief nie Hulle het altwee hulle bloedjong ouma geken en sy het nooit gestry nie Sy het verstaan waar ek vandaan kom ouma’s is oupa’s se vrouens dit hoort so Toe Boeta vir die tweede keer sy stamboom in graad 2 moet doen begin hy vra oor waar sy derde ouma hoort Dis toe dat ek moet verduidelik dat sy pappa se stiefma is Nou my kinders was groot aanhangers van Herkules en al stiefma wat hulle van weet is Herra en sy was geen goeie voorbeeld So terwyl ek verduidelik van pappa se stiefma kom sussie se kwaai stemmetie van langs my “Dis nie so nie Sy is nie n stiefma nie Sy is nie mean nie” Nee my kinders se stiefouma was nie mean nie sy was lief vir hulle
    Ongelukkig was ouma te jonk vir oupa Sy was skaars 10 jaar ouer as ek en my man Daardie huwelik het ook in die skyhof geeindig Ek onthou die eerste keer dat my skoonpa met n ander vrou kom kuier het Ek was by die winkel toe hy hier aankom Toe ek by die huis kom sit sussie op die stoep Die eetrste ding way sy vir my se is Oupa is hier met n ander vroumens n Paar weke later kom sy in die kombuis terwyl ek kosmaak Dis toe dat sy se sy wens mense wil dit in hulle koppe kry dat net omdat hulle van iemand skei beteken nie dat hulle moet ophou lief wees vir almal anders ook nie

    Like

  2. So ‘n stiefbesigheid kan vir jou heel ingewikkeld raak 😉 Laat ons maar lief wees vir ieder en elk wat oor ons pad kom…. dit is tog die gebod van die liefde.

    Like

    1. Wanneer ‘n mens in die ding is Rosa, beur jy voort om nie te verdrink nie; God gee egter die krag en wysheid…. alle eer aan Hom.

      Like

    1. Hello Amelia.As ek maar net ‘n punt agter hierdie skrywe van my kon sit… maar daar het intussen nog baie water in die see geloop. Ek en hy sou nog diep, diep water swem. Ek beplan om ‘n opvolg te skryf.

      Liked by 1 person

  3. Kameel, ek en jy was reeds fb maats, maar nog nie blogmaats nie, toe jy vir my inbox: As jy ‘n blog gehad het, wou jy HIEROOR skryf. Net daar het ek jou genooi … HIERDIE STORIE was die oorsaak van Kameel by Toortsie, al het jy dit soveel later eers geskryf. xx

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!