Hoe om ‘n klomp tieners stil te kry

Vloek het ‘n algemene ding geword. Dit is nie meer vreemd dat mense vuil taal gebruik nie. ‘n Ding word in die ergste graad gesê en klaar. Geen filters is meer voor die mond nie. Jy is ook die verkeerde een as jy dit bevraagteken, wie is jy in elk geval?

Wel, ek haat dit. Ek haat ‘n gevloek en baie keer is ek in geselskap waar daar lelik gepraat word. En ek haat dit wanneer daar per ongeluk, wanneer ek myself regtig nie kan beheer nie, ook ‘n vuil woord uit my mond ontsnap, en dit gebeur wel, ek belowe. Gewoonlik bly ek maar stil, maar as dit iemand naby aan my is, sal ek die persoon attent maak daarop, en wel, ek het ook baie sulkes in my baie naby familie, jammer om te sê. Die waarheid is dat ‘n mense regtig nie ouliker is as jy vloek nie. Inteendeel.

Maar wanneer ek NIE kan stilbly nie, is wanneer mense my God se naam gebruik asof dit sommer net ‘n lekker stopwoord is. Wanneer hulle Sy naam gebruik omdat hulle geen ander woord het om te sê nie. Ek haat dit ek haat dit ek HAAT DIT, want of ons nou vir God wil erken of nie, HY HAAT DIT WANNEER SY NAAM SOMMER NET GEBRUIK WORD ASOF DIT ‘N NIKS IS NIE. Hy stel dit baie duidelik in Sy Woord en as ons verkies om dit te ignoreer, wel, dan is dit regtig jou saak!

Ek probeer gewoonlik op ‘n mooi manier vir die persoon attent maak daarop, sodat die persoon nie geaffronteerd voel nie. Wel, eintlik behoort hy geaffronteerd te voel, want God voel geaffronteerd daaroor!

Een dag, in Switserland, ry ons met die kabelkar van die Jungfraujoch af. Die kabelkar is vol gillende, jillende, Amerikaanse tieners en God se naam word in elke tweede sin uitgeskree. Ek kon later net nie meer nie, regtig, ek kon nie! My hart klop. Ek bewe. Ek hiperventileer.

En toe sê ek vir die meisie wat die naaste aan my staan, baie saggies:

‘May I tell you something, please? This God, who’s name you say in every sentence, is my God. He is a Living God and He really hates it that we use His name unless we talk TO Him, or ABOUT Him. ‘

Hulle het geen verdere woord gepraat nie, tot heel onder waar ons uitgeklim het nie. Doodste stilte in die hele kabelkar. Want sien, as hulle nie my God se naam kan sê nie, het hulle niks anders om te sê nie. Hul het ‘n tekort aan woorde gehad! En ek het nog lank daarna gebewe. 

(Terloops, ek het al gehoor dat mense sê die mense weet dit nie. Wel, ignorance is no excuse! Dan is dit my en jou plig om hulle in te lig.)

Toortsie