Groot opwinding in Goue Vroue land!

Soos soveel mense mos weet, is die Towerinne ‘n groep vroue wat saam opwindende stories skryf. Maar, soos almal ook mos weet het elkeen van ons ‘n stukkie goud in ons. Elke persoon in die wêreld het iewers ‘n stukkie goud. Soms moet dit nog net ontdek en ontgin word. 🙂

In die laaste storie wat ons geskryf het, het ‘n klompie van ons ons stukkies goud ontdek. Of eerder, ons het mekaar se goud ontdek. Appeltjie beskryf die storie as volg: ‘’n Groepie Towerinne beland in ’n storieboekavontuur. Tydens die ontrafeling van die verhaal ontdek hulle elkeen hulle Goue Eienskap wat van hulle die Goue Vroue maak.’ In die proses het ons Alice in Wonderland behoorlik oorgeskryf met heelwat nuwe kinkels in die kabel.

Die groot opwinding? Hierdie storie is omgewerk, geredigeer tot ‘n regte egte e-boek. JA! Dit was weer eens ‘n spanpoging soos min! Om die waarheid te sê, ek staan eintlik verstom oor hoe vinnig en effektief die Towerinne saamwerk.

Nadat ons eenparig besluit het dat die storie ‘n e-boek moet word, het ek gou-gou al die hoofstukkie in een Google Docs dokument gesit en met almal gedeel. Almal kan mos gelyk werk op Google Docs. Elkeen het ‘n bydrae gemaak. Die een het al die foto’s verwyder en die onnodige verwysings na die e-links. ‘n Ander een het die ‘n-strepies omgedraai dat hulle reg lê. Nog een het al die hyperlinks verwyder. Almal het geproeflees, spelfoute reggemaak, oorgelees. Seegogga het die pragtige voorblad ontwerp.

Daarná is die boek volgens die spesifikasies van Smashwords, ‘n internasionale e-boekverspreider reggestel. Gisteraand is die e-boek gepubliseer en nadat daar nog hier en daar ‘n klein veranderinkie moes kom, is dit nou reg. Jy is welkom, gaan laai jou GRATIS e-boek hier af: https://www.smashwords.com/books/view/1045247

Ek is ‘n trotse Towerin. ‘n Trotse Goue Vrou en ek weet dat dit die begin is van nog baie e-boeke deur die Towerinne of Goue Vroue.

Toortsie

Kyk net hoe mooi lyk ons dogtertjie daar tussen die grootmenere.

Towerinreünie

Soos almal in blogland weet, is dit GROOT as bloggers saamkuier. Baie groot.

Toortsie het natuurlik ‘n bietjie te laat geslaap, maar met Appeltjie se hulp het hulle, so tussen baie gepratery deur, die kossies betyds reggekry vir ‘n baie laat ontbyt. Appeltjie het mooi gehelp dat Toortsie nie totaal kop verloor nie.

Aalsie, Seegogga en Appeltjie het gesorg vir die lieflikste blomme en Aalsie het ‘n heerlike slaai saamgebring. Appeltjie moes bontstaan om oral te help, vrugteslaai te maak en al die kos mooi voor te sit.

Die manne het ‘n heerlike gesellige vuur gemaak en gesorg dat ons elkeen ‘n glasie lieflike vonkelwyn in die hand het. Toe het elkeen ‘n rede gegee hoekom ons fees vier. Vir Vrouedag. Vir vriende. Vir Towerinne. Vir ‘n stort wat in ‘n honderdjarigehuisie ingebou is vir die eerste keer. ‘n Vrou wat haar man bystaan in moeilike situasies soos heuning uithaal. Die voorreg om te kan bloos as dit nodig is. Die vier Toweraars: Mnr Toorts, Mnr Krap, Beertjie en Neef. Liefde en vriendskap. Ons het besef dat ons almal op een of ander manier familie is … maar moet eerder nie vra hoe nie! 😎 ‘n Mens mag vir jou ekstra familie kies as jy wil, hoekom dan nie?

Daar was poeding ook, maar lyk my die fotograwe het moeg geraak.

Ja, ons het heerlik gekuier. Ja, ons het heerlik gesels. Ja, ons het dit baie geniet. Natuurlik het ons die een Towerinstorie na die ander herleef.

En as julle wonder? Dit was vir ons ‘n groot present om julle almal hier te hê.

Toortsie

Ek het nou weer oor die saak gedink

Die naam van my plek. 🤔 Dis ‘n storie, hoor! Ja, ek weet hy het al ‘n naam gekry. Dis nou my Rebusfonteinhuisie waarvan ek praat.

My dorpshuis se naam is Present. En ek hét mos Plesierig gekies vir Rebusfontein. Die Afrikaners is plesierig, dit kan julle glo. Hulle hou van partytjies … Dís waar die fout dan kom! 🙈

My probleem is, ek sukkel om die naam te onthou. Julle weet dit mos! Net soos ek ook nie Alfonso se naam kon onthou nie en nou is hy op pad terug om met Camilla te trou, ewe met ‘n resepteboek onder die arm en ek weet steeds nie wat sy naam is nie!

So, ek het nou só gedink: Kom ons praat sommer net van Toortsie se plek. Sommer net dit. Julle sal mos weet waar my plek is, dan nie? Rebusfontein is mos darem ook nie só groot nie. Dis die huisie met die rooi deur en pot met rooi malvas op die stoep. Die een met die Bali-eend, op pad iewers heen op haar ski’s. Man, daar staan mos ‘n windmeul by die huisie en ‘n ou dikwielfiets, ‘n bycycle wat ek in Namibië gekoop het. Onthou julle?

As julle steeds onseker is, in die kampie wei ‘n donkie en ook Kameel se Blommetjiemelkkoei en haar kalfie!

Ag, ek weet julle sal dit kry. Maar as jy steeds twyfel, luister of jy nie musiek hoor kom uit ‘n huisie nie. Klavier en kitaarmusiek. Ja! Dis hy! Die kans is natuurlik goed dat ek aan die kuier is by iemand anders, maar as jy hier verbyloop en sien ek is tuis, kom in! Voel welkom! Jy hoef nie eers ‘n afspraak te maak nie. Kom net!

Toortsie van Toortsie se plek op Rebusfontein.

Volg al die Towerinne se skrywes op Inlinkz: https://fresh.inlinkz.com/party/942da9e9f0524c6b982439c66cceced1?visitor3

Ek wag vir jou!

Present

Present. Geskenk. Teenwoordig. Ek is teenwoordig. God is teenwoordig. Geskenk vir jou.

Dit was vir my ‘n groot besluit: Moet ons bou, of nie? Wat is die regte ding om te doen? Is dit nie oordadig nie? Wat wil God hê moet ons doen?

Vir lank het ek met God daaroor geworstel. Elke vraag in my hart met Hom bespreek. Gewag op antwoorde van Hom af. Elke moontlik ander opsie oorweeg. Die ontwerp van die huis verander. Na ander huise gekyk. Gedink hoe ons ons bestaande huis kon verander. Wat moet ons maak?

Groot besluite. Die plusse teenoor die minusse opgeweeg.

Die huis was egter al so ver ontwerp. Presies wat ons graag wil hê. Lieflike uitsig. Noordelike front. Koel in die somer. Warm in die winter. Alles wat ons vir ons oudag benodig op een vlak. 100 persent rolstoelvriendelik. Selfs die stort is rolstoelvriendelik. Vir wanneer ons dit mag benodig.

Een nag, tydens my worsteling word ek wakker van ‘n Stem wat vir my sê: “Ek gee dit vir jou. Dis ‘n geskenk.”

Die eerste woorde wat ek die volgende dag toe ons opstaan sê, is: “Ons bou. Dis ‘n geskenk en ‘n geskenk is ‘n geskenk. Ek gaan dit voluit geniet.” Ons hét die bouery geniet, glo dit as jy wil. Elke besluit was ‘n present. Die ligte. Die deure. Die vloere. Die vensters. Die dak. Die kleur. Elke iets ‘n wonderlike geskenk.

My wens? Dat, wanneer iemand in my presenthuis kom kuier, hulle die liefde en gasvryheid daar sal ervaar soos ‘n geskenk. ‘n Present. Dat ons teenwoordig sal wees vir mekaar, vir die persoon. Dat hy voller, meer vervuld daar sal uitstap.

En dis hoe ek oor my Rebusfonteinhuisie ook voel. Die huisie in my verbeelding in ons Towerinne se verbeeldingsdorpie.

Dis wonderlik wat sanitizer doen. Waar ons huisies in een lang straat gestaan het, staan dit nou, nadat dit met Sanitiseerder uitgevee is, bymekaar. Knus. Lekker. Almal bymekaar. Sodat ons lekker kan saamkuier. Met die dorpsmeent in die middel. Lekker!

Rebusfontein se huisie is ook ‘n geskenk. ‘n Present wat Vuurvliegie op 2 Mei vir my gegee het. Nóg ‘n presenthuisie! 🥰

Mag jou kuiers by ons in ons presenthuise altyd soos ‘n present voel.

My prentjie van die Towerinne?

Nie ‘n geslote groep nie. Daar’s altyd plek vir nog. Foto geleen op internet.
Met baie meer as 5. Foto geleen op internet.

Vriendskap is ‘n present van die Here. 😁

Toortsie

Volg al die Towerinne se skrywes op Inlinkz: https://fresh.inlinkz.com/party/942da9e9f0524c6b982439c66cceced1?visitor3

Kuier-safari: Die towerinne kom mos kuier

Die towerinne kom mos kuier. Nie nou al nie, eers aan die einde van die jaar as dit amper krismis is. Veertien van ons is mos op ‘n virtuele toer waar ons by elkeen van ons gaan kuier en trakteer word uit die boeke uit.

En dan, in Desember, kom kuier hulle by ons hier aan die suidpunt van Afrika! Eers by Seegogga, en dan by my. Man, ek sien uit daarna!

Die probleem is net, die héle land is mos daai tyd van die jaar by ons. Dat Afrika nog nooit oor Desember getip het met al die mense gekonsentreer hier onder nie, is ook maar net ‘n wonder. En van wonder gaan die son mos onder, sê hulle, en hulle sê is ‘n vreeslik gevaarlike ding! En sou iemand net waag om daai tyd van die jaar die landkaart te skud, foeter die hele kaboedel in die see!

Die towerinne assosieer my mos met kos, en ek het al so tussen die lyne gelees dat die verwagtinge hoog is. Maar nou toer ek mos ook saam en moes vooruit my beplanning doen, anders skrik ek myself dood as ons by my kom.

So, hier is die voorlopige beplanning. Alles kan natuurlik nog verander intussen, en met die Toortsie is jy ook nie altyd so seker of alles volgens plan gaan verloop nie, sy verras haarself mos keer op keer!

Ek hoop nie hier is vegetariërs tussen ons nie! En die geheimsinnige paparazi sal maar van buite die venster moet sit en kwyl. Sies tog. Ek dink ons moet vir hom maar kossies deur die venster aangee. En net as jul wonder, dit is wel paparazi, nie mamarazi nie. Mamarazi lyk nie so nie. 😂

Die virtuele toer van die towerinne kan op hierdie skakel gevolg word:  http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

Groetnis

Toortsie