stort of bad??

Hierdie is ‘n ou bloginskrywing van 3 September 2012, maar ek plaas dit graag weer, in opdrag van Scrapydo. Ek voeg so ‘n sinnetjie of twee by.

Die slim mense wil dit hê dat ons eerder moet stort want dit gebruik minder water. Maaaaaaarrrrrrrrr…… hulle het my nog nie oortuig nie!

Goed. As jy ‘n bad vol water tap, teenoor iemand wat 2 of 3 minute stort, dan gebruik die stort beslis minder water. Maar wie stort so kort? Seker in die koshuise waar iemand die ander een aanjaag, of daar waar daar ernstige waterbeperkings is. Maar in ‘n gewone huishouding? Is daar iemand wat kyk dat die persoon nie so lank stort nie? En tap die badders regtig die bad tot amper teen die rant?

Ek is ‘n badder. Omdat ek in ‘n huis grootgeword het waar water skaars was, is ek geleer om in min water te bad. Ek tap darem nie meer só min water in as toé nie, maar ek tap nog steeds nie ‘n vol bad nie. Soms vergeet ek om die warm kraan gou genoeg toe te draai, dan is daar op die ou end meer water in die bad as wat ek sou wou intap. Maar normaalweg tap ek hom so onder half, en dan is ek met my groot lyf en al ook nog in hom!! In  daardie bad kan ek lê tot die water koud is. Ek kan my bad, skeer, doen net wat ek wil, en die water raak nie meer nie.

Al wanneer ek stort, is wanneer ek regtig haastig is, of my hare wil was. Dán is dit vinniger en makliker om te stort.

Ek het mos al gesien hoe lank mense kan stort. Dis hare was, conditioner opsit, beenhare skeer, conditioner afwas, sommer net onder die water staan en staan en staan en staan omdat dit so lekker is, en voor jy jou kom kry is die water koud!! 😯

Ongelukkig is ek te lui, maar dalk moet ek self eendag die water opvang en meet en kyk WIE gebruik die meeste water??? Badders of storters?

Het julle dalk al so ‘n toets gedoen?

Toortsie

Toortsie se faceboekblad.