Om te skryf oor dit wat jou ontstel

Scrapydo is tans besig om ‘n kursus te doen oor hoe om oor jou pyn, jou bangwees te skryf. Ek dink dit moet ‘n wonderlike kursus wees, want geen mens word pyn of vrees gevrywaar nie. Ja, ons kan dit ontken, of wegpraat, maar jy is ‘n supermens as jy geen pyn of vrese het nie, dink ek. Christa noem toe in die kommentare dat daar dinge is waaroor sy nie bang is om te skryf nie, maar versigtig is om te publiseer.

Ek kan my met albei vereenselwig. Soms is daar ook goed wat ek wil sê, wil skryf, glad nie bang is om te skryf nie, maar bang is om te publiseer om watter rede ookal. En soms is ek bang om my vrese in die oë te kyk. Tog het ek ook al geleer dat dit die moeite werd is om oor die pyn te skryf. En dat ek my heel beste skryfstukke skryf terwyl ek ‘in’ die pyn is. Terwyl ek die emosie ervaar en presies weet hoe dit op daardie oomblik voel. Die rouheid. Die egtheid daarvan.

Want as ek later daaroor skryf, het daar al weer ‘n velletjie oor gegroei. Is daar ‘n wasigheid. Kan ek net ‘vertel daarvan’ en nie meer in ware woorde uitdruk presies hoe ek gevoel het nie.

So ek het al geleer dat ek baie keer daardie blog skryf. Of ek skryf in my bidboek. Presies hoe ek voel. As dit té sensitief is wat ek in my bidboek geskryf het, skeur ek die blad op in klein stukkies, maar ek het die skryf daarvan gedoen. As ek dit op my blog skryf, stoor ek dit as ‘n konsep. (save draft.) Of as dit gaan oor ‘n sensitiewe onderwerp en iemand mag dalk voel dat ek haar pinpoint, stoor ek dit ook vir ‘n latere geleentheid.

En dan, wanneer ek later weer daarna kyk, skawe ek van die skerp hoekies af. Soos toe ek my kinderjareboek geskryf het, het ek dit aanvanklik rou en sonder filters geskryf. En elke keer wat ek daardeur gelees het, van die skerpigheidjies afgeskawe … en in die proses ook die pyn in my hart se skerp puntjies afgeskawe.

Om dit later te publiseer wanneer die tyd reg is.

Toortsie