Om te skryf oor dit wat jou ontstel

Scrapydo is tans besig om ‘n kursus te doen oor hoe om oor jou pyn, jou bangwees te skryf. Ek dink dit moet ‘n wonderlike kursus wees, want geen mens word pyn of vrees gevrywaar nie. Ja, ons kan dit ontken, of wegpraat, maar jy is ‘n supermens as jy geen pyn of vrese het nie, dink ek. Christa noem toe in die kommentare dat daar dinge is waaroor sy nie bang is om te skryf nie, maar versigtig is om te publiseer.

Ek kan my met albei vereenselwig. Soms is daar ook goed wat ek wil sê, wil skryf, glad nie bang is om te skryf nie, maar bang is om te publiseer om watter rede ookal. En soms is ek bang om my vrese in die oë te kyk. Tog het ek ook al geleer dat dit die moeite werd is om oor die pyn te skryf. En dat ek my heel beste skryfstukke skryf terwyl ek ‘in’ die pyn is. Terwyl ek die emosie ervaar en presies weet hoe dit op daardie oomblik voel. Die rouheid. Die egtheid daarvan.

Want as ek later daaroor skryf, het daar al weer ‘n velletjie oor gegroei. Is daar ‘n wasigheid. Kan ek net ‘vertel daarvan’ en nie meer in ware woorde uitdruk presies hoe ek gevoel het nie.

So ek het al geleer dat ek baie keer daardie blog skryf. Of ek skryf in my bidboek. Presies hoe ek voel. As dit té sensitief is wat ek in my bidboek geskryf het, skeur ek die blad op in klein stukkies, maar ek het die skryf daarvan gedoen. As ek dit op my blog skryf, stoor ek dit as ‘n konsep. (save draft.) Of as dit gaan oor ‘n sensitiewe onderwerp en iemand mag dalk voel dat ek haar pinpoint, stoor ek dit ook vir ‘n latere geleentheid.

En dan, wanneer ek later weer daarna kyk, skawe ek van die skerp hoekies af. Soos toe ek my kinderjareboek geskryf het, het ek dit aanvanklik rou en sonder filters geskryf. En elke keer wat ek daardeur gelees het, van die skerpigheidjies afgeskawe … en in die proses ook die pyn in my hart se skerp puntjies afgeskawe.

Om dit later te publiseer wanneer die tyd reg is.

Toortsie

20 thoughts on “Om te skryf oor dit wat jou ontstel

  1. Ai maar dit was nou n lekker eerlike skrywe. Ek is mal oor jou woorde van “skerp hoekies” en “velletjie”
    Ons het die kere toe ons nog kampe met kinders kon hou, die neerskryf van jou eie sondes daar by die kampvuur gedoen. SONDE. Daarna n praatjie oor hoe God self jou vryspreek. VERLOSSING. Dan die opfrommel daarvan en in die vuur gooi. DANKBAARHEID. Die dankbaarheid is nie net dat die sonde vergeef is nie maar ook dat dit nie gepubliseer is nie. Selfde bevryding wat jy van praat.

    Liked by 2 people

    1. Mnr Nel, dis lekker dat jy inloer! ‘n Vriendin van my het jare gelede vir my vertel dat sy vir haar ma ‘n openlike, eerlike brief moes skryf. En nie, soos ek sommer sou maak dit onmiddellik gestuur het nie. Nee, sy het dit laat lê en weer gelees en elke skerp stukkie of bytende stukkie wat daar nog kon wees, uitgehaal en eers tóé gestuur. Ek leer nog! Hierdie briefies van die kinders in die vuur en die verlossing en die dankbaarheid is wonderlik.

      Like

  2. Ek stem saam daarmee om eers net te skryf soos jy dit beleef en voel. Dae of jare later as mens dit weer lees kan mens meer helderder daaroor dink. Dis wat ek ook bv doen as ek NaNoWriMo skryf doen oor my memoirs. Skryf alles neer en dan kom hersiening. Met my memory healing veral met tieners het hul ook alles neersgeskryf en dan hardop vir my gelees as hul wou, daarna het ons die papier aangesteek en verbrand.

    Liked by 1 person

  3. Toortsie ek maak juis so. Skryf en stoor onder konsepte. Soms net die titel, soms halfpad en somes volledige artikels. Ek beleef wat tans in die wêreld aangaan as ‘n oorlog waarby die hele wêreld betrokke is. En die burgers word tans in twee groepe gedeel. Aangesien geskiedenis my vak op skool was, het ek die nare gevoel dat daar eintlik drie groepe mense gaan ontstaan. En daarom skryf ek en publiseer ek dit nie.

    Liked by 1 person

  4. Toortsie, dis ‘n baie waar ding wat jy nou hier skryf! Ek het so baie joernale (en sommer net papiere) waarin ek my emosies en gevoelens neergepen het … ek sit en wonder nou wat van dit gaan word … jy weet, eendag wanneer ek nie meer hier is nie …
    Maar hoe dit ookal sy, baie daarvan is net neergeskryf omdat ek dit uit my gestel moes kry – soms was dit nie eens ‘n moeilike ding nie, maar mens kry perspektief. Ander kere was dit hartverskeurend … ek is glad nie terughoudend daaroor om oor ons verlies van 5 miskrame (en geen kinders) te praat nie … en al hoe ek dit reggekry het (behalwe nou met die genade van Bo), was om daaroor te skryf – oor en oor en oor. Die pyn vloei letterlik uit jou lyf soos jy skryf … ja, dit vat maande (en dalk soms jare), maar om terug te kyk na hierdie joernale en te sien jy’t oorleef … sjoe, dit is ‘n grootse ding 💌.

    Liked by 1 person

      1. Ja, ek kan maar ruiterlik erken, dit was beslis nie ‘n maklike pad nie … maar om uiteindelik ook as oorwinnaar aan die ander kant uit te kom (deur so baie daaroor te skryf en te praat), is juis ‘n bewys dat dit werk (vir my altans).

        Liked by 1 person

  5. In ‘n seisoen van verlies en rou, is ek nét op my blog regtig emosioneel eerlik. Om daaroor te skryf vorm ‘n belangrike bousteen van my herstelpad. Ek is steeds verstom oor die meelewing wat ek in reaksie op my skribbels van vreemdelinge ontvang. Dit is helend. Dankie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s