Ingelegde Kwepers en Beet

Ek was só bly toe ek kwepers in ons Checkers sien!

Wanneer jy met kwepers werk, moet jy vinnig werk, want sodra jy aan die kweper skil, begin dit verkleur.

Ek gebruik die resep in Kook en Geniet. Hul sê dat jy eers die kwepers moet kook in gewone water, en dan maak jy die suikerstroop waarin jy dit kook. Ek kook dit sommer van die begin af in die stroop.

Ek sien die resep in die Landbouweekblad gee allerhande speserye wat ‘n mens kan bysit. Ek het dit nie gedoen nie, maar dit kan nogals baie lekker wees.

Hoe ek dit doen:

Gooi in ‘n groot bak 4.5 liter water, 4 hoogvol teelepels sout en 25 ml asyn. Hierin gooi jy jou geskilde kwepers solank jy nog besig is om dit voor te berei. Maak elke stukkie goed nat om verkleuring te voorkom.

In ‘n groot kastrol maak jy ‘n middelmatige stroop aan: 1 deel suiker gemeng met twee dele water. Sit dit solank op die stoof en laat die suiker smelt. Bring tot kookpunt. Roer gereeld.

Skrop die skille van die kwepers skoon met die skurwe kant van ‘n sponsie. Sny in wiggies en sny die pitte uit. Skil dit as jy dit verkies. (Ek het ‘n klompie geskil en ‘n klompie ongeskil gelos, en in aparte kastrolle gekook. Aanvanklik het ek gedink dat ek dit nie weer met skille aan sal kook nie, maar dit was tog op die ou end lekker en die manne het dit geëet sonder klagtes.)

20150325_114423[1]Die geskilde/ongeskilde kwepers lê solank in die asyn/soutwater wat jy aangemaak het. Sodra alles klaar geskil en gesny is, gooi jy dit in die kokende stroop. Laat kook totdat dit sag is. Sag, maar tog ferm.

Intussen steriliseer jy die potte. Draai die deksels af en sit dit in die oond by 100ºC. Mens kan dit glo ook in die mikrogolf steriliseer, maar ek volg nog die ou manier. Ek sit ook die deksels in die oond.

Wanneer dit gaar is, word dit onmiddellik gebottel. Skep eers die potte vol van die kwepers en gooi dan die pot heel vol met die stroop.

20150325_132845[1]

Dit kan lank gebêre word. Eet dit as bykos by braaivleis.

…………………………………………………………………………………………..

Ingelegde beet.

DSC08086Ek het een keer my skoonma se beetblatjang resep gegee, wat héérlik is. Dis so ‘n soet-suur beet.

Vandag gee ek die resep vir gewone ingelegde beet.

Kook jou bete gaar, skil af en sny in skywe of rasper dit, of as dit klein beetjies, is, hou dit heel.

Kook in gelyke hoeveelhede water, asyn en suiker. Gooi die gaar beet, soos gesny volgens jou voorkeur, hierby. Laat kook vir 5 minute. Bottel warm.

20150116_205715[1]

Groete

Toorts

Loer by Pinterest waar ek nog skakels na ingelegde kosse gee.

Toortsie se faceboekblad

Toortsie by Finesse: Saam-saam

Beide hierdie resepte is NIE vir mense wat ‘n Lae Koolhidraat Hoë Vet dieet volg nie.

Heerlike somerslaaie

Al hierdie slaaie is heerlik saam met braaivleis of enige ander kos.

Anne-Marie se pienk noedelslaai

Sous:

325ml kookolie

250 ml wit asyn

1 blikkie tamatiepuree (410g)

half kg gekapte uie

Sout, peper, Sweet Basil

500 ml suiker

Kook sous 15 min tot sag. Verdik met 2 tl maizena. Voeg 100 ml mayonnaise by. Gooi oor 500 g skulpnoedels, net sag gekook.

Bottel warm.

Die vrou wat die Tupperware verkoop het, se Appelring

4 groot groen appels, geskil en gerasper (werk vinnig, dit word bruin!!)

30 ml suurlemoensap

2 pakkies groenpruimjellie

1 blik fyn pynappel

kersies en neute

Maak jellie aan met pynappelsap en vul aan tot 500 ml kookwater. Laat afkoel. Voeg res van die bestanddele by en meng deur. Giet in Jel-ring en laat stol.

………………………………………………………………………………………………………….

DSC08086

DSC08088

My skoonma se Beet Blatjang

500 ml asyn

750 ml suker

6 k gaar beet, geskil en in blokkies gesny

2 groot uie, fyn gekap

15 ml kerriepoeier

5 ml sout

45 ml maizena, aangemaak met ‘n bietjie koue water

Meng suiker en asyn saam in ‘n kastrol. Verhit oor lae hitte, roer totdat suiker opgelos is voor dit begin kook. Bring tot kookpunt en voeg beet en uie by. Laat prut vir 10 minute. Voeg die kerriepoeier en sout by en laat prut vir nog 5 minute. Voeg Maizena by en kook goed deur.

Bottel warm.

Dis nou eers genoeg. Lekker eet! Eet is ALTYD lekker! (Vra my, ek weet!) 🙂

Loer by Pinterest vir meer resepte waarna ek verwys.

O ja, net so ‘n na-gedagte. Ek het ‘n koerant gehaal. Die Suidernuus, plaaslike koerant van ‘n klompie dorpe hier aan die Suidpunt. Oor my skryfsel oor die ontstaan van die Voet van Afrika-Marathon.   Darem niks leliks nie, ek is net aangehaal.  Dog ek wou net sê, dis nie iets wat aldag met my gebeur nie. 😉 ❗ 😆 🙂 YES!!!

Groetnis,

Toortsie

Ns. Al bogenoemde resepte kom uit my lewe VOOR BANTING. Nie een van hierdie resepte is geskik vir die Bantingleefstyl nie.

Toortsie by Finesse: Saam-saam

Toortsie se Faceboekpage