‘n Dam onder ‘n eend, of so iets

Laat ek nou sommer met die deur in die huis val, laat ek dit sommer prontuit sê: Ek het totaal vergeet van hierdie idiome-uitdaging wat ek myself opgelê het!

Moet egter nie bekommerd wees nie, ek sal nou nie die dam onder die eend uitruk en ‘n kabaal opskop nie, om die waarheid te sê, ek hoop ook nie een van julle doen dit en dreun my op tot by oom Daantjie in die kalwerhok nie, iets wat ek natuurlik dubbel en dwars verdien as ek met so ‘n loskop rondloop!

En net, indien jy dalk dink om so iets te doen, maak goed seker wat jou motiewe is, dat dit nie dalk net uit suur druiwe is omdat ek wel onthou het nie. Wag! Ek trek sommer net jou been, hoekom sal jy so iets wil doen en dit om so ‘n rede? Ek steek sommer net die draak met jou.

Sou jy dalk so in die stilligheid gedink het, of selfs steeds dink dat hier van hierdie uitdaging dadels van sal kom, wil ek jou tog waarsku om tog maar weer te dink hieroor. Jy mag dalk verkeerd bewys word. Julle het my nou amper op heterdaad betrap met hierdie storie en ek belowe julle, ek sou eerder tien dode sterf, as dit! Ek is so bang soos die duiwel vir die slypsteen dat iemand my ooit sal uitvang dat ek iets verkeerds doen.

Van dood gepraat, gelukkig is hierdie nie ‘n geval van die een se dood is die ander se brood nie, watter verskil sou dit in elk geval maak as ek sou ophou skryf? Mense lees mos maar hulle wil, nie waar nie? My poging om hierdie uitdaging te doen, is ook nie ‘n geval van eerder dood as uit die mode nie, net vir ingeval jy dalk sou wonder.

Nou ja, gee die duiwel wat hom toekom, ou Toortsie probeer darem weer en julle weet mos, probeer is die beste geweer. Dus, hou duime vas, julle kan wraggies nie sê ek is nog nie droog agter die ore nie, dalk, net dalk kry ek tog oor tyd hierdie uitdaging afgehandel. En met ledigheid wat die duiwel se oorkussing is, moet ek nou dadelik aan die werk spring!

Dankie aan Mieliestronk vir hulle hulp met hierdie uitdaging.

En net terloops, hier word ‘n droom nou waar, Capital Singers het nou net hulle musiek gelaai!

Groetnis

Toortsie

My rondtes van Vader Cloete

Dit lyk my daar is net een C-idioom in Afrikaans en dit is die rondte van Vader Cloete. Volgens Mieliestronk is die betekenis: Die rondte van Vader Cloete doen — by almal aangaan wat jy om ’n bepaalde rede wil of moet nader, sonder om iemand oor te slaan.

Ek is nogal lief om die rondte van Vader Cloete te doen. As ek nou aan my rondtes dink, is daar twee wat nou uitstaan.

‘n Hele klompie jare gelede het ek en my ma die pad aangedurf en by haar broers gaan kuier, die een naby Grabouw en die ander een in Somerset-Wes. Wat ‘n wonderlike dag! Ons het te lekker by oom Jurie en tannie Vonnie gekuier en hulle het ons onthaal soos hulle maar nog al die jare doen. Oom Kotie het gebly by dieselfde tehuis waar my ouma in die vroeë tagtigs gebly het. Dit het vir hom baie beteken dat hy sy laaste jare in daardie selfde tehuis kon deurbring. Hy het ook vertel dat wanneer hulle sterwend is, hulle na ‘n sekere kamer geneem word, dieselfde kamer waar ouma oorlede is, en dat hy slaap onder haar kombers en in daardie selfde kombers toegedraai wil word wanneer hy sterf. Die gedagte aan haar het hom baie gerus gestel. Beide hierdie ooms is oorlede, en die tannie woon ook nie meer in die ou plaashuis nie. My ma is ook baie oud en sal nou nie meer so ‘n rit kan onderneem nie.

‘n Ander keer het ek ‘n klompie vriendinne gaan opsoek. Ek het vir my dogter gaan kuier in Stellenbosch en toe die geleentheid gebruik om saam met twee van my ou studentevriendinne te gaan eet. In Durbanville het ek nog ‘n vriendin gaan opsoek en groot hartsdinge gepraat. In die Paarl het ek en my ou skoolmaat saam tee gedrink. My laaste besoekpunt was ‘n baie goeie vriendin wat rugmurgkanker gekry het. Sy was nog onder behandeling en het by haar familie in Wellington gebly. Ek is so dankbaar dat ek haar gaan opsoek het, want kort daarná het haar gesondheid só verswak, hulle het nie meer besoekers toegelaat nie. Dit was die laaste keer wat ek haar gesien het.

Watter rondtes van Vader Cloete bly julle by? Skryf ‘n bietjie daarvan op julle blogs.

En as jy ooit die gedagte kry om so ‘n rondte van Vader Cloete te doen, kan ek net sê: Doen dit! Jy sal nie spyt wees nie. Gaan soek daardie mense op wat jy vir jare nie gesien het nie. Gaan kuier by hulle. Jy sal so bly wees.

Toortsie

Idiome met ‘n B

Die eerste een waaraan ek kan dink, is dat iemand ‘n bok vir sports is, maar ek wonder stilweg of dit ‘n erkende Afrikaanse idioom is?

My man is ‘n regte platjie en bak graag vir iemand ‘n poets. Hy waag dit natuurlik lankal nie meer met my nie, sy kwota is reeds vol!

Deesdae voel dit vir my al hoe meer dat mense ‘n berg van ‘n molshoop maak. Ek weet nie of mense net aandag soek daardeur nie, of hulle dalk nie meer die taal so goed verstaan en dan dinge uit verband uit ruk nie, en of dit dalk deel is van die nuwe mode, om OCD te wees nie. Mense roem mos deesdae daarop dat hulle OCD is, asof dit ‘n prestasie is. Net terloops.

Met die verkiesing op hande, sal daar weer goue berge belowe word deur al wat politieke party is, mense sal om die bos gelei word, alles net om stemme, en saam met dit natuurlik, mag, in die hande te kry. Ná die tyd sal al daardie beloftes vergete wees en sal mense besef die berg het ‘n muis gebaar. Baie min sal van die beloftes kom en die lewe sal weer voortgaan nes altyd. In die meeste gevalle sal dit ook die laaste sien van die blikkantien wees en sal baie van die stemwerwers wat jou so graag besoek het en vriendelik gegroet het, in die niet verdwyn.

Dat dit baie keer waar is, is dat in die land van die blindes, eenoog koning is. Vandag, met inligting wat net ‘n knoppiedruk ver is en binne elke persoon se bereik is, voel dit vir my selfs meer so. Die persoon wat bereid is om ‘n bietjie meer moeite te doen, ‘n ekstra tree te loop, ‘n kans te waag, het baie keer die geleentheid om uit te skiet, en het die een wat bereid is om die ‘knoppie te druk’, die geleentheid om indruk te maak.

Dat bloed dikker is as water, is ‘n gegewe. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie. Ek sien dit in my eie lewe. Presies dieselfde nonsens sal ek opvreet van my naby-familie, maar soms nie duld van ‘n ander persoon nie. .

Soos reeds vertel, was my blus Dinsdag ‘n bietjie uit, maar die vlammetjie brand weer mooi. Van balke saag gaan ek julle niks vertel nie, ek praat nie uit nie.

Van bobbejane gepraat, ek het Maandag nie eers nodig gehad om die bobbejaan agter die bult te loop haal nie, daar was ‘n regte bobbejaan by die erf langs ons huis! Regtig egtig! Maar, om bobbejane agter die bult te loop haal, is om moeilikheid te loop soek wat nog nie eers gebeur het nie. My tannie Essie het egter gesê, sy gaan haal nie die bobbejaan agter die bult nie, sy loop kyk net of hy daar is!

Mooi dag! Los die bobbejane agter die bult, bak mooi broodjies, buig die boompies terwyl hulle nog jonk is, en onthou, hoë bome vang maar die meeste wind, so moenie jou te maklik ontstel nie.

Toortsie

Mieliestronk se lys van Afrikaanse idiome

Lê jou eier oor paddas

Hester het die eerste uitdaging geplaas en ek is baie opgewonde! Ons moet skryf oor een of ander idioom in Afrikaans wat dalk in onbruik geraak het, en sommer ook vertel waar dit vandaan kom. Omdat paddatjies so ‘n groot rol in hierdie hele reeks gaan speel, het ek dit goed gedink om na padda-idiome te kyk.

Ou paddatjie kom aangespring, kwaak, kwaak, kwaak, kwaak, kwaak!

Foto geleen by: http://www.hoezit.co.za/van-n-padda-vere-probeer-pluk/

Die eerste een lyk so: Van ‘n paddda vere probeer pluk, en dit beteken om die onmoontlike te verwag.

Maroela Media sê dat die idioom, So waar soos ‘n padda manel dra uit Nederland kom. In die ou dae het die ouderlinge mos manelle gedra, my pa het ook so ‘n manelpak gehad wat gehou is vir wanneer hy op die kerkraad gedien het. My een seun het by sy matriekafskeid ook ‘n manelpak aangehad en het tog te netjies gelyk! Die oorspronklike uitdrukking was ‘so waar as wat kerkvors manel dra’. Die Afrikaanssprekendes het dit verander nas so waar as wat kikvors manel dra, en sover ek weet, is ‘n kikvors ‘n padda. Nou ja, so waar as wat padda manel dra, beteken dis baie seker.

Om ‘n padda in die keel te hê, beteken dat jy hees is, of ‘n krapperigheid in die keel het. Dis dan wat jy effens keel skoonmaak sodat die padda kan verdwyn. Maroela skryf dat hulle blykbaar in Engeland geglo het dat jy nie staande water moes drink nie omdat jy dan padda-eiers sou insluk in die proses. Ons glo dit natuurlik nog steeds dat jy nie staande water moet drink nie. Al manier wat hierdie paddas wat in jou maag uitbroei, sou uitkom, was deur die keel! Genade! En, skryf Maroela, dat keelinfeksies in die Middeleeue met ‘n lewendige padda behandel was wat in die keel gesit is! Sjoe, hoe dankbaar is ek nou dat ons nie meer in die Middeleeue leef nie!

Louis Malherbe het gepraat van ‘n padda in die pyp wat jou gekniehalter het as jy iets of iemand nie kon vergewe nie.

As jy dikmond is, lyk jy soos ‘n opgeblaasde padda, en om so skurf soos ‘n padda te wees, is ook nie eintlik ‘n kompliment nie. Is jy met jou mond so skurf soos ‘n padda, of is dit jou lyf wat so skurf is?

Hoor hierdie interessante een: ‘n Stomp mes word ‘n paddaslagter genoem, omdat dit die enigste ding is wat ‘n stomp mes sal kan sny. (Ek dink in my laai lê ‘n hele klomp van hulle!

Ondersteun hierdie inisiatief van Hester en gaan skryf jou idioom in Afrikaans en laat hierdeur Afrikaans blom!

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Elke vasgeleentheid is uniek

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

“Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

 

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.

Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.”