Peulgroente en Banting

Na aanleiding van ‘n gesprek wat ek met iemand gehad het.

Ons mag nie peulgroente eet nie. Dit sluit in lensies, boontjies, ertjies, kekerertjies, ens. Wanneer boontjies en ertjies nog jonk en in die groen peul is, mag ons dit saam met die peul eet, soos groenboontjies op allerlei maniere voorgesit, en jong groenertjies in die peul in slaai.

Sodra die doppe egter droog is en net die sade oor is, mag ons dit nie meer eet nie. Dan is die suikerinhoud daarvan te hoog. Ek dink dat die groen peul wat saam geëet word, veroorsaak dat jy nie so baie van die pitte inneem nie.

‘n Ander voorbeeld is sonneblomme. Ons mag die sonneblomsade in ons kos gebruik en in gebak saam met ander sade, maar nie die olie alleen nie. In die olie is elemente wat nie goed is vir ons nie. Daardie elemente is ook in die saad, ja, want die olie in mos in die saad, maar baie min. Sodra die olie uitgepars is, kry jy dit in gekonsentreerde hoeveelheid in en baie meer as wat jou liggaam kan hanteer.

Terwyl ek nou ‘n bietjie na die rooilysitems kyk, droë vrugte is ‘n besliste nee. Waar vars vrugte nog op die oranje lys is en jy soos een appel per dag mag eet, is droëvrugte nie toelaatbaar nie. Die vog is dalk uit, maar die suiker is steeds daar en ‘n mens is geneig om ‘n hele paar droë perskes te eet, baie meer as wat jy van die varses sou eet. En dadels is ook uit, die suikerinhoud is baie hoog daarvan. Ek weet, ja, ek was net so lief vir dadels en droë vrugte.

As jy nie Bant nie, mag jy natuurlik maak wat jy wil en ek gaan nie oor jou skouer loer wat jy doen nie.

Groete

Toortsie

moedelose verslanker…

Ek dink enige een wat al probeer verslank het, kan getuig dat hy op een of ander stadium, of selfs verskeie kere, afgedwaal het, of moedeloos geraak het, in ‘n vergryping gekom het….

Vandat ek begin het om op my eie weer die WW eetplan te volg, was daar nog nie een week wat hier nie een of ander afleiding was nie. Ons was by Club Mykonons, het gaste gehad vir ‘n naweek, het gedoop, het in Pretoria rondgery, groot funksies gehad, noem maar op. Ek het by myself besluit dat ek myself nie so erg gaan straf nie. Natuurlik gaan ek myself nie totaal vergryp nie, maar ek gaan sulke tye nie punte tel nie, net om daarná dan maar net weer voluit te gaan met die program. Dit bring natuurlik mee dat die gewigsverlies nie heeltemal so vinnig is soos ek dit sou wou hê nie, maar tog werk dit vir my.

Maar sommige dae….. sukkel ek net om te fokus!!! Veral nadat ek verjaar het en daar nog baie sjokoladekoek en die romerigste kaaskoeke waaraan jy kan dink, oorgebly het… het die naweek ‘n laaaaangnaweek geword…….

Ek het al agter gekom  dat ek soms dink ek het nou heeltemal die pad byster geraak. Al wat dan eintlik nodig is, is om die papier waarop ek aanteken wat ek eet, nader te trek, en te gaan sit en dink wat hét ek nou alles geëet, dit neer te skryf en die res van die dag dan net beter te beplan. Net my sokkies van voor af op te trek……

Maklik? Beslis nie!

Ander dae gaan dit weer goed!! 🙂 Sterkte vir almal wat besig is met dieselfde tipe poging. Ons moet net konsentreer, vasbyt, kop hou, moed hou….. ons kan dit maak!!

tandedeurgebyttoorts

ns. Die heel belangrikste ding as jy wel by ‘n klub is en gaan weeg – AS jy nie ‘n goeie week gehad het nie en die kans staan dat jy dalk opgetel het, GAAN WEEG STEEDS! Moenie wegbly van die weegsessies af nie. Deur na die klas te gaan, is die gouste wat jy weer op dreef kom. Deur weg te bly, vererger jy net die situasie.

Sterkte!

Drieboneslaai

Meng:

3 blikke groenbone, gedreineer

3 blike Bone in Tamatiesous, gedreineer

3 blikke botterbone, gedreineer

125 ml asyn

125 ml olie

125 ml suiker

125 ml uie, gekap (kan meer ook gebruik)

125 ml soetrissie, gekap

10 ml droë mostert

10 ml sweet basil.

Laat staan vir 3 ure vir bestanddele om te meng. Dit hou lank in die yskas. 2 Hoë eetlepels vol tel 1 ¼ punt. Heerlik en baie veselryk.