Skuldgevoel en genade

Ek lees tans Sabbatsreis van Annelie Botes wat handel oor die jaar wat sy ‘n ouma opgepas het in Engeland en ek voel skuldig omdat ek nie genoeg doen vir my eie bejaarde ma en skoonma nie. Ek is ‘n swak versorger en hoe verder ek lees, hoe skuldiger voel ek. Ek voel amper net so pateties soos die patetiese vrou wie se ma dit is. Hoor hier dis ‘n fantastiese boek, julle moet dit regtig lees, ek kan dit amper nie neersit nie.

Terselfdertyd voel ek dankbaarder by die sekond vir die uitstekende versorging wat my twee ma’s geniet by ons ouetehuis. Elke oggend kom trek hulle my ma’s aan, maak hulle netjies vir die dag, sorg dat die kamers skoon en netjies is. Hulle sit by my ma om te verseker dat sy haar kos eet en hulle kyk dat sy die nodige water inneem en wat sy ookal nodig het.

Ek is nie een wat piekel om ‘n persoon nie en my ma het ook nooit daarvan gehou as daar die hele tyd om haar getrippel word nie. Skielik het sy ‘n massiewe terugslag en kan ek maar net by haar gaan sit en haar probeer kalmeer.

Maar ons vakansieplanne is reeds bespreek en betaal en met ‘n swaar hart vertrek ons. Toe ons omtrent duisend kilometers van die huis af is, kom die oproep: My ma het nog meer verswak en moet gehospitaliseer word.

Die skuldgevoelens loop hoog: Al is ek nie ‘n oppieper nie, is my plek nou langs my ma se bed, en soos die sekondes aanloop, ry ons net verder van haar af.

Laatmiddag bel ek die hospitaal waar hulle my verseker dat sy rustiger is en begin reageer op die medikasie. Ons gesels tog te lekker op die foon. Van die kleinkinders belowe om daar te gaan inloer en ek het my planne reg om ‘n vriendin te vra om daagliks by haar te gaan inloer sodra sy terug is

Ek kan nie anders nie as om te dink: Dankie vir platteland. Dankie vir wonderlike mense wat raakvat waar jy nie kan nie. Dankie vir ‘n Here wat kyk.

Toortsie

Behoeftes rondom ‘n ouer in die ouetehuis

Ek het al voorheen geskryf dat ek soms baie dom voel ten opsigte van wat ek vir my ouers in die ouetehuis moet doen en wat moet ek los. Waar trek ek die streep? Wanneer oortree ek?

My ma beweeg baie moeilik. Sy loop met ‘n loopraam. Dalk moet ek begin dink daaraan om ‘n rolstoel aan te skaf vir die een of twee keer wat ons ‘n bietjie dorp toe gaan. Sy is 87 en het nog ‘n behoefte om soms in die winkels te kom.

Dis vir haar H E E R L I K om gou vinnig vir middagete uitgeneem te word. Sy het altyd van mooi en smaakvolle plekke gehou, so as ‘n mooi en smaakvolle eetplek ‘swaarloopvriendelik’ is, kan hulle weet dat ons daar sal ondersteun. 🙂

By ons Checkerssentrum is daar ‘n eetplekkie waar ons nogals graag eet. Dis nie té ver van die rolstoelparkering af nie, die loopstukkie gaan maar baie stadig en moeilik, maar sy geniet dit altyd só dat dit steeds die moeite werd is. Bekendes wat sy nooit meer sien nie, loop daar verby en kom sê hello. Dit gee haar sommer weer moed om aan te gaan.

Parking-handicapMaar nou is daar ‘n probleem, daar is baie selfsugtige, arrogante, lui mense wat op die rolstoelparkeerplekke parkeer. Dit bring mee dat sy dan óf baie verder moet loop, of anders moet ons dit los omdat daar nie geskikte parkeerplek is nie.

Wat ek verskriklik waardeer is mense wat hulle dienste in die ouetehuis aanbied. Die dame wat haar hare geknip het al die jare, is steeds gewillig om haar hare te versorg in haar kamer in die ouetehuis. 🙂 Is dit nie fantasties nie?

Om in klerewinkels te kom, bly maar ‘n groot taak. Daarvoor is ek weer vir Felicity op Struisbaai so dankbaar. Sy is bereid om ‘n hele oggend af te staan om vir ouma geklee te kry. Sy sal selfs kledingstukke ‘op sig’ stuur om haar te help.

Daar was ‘n dame wat soms in my ma se kamer gaan sit het vir ‘n dag en haar klere verstel het. So iets waardeer ek so baie, want om haar by die kleremaakster te kry, eers vir meet, dan vir aanpas, is regtig ‘n moeilike storie.

Is jy dalk werkloos en het dalk so iets wat jy kan doen, is dit dalk net die beginpunt. Dit word nie verwag dat jy dit gratis moet doen nie!

Groete

Toortsie

Toortsie by Finesse: Die foto of die storie

Toortsie se Bantingboerekosboek

Toortsie se faceboekblad

Leiding aan kinders en familie van bejaardes

Toe my kinders klein was, kon ek baie boeke te koop kry oor ouerleiding, hulp vir ouers van babas en kleuters. Toe my kinders groot word en begin trou, het ek ‘n ernstige behoefte gevoel aan ouerleiding vir ouers van volwasse kinders. Ek weet dat daar iewers in een of ander tydskrif iets was, wat ek soos ‘n spons opgesuig het. My besef van die groot behoefte daaraan, die foute wat ek self gemaak het en steeds maak en nog baie ander dinge het my genoop om te begin skryf daaroor. Ek kon my opinies neerpen, al was dit baie keer verkeerd, al werk dit in die een situasie, maar in die volgende glad nie. U kan hier lees wat ek oor hierdie onderwerp skryf.

Ek besef egter dat hier ‘n ander veld is waarvan ek net mooi NIKS weet nie. Ek het twee ma’s in die ouetehuis. Beide van hulle verswak en die hulp raak nodiger. Die een besef sy verswak, die ander een nie.

Die vrae wat ek in my kop het, is:

  1. Ek wil hulle steeds die nodige resek gee wat hulle toekom, hoe ver staan ek terug en laat hulle toe om hulle eie besluite te neem? In watter gevalle moet ek oorneem en die besluit neem, wanneer moet ek eerder terugstaan?
  2. Ek glo dat ek steeds verantwoordelik is vir my bejaarde kinders se versorging, selfs al is hulle in die ouetehuis. Ek is nie ‘n kontrolevraat nie, so wanneer staan ek terug vir die ouetehuis om dinge te doen, en wanneer is dit my verantwoordelikheid? Wanneer word dit wat ek doen of nie doen nie, gesien as inmenging, en wanneer word dit gesien as gebrek aan belangstelling?

Wat word van my as familielid van ‘n bejaarde verwag? Ek wens daar was ‘n handleiding. Die tehuis vir bejaardes waar my twee moeders bly, gee wonderlike inligtingsdae vir die familielede, wat ek jammerlik moet erken dat ek dit baie keer mis. Hulle stuur ook briewe uit wat baie behulpsaam is.

Ek weet van die blogmaats is al in aftree-oorde. Wil julle nie vir ons skryf hoe julle as ouer mense in aftree-oorde dit beleef nie? Wat sal julle graag van julle kinders verlang? Hoe betrokke wil julle graag hê hulle moet wees? Eintlik dink ek dis nie waar die probleem lê nie, dit begin wanneer die bejaardes regtig begin verswak.

Dalk is hier mense wat in ouetehuise en ander versorgingsoorde werk wat graag ‘n bydrae wil maak. Wat sal julle graag wil hê moet familie van bejaardes doen? Ek praat nie van die gewone aandag gee aan hulle, die kom kuier nie, maar waaraan wil julle hê moet ons aandag gee?

Dankie!

Toortsie