Wat het toe uiteindelik gehelp?

Nee, ek weet nie! Ná ‘n maand van asma en toe bors en simpelheid, dink ek dat ek dit begin afskud. Ag ja, die asma sal seker maar altyd soos ‘n brullende leeu kyk wanneer hy my kan plattrek, maar ek dink dat my lewe weer meer na normaal kan terugkeer. Ek het steeds ‘n groot sensitiwiteit vir ‘n koue luggie wat trek of koue lug wat ek inasem en moet maar veral baie versigtig vir die aandlug wees. (Ek moes nou die aand in die kerk letterlik agter die klavier skuil toe die deure oop was.) Tot tyd en wyl my lugweë weer gemaklik raak.

Maar wat het toe uiteindelik gehelp? Kyk, in hierdie afgelope maand is ek deur letterlik álles. Asmapompie (wat ‘n bietjie kortisoon bevat), nog ‘n ander asmapompie wat weetniewatnie bevat, antibiotika (sommer behoorlike bomme), ACC 200, Andolex C. Hoesstroop vir bronchi..something. Net as ek dink dat ek begin beter word, asem ek ‘n koue luggie in en is ek sieker as voorheen.

Dis tóé wat ek kruie probeer. Dis peppermenttee, boegoetee, gemmertee. Asmatee met lavendula soesies, marribium vulgare, mentha species, plantogo off, symphytum off, uritica urens. En as jy nie die name verstaan nie, ek belowe jou, ek verstaan dit ook nie. Al wat ek jou kan sê, is dat dit nog baie erger smaak as wat dit klink! Aaklig verby! Dít saam met die Vics onder my voete en op my bors gesmeer, ‘n eetlepelvol klapperolie soggens en saans. As iemand raad gegee het, het ek dit gegryp! (Ek het net nie met ‘n aartappel in die bed geslaap nie. Dís dalk die probleem!)

Die dokter het ‘n kroniese asmapil voorgeskryf wat ek saans moes drink, maar ek dink wat die deurslag gegee het, is die anti-allergiepil wat ek soggens moet drink. Dan is daar nog A Vogel se asmadruppeltjies en Vitamien C, sommer 1000 mg, en Echinaforce.

Die kans is goed dat ek sommer nog van die goete vergeet het ook. Maar die ergste is dat ek nie altyd kan onthou of ek die goete wel gedrink het nie!

En dan is daar nog die genade van die Here ook. Seker die grootste bydrae van almal!

Die grootste uitdaging bly steeds om by die huis te bly as daar gejag word. Ek trek my maar net ekstra dik aan, sit ‘n mus op my kop, draai ‘n serp oor my mond as die bakkie se deur oopgaan.

En ek begin nou weer oefening inkry deur in die middel van die dag, as die son lekker skyn, te gaan stap. Hier by ons waai middae 4 nm ‘n lelike koue windjie. Nie goed nie, daardie windjie nie.

Dit wil lyk of daar weer LUG in die tonnel is!

Toortsie

33 thoughts on “Wat het toe uiteindelik gehelp?

    1. Ek kry by tye asma. Die probleem is dat die gebruik van die pompie my so hees maak, ek kan amper nie meer sing nie. My bors was sommer lelik nat, maar dis nou heeltemal reg. Ja, dit was nou Pinkstertyd, so ek het maar in die aand buite gekom, maar probeer om binne te bly as dit enigsins koud is en dit help beslis. Nee wat, ek is aan die herstel. Ek gaan nou kyk of ek die berg gestap kan kry. Sal nie myself onnodig druk nie en omdraai as dit te erg is. Dis darem nie ‘n vergelyking met waar ek en jy gestap het nie!

      Like

  1. Partykeer neem ‘n mens se liggaam bietjie langer om te herstel … en dan moet ons maar geduldig wees. En dit kan beslis nie skade doen om die kruie middels uit te haal nie – maar og, die smaak is nie altyd nie wense nie. Boegoe (of is dit buchu?) tee is iets wat altyd in ons huis is (maar ek drink dit beslis nie vir die lekkerte nie). En ‘n bietjie Vicks onder die voete (ai, my ouma het so geglo in hierdie boereraat) 😊. Ek het self asma, maar dis gelukkig onder beheer (solank ek daai asma wieletjie gebruik – een maal per dag) en as dit net dalk wil handuit ruk (gewoonlik in hooikoors seisoen), drink ek net ‘n paar allergie pilletjies.
    Ek’s bly jy is beter … vat dit rustig en begin stadig met jou stappies. Sterkte 💌.

    Liked by 1 person

  2. Dis omtrent n gedoente. Ek glo natuurlik aan knoffel. Drink elke dag gemmer en suurlemoen tee. Gemmer is ook goed vir birs en soos jy se, oefening om longe beter te laat asemhaal is ook belangrik. Jy’ t omtrent n stryd gehad om daar oor te kom. Hoop jy kry hom nou eers weer regtig gestop.

    Liked by 2 people

  3. Ai, Toortsie… toe weet ons nie eers jy sukkel om asem te kry nie. En as daai ding eers kielie in jou keelgat… dan sit hy. Ek dink ek moet al hierdie rate neerskryf 😁😁sodat mens maar op die lys af sluk en smeer en drink totdat iets gebeur. Ek glimlag, want baie jare terug het ‘n tannie my vertel vd vics onder die voete, op die bors en op die rug. Ek doen dit nou nog as daar moeilikheid kom. Ek hoop jou lyf raak sterk en immuun teen die skerp in die lug. Tydens Pinkster het almal vir my gelag, want ek het sommer ‘n wolserp oor die kop om my ore toe te hou, en om die nek. Warm bly is my motto, maak nie saak hoe ek lyk nie.

    Liked by 1 person

    1. Dankie. Weet jy, ek het nog nie gesukkel om asem te kry nie. Dit was net ongelooflik baie vog op die bors. Nou is dit gelukkig weg. Nog bietjie benoudheid, maar nie te erg nie. Ek sink mense het my vreemd aangekyk by die Pinkster. Ek het klavier gespeel maar heeltyd terwyl ek speel so vreemd geduik. Jy weet mos dis koud in die kerk as al die deure oopstaan.

      Liked by 1 person

  4. Hoop jy is al 100 % gesond. Ja, ek was ook Feb & Maart chronies siek met sinusitus. Nou chroniese neussproei wat ek gebruik. Toe Mei Covid, so ek koes ook nou vir die koue luggie. Asb. tog wil ek die res van die winter gesond bly.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s