Dialoog 1 – die kombersie

Hierdie jaar was die skryfwerkkompetisie van die VLV ‘n dialoog tussen ouma en kleinkind. Hierdie was my eerste dialoog wat ek geskryf het, maar dit kon nooit genoeg oemf na my sin kry nie. Ek het dit nie ingestuur nie:

As ek weer kon …

Sara: (Nuuskierig)  Ouma, hierdie is so ’n lekker kombersie. Waar het Ouma dit gekry?

Ouma:  (Liefdevol)     Ouma het dit self gehekel, my kind. Ek noem dit die Askieskombersie.

Sara:   (Fronsend)  Askieskombersie? Hoekom dan, Ouma?

Ouma:       Dit is ’n askieskombersie omdat hy aanmekaar om verskoning moes vra. 

Sara:       Hoekom moes hy dan verskoning vra, Ouma?

Ouma:       Omdat hy nie so mooi is nie, want sy blokkies lyk almal anders en is nie almal ewe groot nie.

Sara: (Skamerig)         Maar dit is vir my mooi, Ouma.

Ouma: (Glimlaggend)       Dankie, my lief, maar dit is nie hoe ’n mens veronderstel is om te hekel nie. Jou werk moet eenvormig wees en die blokkies moet by mekaar pas. Hierdie kombersie is baie deurmekaar, maar hy het beslis karakter.

Sara:   (Nuuskierig)      Wat is karakter, Ouma?

Ouma:       In die hele wêreld sal jy nie nog een kombersie kry wat presies so lyk nie. Hy lyk soos hy graag wil lyk, heeltemal anders as al die ander.

Sara:    (Fronsend)     Hoekom het Ouma dan so ’n deurmekaar kombersie gehekel wat nie soos al Ouma se ander mooi hekelwerkies lyk nie?

Ouma:  (Met lekkerkry)     Weet jy, Sara, dit was een van die heel lekkerste goed wat ouma nog ooit gehekel het. Ek het altyd die mense se gesigte dopgehou as hulle dit vir die eerste keer sien terwyl dit nog nie klaar was nie. Hulle kon nie hulle oë glo nie. Dit het soos ‘n legkaart gelyk wat ouma besig was om te pak. 

Sara: (Gefassineerd) Regtig, Ouma?

Ouma: (Glimlaggend) Ja! Kom ek vertel vir jou hoekom ek hierdie kombersie gehekel het. Tannie Martjie wou graag haar eie kombersie hekel en ek het haar toe geleer hoe. In die begin was haar blokkies nie almal ewe groot nie. Ouma het besluit dat daardie blokkies wel ’n kombers sou word al verskil hulle. Net daar het ouma begin om aspris blokkies van verskillende groottes te hekel en so kon tannie Martjie se blokkies ook gebruik word.

Sara:   (Snappend)      So Ouma, eintlik het tannie Martjie die kombersie begin en Ouma het dit net klaargemaak?

Ouma:  (Instemmend)     Ja, my kind. Dit is wat dit so lekker gemaak het, want verskillende mense het daaraan gehekel.

Sara: (Nuuskierig)        Wie het almal daaraan gehekel, Ouma?

Ouma:       Ek het die meeste van die blokkies gehekel, maar as tannie Martjie naweke huis toe gekom het, het sy sommer weer ’n paar blokkies gehekel. Jou oumagrootjie, Ouma Christa, het ook ’n paar blokkies gehekel wanneer sy kom kuier het. En sien jy hierdie blokkie wat net rooi en groen is?

Sara:         Ja, Ouma, hy lyk heeltemal anders as die ander blokkies. Hoekom lyk hy so?

Ouma:       Tannie Dorette het by ons kom kuier en wou toe ook graag leer hekel. Dit is die blokkie wat sy gehekel het en sy wou hê dat haar blokkie besonders en anders as al die ander moes wees.

Sara:         Dit is darem oulik, Ouma. Sal Ouma vir my ook leer hekel?

Ouma: (Liefdevol)  Ja, my lief, my ou besige bytjie. Ouma sal jou graag leer. Jy sal dit sommer maklik regkry.

Sara:         Regtig, Ouma? Wie het vir Ouma geleer hekel?

Ouma:       My ouma Ellie het my geleer, maar my ouma Lenie het vir my geleer om ’n patroon te gebruik en as jy eers dít kan regkry kan jy sommer enige ding hekel.

Sara:   (opgewonde)      O, Ouma! Ek kan nie wag om te begin nie!

Ouma:       Hekelwerk is so lekker om te doen. Dit hou jou besig, maar die heel lekkerste is wanneer jy iets klaar het en jy dit kan geniet. Daar was al tye wat ouma baie hartseer was, wat ouma eintlik niks wou doen nie, maar sommer net sit en dink. Dan hekel ouma en voor ouma ouma kom kry, is die hartseer ook sommer weg.

Sara:         Regtig, Ouma?

Ouma:       Ja, my kind. Die lekker gevoel wanneer jy iets klaarmaak, kan ’n mens nie sommer beskryf nie. Dan voel jy sommer goed en is al jou hartseer vergete en wil jy net lag en dans en sing.

Sara:         O, Ouma, dit klink sommer baie lekker!

Ouma:       Ja, dit is! En weet jy, as ek en Oupa so ver ry, sit ek sommer en hekel dan voel die pad nie vir my so lank en ver nie.

Sara:         Sjoe! Ouma is darem slim!

Ouma:       Nee wat, my lief, Ouma is nie so slim nie. Ouma hou maar net daarvan om my hande besig te hou met iets wat mooi en lekker is.

Sara:         Kan ons ook so ’n askieskombersie hekel, Ouma?

Ouma:       Natuurlik, my engel, maar ons kombersie hoef nie verskoning te vra nie. En weet jy wat? Hierdie askieskombersie hoef ook nie ekskuus te sê nie. Ouma is so bly dat ouma dit klaargemaak het, want hierdie kombersie is nie sommer enige kombersie nie. Hierdie kombersie het ’n storie. En weet jy wat nog?

Sara:         Nee, Ouma, wat nog?

Ouma:       Tannie Martjie én tannie Dorette het intussen geleer om pragtig te hekel en hulle maak die mooiste goed. Sê nou net dat hulle nie gehelp hekel het aan hierdie kombersie nie, sou hulle dalk nooit geleer hekel het nie! En daar is nóg iets.

Sara:         Wat is dit, Ouma?

Ouma:       Jou oumagrootjie Christa is nou al oorlede, maar nou het ouma in hierdie kombersie ’n stukkie van haar ook.

Sara: (Nostalgies) Aaaaaaauuuuuuuuuw dis sweet!

Ouma:       En weet jy wat nog?

Sara:  (Moedeloos)     Ai Ouma, Ouma vra te veel ‘wat nog’! Ek weet nie wat nog nie. Kom Ouma, leer nou vir my ook hekel, toe.

Ouma:   (Glimlaggend)   Jy is ook maar lekker ongeduldig, nè? Ouma wil jou sommer opvreet. Ja, kom, laat ons in die wolkas loop kyk van watter wol jy hou. Maar ek wil eers vir jou die laaste ‘wat nog’ sê: As ek weer kon, sou ek dit presies net so gedoen het! Ek sou niks wou anders doen nie. Nou toe, dink jy solank aan ’n naam vir ons kombersie.

990 woorde

18 thoughts on “Dialoog 1 – die kombersie

Gesels saam, asseblief!