Hierdie was die dialoog wat ek ingestuur het vir die VLV skryfkompetisie. Dit het ‘n tweede plek in die Wes Kaap gekry. Nadat die ander dialoog wat ek geskryf het net nie oemf kon kry nie, soek ek een dag kinderstories wat ek geskryf het op my blog om by Christa se bloguitdaging te plak vir haar kinderboek en kom toe op hierdie storie af, wat ek toe aangepas het om aan die VLV se voorskrifte te voldoen. Ons eie Aalsie was die wenner en ek is baie trots op haar!
Dialoog tussen Ouma en Sara:
As ek weer kon …
Ouma: (Opgewonde) Sara! Kom hoor gou hier! Ouma wil vir jou iets vertel wat met my gebeur het!
Sara: (Nuuskierig) Wat, Ouma? Wat het met Ouma gebeur?
Ouma: (Oogvonkelend) Ursula kom roep my nou die dag om gou iets in die tuin te kom kyk. Daar, op die grasperk, staan sowaar ’n bloedrooi helikopter!
Sara: (Wantrouig, tog nuuskierig) Haai, Ouma! Regtig? Ouma, wie is Ursula?
Ouma: (Oortuigend) Dis regtig waar! Ouma sal mos nie vir jou jok nie! Sy sê toe vir my dat ek moet inklim.
Sara: (Bekommerd) Nee! Ouma! Ouma moenie inklim nie!
Ouma: Sy maak die deur oop en ek sien dat daar twee sitplekke is. Ek klim maar in en gaan sit op die passasiersitplek. Ék kan mos nie helikopter ry nie!
Sara: En toe, Ouma?
Ouma: Daar klim Ursula sowaar agter die stuur in! Ek skrik my boeglam en dink, gaan sý die helikopter bestuur? Sy kan mos nie helikopter ry nie? Wat weet sy van helikopterry af?
Sara: (Hoogs benoud) Nee Ouma!
Ouma: Ja, Sara, en voor ek nog kan keer, skakel sy hom aan en die skroef begin draai! Ek wil nog uitklim, maar voor ek kan, begin die helikopter beweeg! Dit gee ’n paar bokspringe, draai al in die rondte en steek amper vas soos ’n steeks donkie. Ons sit met ons neuse amper teen die ruit toe die stert begin lig. Ek gil! Vandag sterf ek!
Sara: (Geskok en gillend) Ouma! Nee! Klim uit! Vinnig!
Ouma: (Met groot oë) Ek kan nie! Skielik voel ek hoe ons begin lig. Ons mis ’n boom se takke net-net en ons lig … en lig … hoog genoeg … en begin vorentoe beweeg! Die volgende oomblik lig ek my voete so vinnig dat my knieë teen my ken kap, dis nou nog seer, so naby vlieg ons oor ’n windpomp!
Sara: Nee, Ouma! Neeee!
Ouma: (Ernstig) Ursula lag net, sy geniet elke oomblik van my bangwees en sê: “Ontspan net, jy sal sien.” Daar vlieg ons, oor die mooiste koringlande in die rigting van die see. Oupa-hulle wat besig is met skape werk, het ons net só staan en kyk terwyl ons vir hulle waai. Ek dink nie hulle het mooi besef wat aangaan nie!
Sara: (Laggend) Oupa het seker gedink dat dit darem ’n snaakse rooi helikopter is.
Ouma: Ja, seker! Ons vlieg toe seelangs en begin dit al meer geniet. Weet jy hoeveel bote is daar in die diepsee? Grotes! Ons waai vir die vissers in die visserbootjies. En die walvisse het sommer water gespuit en met hulle sterte gewaai toe hulle ons sien! Die dolfyne het uit die water gespring van blyheid. Die seemeeue het so al saam met ons gevlieg.
Sara: (Koerend) Aaaaaaaaaaaauuuuuuuu. Dis cute!
Ouma: Ek vra toe vir Ursula wanneer sy dan helikopter leer ry het? Sy lag en sê, “nog nooit. Ek het nie regtig geleer helikopter ry nie. Ek het sommer net ingeklim, dit aangesit en begin vlieg.” “Wat!?”, vra ek, “en sê nou hier kom ’n fout? Sê nou die enjin gaan dood?” “Dan kyk ons maar wat gebeur”, sê-lag sy. Ek vra haar of sy ooit weet hoe om te land en sy sê sowaar “nee!”
Sara: (Twyfelend) Ouma jok mos nou vir my.
Ouma: (Ondeund) Natuurlik jok ek vir jou! Maar dit is so lekker om vir jou so ’n lawwe storie te vertel!
Sara: (Effens kwaad) Sies Ouma, dit is nie mooi nie. En wíé is Ursula? Ek hèt al gevra.
Ouma: Sy is my Alter Ego.
Sara: (Steeds effens kwaad) Ouma! Ouma is nie snaaks nie! Wat is ’n Alter Ego?
Ouma: (Liefdevol) Saralief, my Alter Ego is eintlik maar net my ander ek. Dis soos nog ’n ek, maar nie heeltemal ek nie.
Sara: (Kopskuddend) Ouma is vandag so anders. Ek verstaan nie vandag vir Ouma nie.
Ouma: (Glimlaggend) Ag, Sara, ouma is nie anders nie. Of dalk ís ouma se kop so effens deurmekaar, maar dit maak ook glad nie saak nie. Kom sit hier op my skoot sodat ek jou kan liefie. Dit is sommer net lekker om vir jou ’n lawwe storie te vertel, want jy kan jou tog so inleef daarin. Jy is ouma se mooiste pop en ouma is só bitter lief vir jou.
Sara: (Gekoester) En hoeveel is Ouma lief vir my?
Ouma: (Liefdevol) Baie meer as al die sterre in die hele wêreld en die maan en die son ook nog by! Ek kan eintlik nie eers tot daar tel nie. Is jy darem ’n bietjie lief vir ouma ook?
Sara: (Styf teen ouma gedruk) Ja, Ouma, Oumakepouma.
Ouma: Hoeveel?
Sara: Ook al die sterre en die son en die maan, maar nog al die visse in die see ook by. Én al die sandkorreltjies ook nog.
Ouma: (Kielie Sara se maag) Dankie, my liefste, liefste pop. En weet jy wat? As ek weer kon, sou ek vir jou wéér hierdie storie vertel het, en sommer nog baie ander stories ook! Én sou ek weer in die helikopter geklim het.
Sara: (Albei arms om ouma se lyf) Oumaaaaa!
857 woorde
❤ Dis lekker om weer van Ursula te hoor!
LikeLiked by 1 person
My lewe was in gevaar!
LikeLiked by 1 person
Ja!!!! Fran, ek stem saam, dis baie lekker om weer van Ursula te hoor!💃
LikeLiked by 1 person
Sy kan net regtig minder waaghalsig wees!
LikeLike
Nog steeds vir my baie oulik!
LikeLiked by 1 person
Dankie my ou mater.
LikeLike
Baie geluk met darie 2de prys.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie.
LikeLike
Ja! HOERA!!
LikeLiked by 1 person
Ek is bly jy het ‘n prys hiervoor gewen. Skryf aan … ons wil nog stories lees!
LikeLiked by 1 person
Hoe moedig jy my nou aan! Dankie!
LikeLike
Baie geluk! oulik.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie
LikeLiked by 1 person
Dis baie sweet vertel.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie 😁
LikeLike
Welkom! Ek het jou lanklaas hier gewaar. 😀
LikeLiked by 1 person
Dis baie oulik geskryf en het beslis daardie prys verdien. Aitsa! 👏👏👏
LikeLike
Baie dankie, ek waardeer dit opreg.
LikeLike
👏👏
LikeLike