Ek wonder hoeveel keer het ek al

Ek hou mos van die waarheid. Die onopgesmukte waarheid. Die een sonder te veel polering. As kind en as jongmens het ek die volle waarheid gepraat, ek hoop dat ek dit vandag nog doen. Die reguit waarheid. Soos wat dit uit my hart gekom het, op die oomblik. Reguit, en baie keer totaal onsensitief. Dit maak mense egter ongemaklik. Oor jare het ek takt probeer aanleer. Het ek geleer om partykeer eerder stil te bly. Die woorde te dink, maar nie te sê nie. Of woorde te oordink voor ek dit sê. Of dit glad nie te sê nie en oor tyd al hoe meer gefrustreerd te raak sodat ek dit op die ou end wel sê, onoordeelkundig sê, mespuntskerp sê.

Dit is dalk die rede hoekom ek so van Angus Buchan hou. Angus praat die waarheid soos wat dit in die Woord staan. Vreesloos. Nie verdraaid soos wat die mensdom daarvan hou nie, maar die regte waarheid. Terloops, ek voel soms dat die Woord so verdraai word om die mense gelukkig te hou, maar ook dít werk nie. Die mense is steeds nie gelukkig nie en ‘n verdraaide woord is net ‘n verdraaide woord, niks anders nie.

As kind en as jongmens het ek vir tannie Mags du Toit gehad. Sy het ook net die waarheid geken. As ek twyfel oor iets of kompromië wou aangaan, kon ek maar net vir tannie Mags vra. Sy sou sonder huiwering vir my die waarheid antwoord.

‘n Blogger wat ek graag lees, is Minister Aldtric Johnson. O, hy praat ook die waarheid. Hy draai nie doekies om nie. Op sy mooi manier weet jy presies wat in die Bybel staan en hoe ek, Toortsie, nog soveel het om te leer. Waar ek nog ‘n bietjie skuurwerk moet doen. Sonder om my te laat voel asof ek die slegste mens, die grootste sondaar is wat bestaan.

Kyk nou net na hierdie bloginskrywing van hom: When the devil uses us against our loved ones. Ja. Hy, die duiwel, doen dit. Hy misbruik ons in ons verhoudings. Soos wat hy vir Petrus wou misbruik om die Here te laat afsien van die idee dat Hy gekruisig sou word. Hy misbruik ons sodat ons fokus afgetrek kan word van die Here af. Hy misbruik ons om eerder stil te bly ‘ter wille van die vrede’ en sodoende sonde toe te laat in plaas daarvan om dit te keer. Ons hou ons geliefdes soms terug wanneer hulle die Here voluit wil dien (ons is Christene, maar nie só erg nie). Ons maak selfs mense seer omdat hulle iemand wat ons liefhet, seergemaak het.

Ja, die duiwel gebruik ons in ons verhoudings om sonde toe te laat. Hy doen dit ook met my. Baie keer. Soveel van die goed wat Minister Jonhson daar genoem het, doen ek ook. Ek bly stil as ons kerk homoseksuele huwelike wil toelaat en die sinode nie die ruggraat het om te sê dat dit sonde is nie, maar verwag dat elke gemeente hulle eie keuse daaroor maak. Ek oordink soms woorde te veel en gebruik nie die woorde wat die Heilige Gees vir my gee nie.

Ons almal verskil. Ons almal se Geestelike Gawes, ons Geestelike roeping, verskil. My roeping as profeet, en dit beteken nie dat ek profesië uitspreek nie, vra van my om die waarheid te praat. Om te sê as ons dinge begin skeeftrek. Om selfs soms dinge te sê wat ons, ook ek, nie graag wil hoor nie. Dit is juis omdat God vir my hierdie spesifieke eienskappe gegee het, dat ek sekere dinge fyn waarneem. Dat ek moeilikheid myle ver sien aankom. Dat ek buite die boks dink, selfs heeltemal vreemd dink en vreemd voorkom. Dat ek nie sommer vasgehou wil word deur tradisie nie en ongemaklik raak as dit voel of iets stagneer. Dat ek patrone in gebeure en gedrag makliker raaksien. Dit maak dat ek baie sensitief is vir ander se gevoelens, en as ek dan die ongemaklike waarheid gepraat het, vir dae daarna slegvoel omdat die ander persoon sleg voel.

Ek wonder hoeveel keer in my lewe, ek wil amper sê hoeveel keer per dag ek presies doen waarvan Minister Johnsen praat. Wat ek nie my roeping uitleef nie. Wat ek eerder stilbly. En die ergste is, wanneer ek op die ou end ernstig ‘uitgehaal’ word, is dit baie keer juis omdat ek nie my roeping uitgeleef het nie.

Toortsie

3 thoughts on “Ek wonder hoeveel keer het ek al

  1. Dis ‘n groot mond vol wat jy nou hier praat. Die versoeking om nie op te tree of net die waarheid te verdraai is beslis die grootste probleem waarom die duiwel floreer. Ek voel saam met jou dat jy amper slegter voel as die persoon waarmee jy gepraat het. Is ons nie maar so aanmekaar gesit om dinge so diep en ernsig op te neem nie? Tog as jy die waarheid praat is dit die regte ding, die duiwel probeer sy twyfel saadjie orals plant.

    Liked by 1 person

  2. Ek hou van mense wat reguit is en die waarheid praat en dinge se soos dit is. Ek verkies dit so, nie mense wat probeer doekies omdraai en verskonings probeer uitdink nie – hoe kan jy weet wanneer om so ‘n persoon te vertrou? Ek is ook so, ek is dalk meer sensitief oor hoe om dinge vir ander te se en soms sal ek dalk eerder stil bly as om iets te se, maar andersins hou ek van die waarheid en die waarheid alleen. Ek verkies mense is reguit en eerlik met my ook. Met sulke mense weet jy waar jy staan ook. Aand en more-praatjies sal altyd ooreenstem met hulle.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!