Hare – NaNoWriMo2019

Kyk, as iemand my behoorlik wou omkrap, eintlik steeds wil omkrap, moet hulle iets sê oor my hare. Want iewers in my lewe het te veel mense gedink hulle het ‘n sê oor my hare. Dalk het hulle alle rede daartoe gehad, maar dit was totaal ongevraagd. 

Deesdae kán ek sê dat ek lekker hare het, dis sterk en stewig, dit het ‘body’, ek het baie hare. Solank ek by die reëls hou. Solank ek dit baie gereeld laat knip by iemand wat weet wat sy doen. Solank ek dit kort hou. Ek kan nie eksperimenteer met allerhande style nie, maar binne baie streng beperkinge kan hulle redelik maak wat hulle wil. Kort style. Ek blaas nie my hare droog nie, dit moet in ‘n styl geknip word wat dit sommer net gelos kan word en self besluit wat hulle wil doen. Dán het ek lekker hare. Probeer ek enige iets anders doen, is dit ‘n mislukking. 

In my kinderjare het die haarkapsters nie geweet hoe om my hare lekker te knip nie. Dalk het hulle geweet, maar was die instruksies nie reg gegee nie. Dalk het ek dit nie gereeld genoeg laat knip nie. Dalk het ek dit te lank laat word. Dalk het ek ook maar nie geweet nie. Dalk het my ma nie geweet nie. 

Soos enige dogtertjie wou ek my hare laat groei. Wat ‘n fiasko! Krullerige hare laat hulle nie sommer net groei nie. Ja, ek het vriendinne met pragtige lang, krullerige hare, maar om daar te kom is geen grap nie. Hoe langer my hare word, hoe meer bosserig raak dit. Dit wat ‘n mens sien, raak nie noodwendig langer nie, dit raak net digter, meer krullerig, soos ‘n matras. Die krulle krul net meer en meer en raak meer onbeheerbaar. 

Vandag weet ek dat die geheim daarin lê om dit net uit te los, nie te borsel nie, want om krulhare te borsel, beteken net chaos. Dis aaklig. Dit lyk sleg. Die onnet krulle wat almal in hulle eie rigting staan, is pragtig, maar daarvoor moet jy moed hê. Jy moet ook moed hê om almal rondom jou te trotseer wat jou hare in ‘n netjieser styl te wil druk, wat jou hare met ‘n kam of ‘n borsel wil bydam. “Madelé, gaan kam jou hare,” was ‘n woord wat ek gereeld uit my pa se mond gehoor het, maar hy kon dit maar gesê het, uit sy mond het ek enige iets aanvaar. En dan het ek dit gedoen. Gehoorsaam. Dan maak ‘n mens se hare sulke kartels, soos in die outydse flieks. 

My dogter het my geleer van krulhare. Kleintyd het ek nie kans gesien om ‘n borsel daarin te druk nie, dit het te seer gemaak. Sy het my geleer om dit sommer net te los. Ek wonder of sy ‘n borsel besit? Deesdae dam sy dit by met ‘n GHD yster, die enigste soort yster wat wel iets aan die krulle kan doen.

Ek het nogal my hare lank laat groei en het in standerd drie mooi lang poniesterte gehad. Op ‘n stadium is die krulle swaar genoeg en begin dit wel uithang, vertoon dit langer. Ek het dit mooi beheer deur dit vas te maak. Iewers het ek egter gejeuk om dit af te sny. Groot fout, want toe moet dit weer beheer word. Gereeld geknip word. 

In standerd ses was ons een naweek in Stellenbosch by tannie Audrey-hulle en toe laat sny my ma my hare daar. In ‘n pragtige styl. Hanteerbaar. My hare kon doen wat hulle wou, want dit was lieflik kort gesny. Dit het ‘n verandering in my hele bestaan gemaak. Skielik het ons dorp se haarkapsters ook geweet wat om te doen en hoe om dit te knip. My instruksie? Knip al die hare ewe lank. Ek dink nie dis presies wat hulle gedoen het nie, maar hulle het verstaan wat ek bedoel. 

Tog wou ek dit steeds soms weer laat groei en dan was dit eers die bosserige stadium, dan die vasmaak in die kortste, aakligste bokstertjies. Soms het ek dit met ‘n middelpaadjie gedra met twee kammetjies weggesteek. Dit het net gewerk totdat ‘n prefek ontdek het dat my hare eintlik baie lank is al hang dit nog nie oor my rok se kraag nie, dan moes ek dit weer vasmaak. 

Ek was in die koshuis en in die koshuis lewe ons soos ‘n gesin saam. Dogters is baie nader aan mekaar as wat hulle dalk in die skoolopset sou wees. Ons hier in die Kaap is ook baie meer uitgesproke en noem ‘n ding op die naam. Dit het ek eers besef toe ons Transvalers in ons bybelstudiegroep gekry het en hulle oë telkens gerek het as iemand uit die bloute sommer net iets sê. In ons bybelstudiegroep is dit in elk geval glad nie snaaks dat iemand op die mees ernstigste en heiligste oomblik iets lafs en onheiligs kan kwytraak nie.

Dit was dus glad nie vreemd dat van die ander koshuiskinders vir my probeer vertel het hoe ek my hare moet dra nie. En dalk was hulle heeltemal reg in hulle opinie, ek wou ook maar net soms iets anders doen met my hare. My hare het ‘n taboé onderwerp geword. ‘n Sensitiewe punt. Praat van my hare en daar groei baie vinnig slagtande en lang naels. Gevaarlike tande en naels.

Die toppunt was toe ek een dag in die eetsaal hoor hoe die klomp drie tafels verder my hare bespreek. Ek het vir hulle uitgelos, hoekom kon hulle nie my hare uitlos nie? Die gevolg is dat ek vandag nog nie regtig mense in my hare verdra nie.

Nou die dag loop ek vir Saretta Augustyn in die winkel raak, ons was klasmaats. Haar hare is selfs meer krulleriger as myne. Hier vertel sy vir my dat ek die toonaangewer was wat haarstyle aanbetref. Tik my om met ‘n veer! Sy onthou selfs die haarkapper in Stellenbosch se naam by wie ek my hare laat knip het. Henry, sê sy. Kan jy nou meer! Vertel dit nou op my oudag vir my nadat ek my lewe lank onder hierdie kapsel swaargekry het! Sy sê hulle het almal so begeer om in Stellenbosch by Henry ‘n draai te kon maak. Sies tog, sy en haar suster het regtig erg krulle gehad. 

Op ons ouderdom verloor ‘n mens mos ook maar van jou hare, ek het ook, maar het steeds baie. Nou die dag by die haarkapster staan ‘n vrou in ongeloof en kyk hoe my haarkapster my hare uitdun. Minder maak. Haar oë het letterlik gerek terwyl die haarkapster met ‘n uitdunsker woes en wild knip net waar dit voorkom. Dit terwyl sy aan elkeen van haar dun haartjies moet klou net om dit na iets te laat lyk. Dalk is daar tog ‘n seën in my hare en moes ek dit maar net eers self ontdek? 

Of dalk is dit maar net nou ‘n slag my beurt? Wie sal weet?

Toortsie

NaNoWriMo2019 staan op 43 667 woorde.

11 thoughts on “Hare – NaNoWriMo2019

  1. Hoe geniet ek nou hierdie harestorie van jou! Ek het drie vriendinne wat amper geen hare het nie. Gelukkig is myne nog dik en volop, maar so reguit soos stokkies. Ek kla nie.Wanneer ek hulle kopvelle sien, besef ek hoe dankbaar ek moet wees.

    Liked by 1 person

  2. Ek het breipatroon hare. Sulke Knit one purl one slip one hare. Die een lot le plat die volgende krul uit buitentoe en ander weer krul binne toe. So ek moet behoorlik inklim met die haardroeer en borsel om dit na iets te laat lyk. Ongelukkig het die haarkapster twee weke gelede so baldadig ingeklim dat nie eers die kleinste borsel wat ek het dit kan vasvat nie. Nou moet ek maar gel en blaas en met die hand manipuleer.

    Like

Gesels saam, asseblief!