Dis net ‘n kous

So, ek dra nou ‘n kous. ‘n Chirurgiese kous. Aan net een van my bene.

Ek moet die kous eers vir ses maande permanent dra. Ook nie permanent nie, vir twee derdes van die tyd. Saans as ek gaan slaap, haal ek dit af en môre-oggend as ek opstaan, sit ek hom weer aan. Doktersbevele.

Wanneer die ses maande om is, moet ek dit steeds soveel as moontlik dra. En dís waar ek soms ‘n bietjie angs of afgryse in ander se oë sien.

Mag ek julle iets vertel? Die kous pla my nie regtig nie. Dis vleeskleur, net tot by my knie en my tone is oop. Ja, dis nie onsigbaar nie en iemand wat fyn kyk, sal dit beslis opmerk. Ek dink tog dat dit nie vreeslik afwys op ‘n afstand nie, en as dit wys, wat dan?

Die somer en die warm dae lê nog voor, ek weet nie wat ek dán gaan sê nie. Ek is lief vir kniebroeke en het ook ‘n paar rokke tot by die knie, ek dink nie dit sal goed lyk met die kous nie. Dan eerder driekwartbroeke en langer rokke. Ek dra sandale en dis tog nie so opsigtelik nie.

Ek wonder of ek nie gekleurde kouse kan bestel nie? Rooies en donkerblou? Wat van gestreep in die helderste van kleure? Kolle?As die kous dan sigbaar is, hoekom dit nie behoorlik sigbaar maak nie?

Wanneer die ses maande om is, dink ek, sal ek dalk as ek ‘n korter rok dra die dag, die kous aanhou by my huis, maar as ek uitgaan, dit maar uittrek. Net die tyd sal leer.

Maar intussen is ek dankbaar. Soveel mense loop met kunsbene, arms of bene in gips, nekstutte. Daar is mense wat permanent in ‘n rolstoel is of aan ‘n bed vasgekluister. Dus, wat is een ou kniekousie regtig om oor te kla?

Mooi dag

Die vrou met die kous

28 thoughts on “Dis net ‘n kous

  1. Ek moes ook die kous storie dra aan beide bene.. spierwit soos in witgeskrik, en dit nogal na my Hartklep operasie.. dit is maar terwille van bloedklonte en so aan.. maaar behoede ek het my flou gespook om dit aan te trek.. ek hoef dit darem nie meer te dra nie, Dit het man en kind geneem om my gekous te kry..

    Liked by 1 person

  2. Ek gaan dalk nou te vinnig praat maar ek is seker ek het iewers op een of ander sosiale blad gekleurdes gesien….maar dalk het ek my verbeel…ek sal tog gaan loer…

    Liked by 1 person

    1. My mond is groot. Ek weet nie of ek die moed sal hê om hulle te dra nie. Dis nogal baie duur kouse en gekleurdes sal seker nóg duurder wees. Dis nogal ‘n storie. Jou bene word gemeet en daar is verskillende klasse kouse wat meer of minder druk, afhangende van jou probleem.

      Like

  3. Oulap se rooi maak mooi. So het Ouma altyd gesê. My een vriend het jonktyd kous gedra, vir trombose. Dertig jaar later verstaan ek steeds nie.

    Myself het gister ‘n ekstra ysterbeen bygekry. Is ons oud genoeg vir lappoppe en bliksoldate nou?

    Like

Gesels saam, asseblief!